Renault se Kwid opgeknap vir 2020

0 Comments

Sedert die aanvanklike bekendstelling van die Renault Kwid in Suid-Afrika in 2016 is altesaam 27 700 eenhede reeds in die land verkoop.

Nou het Renault ingrypende veranderinge aan sy intreevlak-modelreeks aangekondig en daarmee hoop hy om ‘n groter indruk op plaaslike kopers te maak. Die Kwid-reeks bestaan, soos voorheen, uit drie spesifikasie-vlakke, naamlik die Expression, die Dynamique en die Climber.

Die nuwe Kwid spog met ‘n aantal belangrike verskille in vergelyking met sy voorganger, en die belangrikste hiervan is dat die wiele van 13 na 14  duim vergroot is hoewel daar steeds net drie wielmoere is. Dit verbeter nie net sy grondvry-hoogte nie maar ook sy padhou-vermoë en maak hom baie veiliger as die vorige model. Die vooraansig is heeltemal nuut, en daar is lidgiode-dagryligte aan weerskante van die sierrooster tesame met groter kopligte. Die agterligte maak ook van ligdiode-tegnologie gebruik.

Aan die binnekant spog die Kwid met sekere kenmerke wat nie gewoonlik in intreevlak-motors aangetref word nie.  Die Expression is weer eens die intreemodel in die reeks en beskik oor kenmerke soos ‘n digitale instrumente-paneel, lugversorging, elektriese vensters voor, ‘n ritrekenaar, ‘n radio met Bluetooth-verbinding, ‘n USB- AUX en 12-volt-kragpunt en houers in die deure wat groot genoeg vir eenliterbottels is.

Die Dynamique was eers die vlagskip, maar met die toevoeging van die Climber het dit die middelste model geword. Veral hierdie model het ‘n spul bykomende kenmerke wat nie altyd in hierdie marksegment beskikbaar is nie, bygekry. Daar is nou ‘n trukamera met riglyne, agterste parkeersensors, ‘n agtduim-multi-mediaskerm met Bluetooth-verbinding, Android Auto- en Apple Car Play, ‘n USB-kragpunt wat ‘n selfoon vining laai, elektriese vensters agter en elektries verstelbare buitespieëls.

Die vlagskip van die reeks is die Climber.  Hierdie model beskik oor grys veelspeek-wiele, dakspore met oranje insetsels, oranje buitespieëls en voorste en agterste skermplate met oranje insetsels. Aan die binnekant van die Climber is daar ‘n stuurwiel met die Climber-kenteken en oranje insetsels, swart en oranje bekleedsel, ‘n swart en oranje rathefboom en oranje afwerking op die deure.

Die vorige model se enjin en ratkaste bly onveranderd. Die hele reeks word aangedryf deur ‘n een-liter enjin van drie silinders wat 50 kW teen 5 500 opm en wrinkgrqg van 91 Nm teen 4 250 opm. Anders as in die verlede is al drie modelle beskikbaar met ‘n keuse van ‘n hand- of AMT (outomatiese) ratkas met vyf gange elk. 

Die hele Kwid-reeks is ook nou veiliger as ooit, danksy twee lugsakke, ABS-remme met elektroniese remverspreiding, asook ‘n nuwe agteras en 14-duim wiele op al die modelle.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000km insluit en ‘n waarborg teen korrosie van ses jaar insluit, lyk só

 

1,0 SCe Expression: R 144 900

1,0 SCe Expression AMT: R 154 900

1,0 SCe Dynamique: R 154 900

1,0 SCe Dynamique AMT: R 164 900

1,0 SCe Climber: R 164 900
1,0 SCe Climber AMT: R 174 900

Categories:
%d bloggers like this: