Renault se Koleos opgeknap

0 Comments

Renault het pas die jongste weergawe van sy Koleos sportnutsvoertuig in Suid-Afrika bekendgestel.

Die nuwe Koleos is die laaste model wat Renault se nuwe ontwerprigting, wat in 2012 met die Clio tot stand gekom het, weerspieël. Volgens mnr. Laurens van den Acker, die senior-visepresident van Renault se korporatiewe ontwerp, was die doel om ‘n elegante, dinamiese en moderne sportnutsvoertuig te skep. Volgens hom is die nuwe Koleos nie net ‘n sportnutsvoertuig nie, maar ‘n Renault in die ware sin van die woord.

Aan die voorkant van die nuwe Koleos is daar ‘n herontwerptre sierrooster met chroom-insetsels asook misligte wat met chroom omlyn is. Aan die onderkant is ‘n groter skermplaat wat die Koleos se avontuurlustige aard beklemtoon. Daar is ook C-vormige dagryligte , terwyl sommige modelle met volle ligdiode-kopligte toegerus word. Die agterlig-samestelling strek oor die hele breedte van die agterkant, met die Renault-kenteken in die middel, en krul om die hoeke. Daar is ‘n chroom-insetsel op die agterste stamper, asook twee uitlaatpype en ‘n groter skermplaat as voorheen. Aan die kant is daar breë skermstroke en allooiwiele van 18 duim.

Die binnekant bied ‘n hoë sitposisie en uitstekende sig reg rondom, soos wat kopers van hierdie tipe voertuig verwag, asook ‘n regop voorpaneel met ‘n raakskerm van 7 of 8,7 duim , afhangende van die model. Dit is ten volle geïntegreed is en  beskik oor  Apple Car Play en Android Auto-verbinding . Die klankstelsel kan met stemopdragte werk, asook knoppies op die stuurwiel. Daar is twee kragpunte onder die middel-konsole. Die middel-konsole kan 80 mm vorentoe geskuif word om die beste moontlike bestuursposisie te verseker. Die bagasiebak kan 464 liter hou wanneer die agtersitplek regop is, en ‘n volgrootte-noodwiel is standaard toerusting. Die instrumente-paneel kan op een van vyf maniere verander word om by elkeen se persoonlike voorkeure te pas. 

Die Koleos-reeks is in drie modelle beskikbaar, naamlik die Expression 4×2, die Dynamique 4×2 en die Dynamique 4×4. Al drie modelle word toegerus met dieselfde vier-silinder enjin van 2,5 liter en ‘n palwissel (CVT)-ratkas. Dié enjin lewer 126 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 233 Nm teen 4 000 opm. Volgens die vervaardiger is die gemiddelde brandstof verbruik 8,1 en 8,4 liter per 100 km vir die 4×2 en 4×4-modelle onderskeidelik.

Die Expression het onder meer die volgende kenmerke as standaard toerusting: outomatiese ligdiode-dagryligte, buitespieëls dieselfde kleur as die bakwerk, chroom-deurhandvatsels, ABS-remme met noodremhulp en elektroniese remkrag-verspreiding, bestuurders-, passasiers- en gordynlugsakke, outomatiese kopligte en ruitveërs, dubbelsone-klimaat beheer met luguitlate vir agterste insittendes, agterste parkeer-sensors, ‘n seweduim-raakskerm met Bluetooth, Apple Car Play en Android Auto-verbinding en stembeheer, agterste parkeer-sensors en ‘n aanpasbare digitale instrumente-paneel.

Die Dynamique-modelle voeg onder meer die volgende kenmerke by: elektries verstelbare leersitplekke, ‘n blindekol-monitor, ‘n banddruk-monitor, buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie invou, sleutellose toegang met ‘n handvrye sleutelkaart en ‘n aansit knoppie, parkeer-sensors voor en agter, tesame met ‘n trukamera, atmosferiese beligting binne en’n raakskerm van 8,7 duim.

Die Dynamique 4×4 beskik oor ‘n hoëstrek-funksie en in 4WD Auto-modus word toestande geanaliseer om die maksimum vastrapvermoë te verseker; dit gebruik die inligting tot sy beskikking om  die ideale wringkrag-verspeiding tussen die voor- en agterwiele te verseker, en tot 50% wrinkrag kan na die agterwiele gestuur word indien nodig. Die 4WD Lock-modus stel die bestuurder in staat om teen snelhede van minder 40km/h na permanente vierwiel-aandrywing oor te skakel.  Die X-Tronic-ratkas werk anders as gewone palwissel-ratkaste deurdat dit eerder soos ‘n outomatiese ratkas met veelvuldige verhoudings werk wanneer daar vinnig versnel moet word. Terselfdetyd sorg die ratkas vir moeitelose ratwisseling wanneer daar geleidelik versnel word, soos in swaar verkeer. Die bestuurder het ook die keuse van ‘n sekwensiële modus met sewe gange om voordeel uit die enjin-remming te trek.

Verskeie kleure is vir die Koleos-reeks beskikbaar, naamlik wit, silwer, beige, grys, blou en swart. Al die modelle spog met allooiwiele van 18 duim; die Dynamique se wiele spog met ‘n twee-kleur ontwerp. 

Die Koleos-reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km, ‘n waarborg teen korrosie van ses jaar en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km. 

Die pryse van die verskillende  modelle lyk só:
Renault Koleos Expression 2,5 CVT 4×2:  R 424 900
Renault Koleos Dynamique 2,5 CVT 4×2: R 474 900
Renault Koleos Dynamique 2,5 CVT 4×4: R 514 900

 

Metaalverf kos R 2 522 ekstra en leerbekleedsel kan teen R 12 000 ekstra vir die Expression bestel word.

Categories:
%d bloggers like this: