Rewolusionêre Opel Kadett

0 Comments
Deur Daantjie Badenhorst.

In die 1970’s het die meeste Europese motor-vervaardigers hul agterwiel-aangedrewe klein motors vervang met voorwiel-aangedrewe modelle, maar ‘n handjievol vervaardigers het lank gewag voordat hulle die sprong gewaag het.

Een daarvan was General Motors, wat eers sy eerste voorwiel-aangedrewe model vir die Europese mark in 1979 bekendgestel het. Die Opel Kadett sou dieselfde naam as sy voorgangers dra, maar dit was waar die ooreenkoms opgehou het. Vir die Britse mark het hy die Vauxhall Astra-naam gekry, maar anders as wat mense dalk sou verwag, was die Astra nie ‘n plaasvervanger vir die Chevette nie, maar eerder ‘n meer moderne alternatief.

In daardie stadium was daar ‘n gaping in General Motors se Suid-Afrikaanse reeks omdat die destydse Kadett C nie hier op die mark gekom het nie. Die Chevrolet Ascona was die intree-model; dit was gebaseer op die Opel Ascona maar met die 1,3 liter-enjin van Vauxhall maar die vraag was of dit regtig ‘n sukses was. Die Hatch, wat op die Vauxhall Chevette gebaseer was en veronderstel was om General Motors se intreemodel te wees, was ‘n volstrekte mislukking en hy het, saam met die 1300/1900-sedan, wat op die Vauxhall Viva gebaseer was, in die vergetelheid verdwyn. General Motors het ‘n nuwe intreevlakmotor nodig gehad, maar dit was nie nodig om veel langer te wag nie.

 

Met die Kadett se internasionale bekendstelling is daar bespiegel oor die naam wat hy in Suid-Afrika sou dra, aangesien Opel se hele reeks wat hier beskikbaar was, die Ascona, die Rekord, die Commodore en die Senator onder die Chevrolet-naam bemark is. In die Januarie 1980-uitgawe het Car aangekondig  dat hy ook in Suid-Afrika as ‘n Opel Kadett bekend sou staan. Die eerste twee modelle, die 1,3 GL en GLS-luikrûe. Daar was twee weergawes van die 1,3 liter-enjin beskikbaar, maar General Motors het besluit om net die kragtiger model, wat 55 kW gelewer het, in Suid-Afrika bekend te stel. Anders as die ander enjins wat destyds in General Motors se Suid-Afrikaanse modelle gebruik is, is hierdie enjin uit Duitsland ingevoer. Die verskille tussen die twee modelle was gering, maar die GLS het onder meer materiaal-sitplekke met kopstutte gehad. Dit was nie lank nie, of die reeks is van twee na ses modelle vergroot. Die 1,2 L is by die reeks gevoeg; benewens die kleiner enjin kon hy onderskei word deur middel van ronde kopligte terwyl ‘n agterste ruitveër weggelaat is. Al drie hierdie modelle was ook nou met ‘n bykomende bakvorm beskikbaar. Die “sedan” het nie ‘n afsonderlike bagasiebak soos byvoorbeeld die destydse Toyota Corolla nie. Hierdie model het steeds die luikrug-vorm gehad, maar met ‘n kleiner bagasiebak-deksel en skarniere onder die kleiner agterruit, soortgelyk aan dié van ‘n Alfa Romeo Alfasud. Voor die einde van 1980 is nog ‘n nuwe model, die Voyage, bygevoeg. Dit was ‘n stasiewa, met die 1,3 liter-enjin en afwerking wat met dié van die GL ooreen-gestem het. Intussen is die Chevrolet Rekord en Chevair ook beskikbaar gestel met enjins soortgelyk aan dié waarmee die oorsese Opel Ascona en Rekord toegerus was.

Die volgende toevoeging tot die plaaslike Kadett-reeks was die 1,3 SR, wat as die sportiewe model beskou kon word al het hy dieselfde enjin as die 1,3-modelle gehad. Die SR het verskeie unieke stilerings-kenmerke gehad, onder meer die 1,2 L se ronde kopligte, bykomende kolligte, allooiwiele en breë swart skermstroke aan die kante. Aan die binnekant het ‘n sportiewe drie-speek stuurwiel, sport-sitplekke en ‘n volledige instrumente-paneel wat ‘n toereteller ingesluit het, hom onderskei. In 1982 het General Motors radikale veranderinge aangekondig wat die hele reeks sou beïnvloed. Die inheemse Chevair is deur die Opel Ascona vervang en die Rekord, Commodore en Senator het die Opel-kenteken gekry terwyl die enjins van die oorsese modelle standaard toerusting geword het nadat General Motors sy enjin-aanleg gesluit het en voortaan alle enjins vir Suid-Afrikaanse modelle sou invoer. Die Kadett-reeks is ook hierdeur geraak; die ongewilde sedan en die 1,3 SR is aan die mark onttrek. Die reeks is egter uitgebrei met die toevoeging van vier 1,6 liter-modelle; die GLS, die Voyage, die SR (wat die 1,3 vervang het) en ‘n nuwe top model bekend as die Berlina. Laasgenoemde model het die SR se allooiwiele en instrumentepaneel gekry, maar die luukse afwering binne en buite was uniek.

In 1984, net meer as ‘n jaar nadat die VW Golf GTI die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel is, het General Motors met ‘n mededinger vorendag gekom.  Die Opel Kadett GTE is in beperkte getalle vervaardig, want binne ‘n jaar sou die Kadett se plaasvervanger verskyn. Die GTE, wat ook aan motorsport deelgeneem het, was net in wit beskikbaar. Hierdie model was toegerus met ‘n petrolingespuite enjin van 1,8 liter; dieselfde een as dié van die destyds nuwe Ascona GSi. 

Die Kadett-reeks het daarna onveranderd gebly totdat die nuwe geslag, wat as die T-reeks bekendgestaan het en nuwe standaarde vir motors in sy prysklas gestel het, in die middel van 1985 bekendgestel is.

Categories:
%d bloggers like this: