Sedert die bekendstelling van die oorspronklike Renault Clio was daar al verskeie verrigtingsmodelle beskikbaar, soos die Clio Williams, wat ontwikkel is om die sukses wat hierdie Formule 1`-vervaardiger met Renault-enjins behaal het, te vier maar wat nooit in Suid-Afrika beskikbaar was nie en die legendariese Clio Sport V6, met ‘n enjin wat agter gemonteer is.

Nou is die jongste weergawe van die hudige Clio-verrigtingsmodel, die RS, beskikbaar. Daar is twee modelle in die RS-reeks, naamlik die RS Lux en die RS Trophy. Albei vervaardigers het die stileringskenmerke wat die RS uniek maak, onder meer groot alloiwiele, dubbele uitlaatpype wat duidelik sigbaar is en stampers wat spesifiek vir die RS ontwerp is. Daar is nuwe LED-kopligte met ‘n kenmerkende C-vorm wat nie net die aandag trek nie, maar ook sigbaarheid verhoog.

Daar is ‘n RS-kenteken aan die voorkant en op die agterklap en die Lux- en Trpohy-modelle het onderskeidelik 17- en 18-duim allooiwiele. Aan die agterkant is daar ‘n drukvlerk, ‘n funksionele luguitlaat en twee uitlaatpype.

Die binneafwerking is van hoogstaande gehalte, en daar is baie klem bestuursgenot en gerief gelê. Daar is rooi afwerking op die luguitlate van die ventilasiestelsel en rooi stiksel of die kous van die rathefboom en handrem, asook op die stuurwiel. Die skottelsitplekke, wat spesifiek vir hierdie modelle ontwikkel is, het die RS-naam in die kopstutte en bykomende lendesteun terwyl die Trophy se sitplekke ook verhit kan word. Albei modelle het satrellietnavigasie, wat deur middel vanj ‘n raakskerm beheer weord, tesame met multimedia en Blutetooth-verbinding. Soos hul stalmaats het  die RS-modelle nie ‘n sleutel nie, maar toegang word verkry deur middel van ‘n kaart, terwyl daar ‘n aansitknoppie op die paneelbord is.

Die twee modelle het verskillende weergawes van dieselfde turboaangejaagde 1,6 liter-petrolenjin met vier silinders. Die Lux is meer geskik vir alledaagse gebruik en die meer veelsydige model in die reeks. Hierdie model lewer 147 kw teen 6 050 opm en 260 Nm teen 2 000 opm.  Die Trophy se enjin is kragtiger en sy krag- en wringkragsyfers is onderskeidelik 162 kW teen 6 050 opm en tussen  260 en 280 Nm teen 2 000 opm.  Hierdie model het ‘n laer  veerstelsel en  allooiwiele van 18 duim. Albei modelle het ‘n EDC-ratkas met ‘n dubbele koppelaar as standaardtoerusting. Die Lux kan ‘n topsnelheid van 230 km/u behaal en in 6,7 sekondes van 0 tot 100 km/u versnel. Die Trophy se syfers is onderskeidelik 235 km/u en 6,6 sekondes.

Albei modelle is klasleiers wat veiligheid betref. Wegtrekbeheer is standaardtoerusting en gee die bestuurder dieselfde gevoel as met ‘n versnelwedren, maar wieltol word tot die minimum beperk. Die elektroniese ewenaar verbeter vastrapvermoë en keer dat die voertuig gly. Daar is ook drie bestuursmodusse om van te kies, naamlik Normal, Sport en Race. Die rooi remknypers is kenmerkend van die RS en verbeter remvermoë aansienlik. Daarby is sluitweerremme, eletroniese remverspreiding en noodremhulp standaardtoerusting.

Die pryse van die twee modelle is R 379 900 vir die Lux en R 419 900 vir die Trophy. Soos met ander Renault-modelle is die waarborg vir vyf jaar of 150 000 km geldig, terwyl ‘n diensplan van drie jaar of 30 000km by die prys ingesluit is.

%d bloggers like this: