Rolls-Royce Cullinan

0 Comments

Omtrent drie jaar gelede het Rolls-Royce aangekondig dat die wêreld se duurste en weelderigste bekendgestel sou word; dit sou voldoen aan die vraag na ‘n voertuig vir diegene wat op soek was na weelde, werkverrigting en veelsydigheid wat nog nooit tevore in die marksegment vir sportnuts-voertuie beskikbaar was nie.

Die gevolg hiervan was die Cullinan, die eerste sportnuts-voertuig wat die Rolls-Royce-naam dra. Die Cullinan kry sy naam van die grootste diamant wat tot nog toe ontdek is en wat nou deel van die Britse kroon juwele uitmaak. Dit is die heel eerste Rolls-Royce met vierwiel aandrywing en word as die veelsydigste model in die geskiedenis van dié Britse weelde-vervaardiger beskou. Die Cullinan is ook die heel eerste Rolls-Royce met agtersitplekke wat kan platslaan asook ‘n agterklap wat in twee dele verdeel is en met die druk van ‘n knoppie op die afstand beheer oop- en toegemaak kan word. Daar is twee keuses vir die agterste insittendes beskikbaar, dit hang af of ‘n mens twee of drie agtersitplekke nodig het. Die Lounge Seat bevat drie agtersitplekke en is meer geskik vir gesinne, terwyl die Individual Seat twee afsonderlike agtersitplekke bevat. Die sitplekke is asimmetries in ‘n 60/40-verhouding verdeel en kan met die druk van ‘n knoppie platgevou word. Die kopstutte vou ook weg om nie aan die rugleunings van die voorsitplekke te raak nie. Daar is tapyt-uitvoering aan die agterkante van die agtersitplekke se rugleunings, wat beteken dat ‘n groot item saam met drie of meer mense vervoer kan word, of dat waardevolle items daarop gebêre kan word.

Die bagasiebak kan 560 liter hou; 600 wanneer die pakkiesrak verwyder word. Die agtersitplekke is anders as in enige ander sportnutsvoertuig, hoër as die vloer van die bagasiebak, om seker te maak dat die bagasie nie vorentoe kan val nie. Wanneer ‘n groot item egter vervoer moet word en die agtersitplekke platgevou word, kan die hoogte van die bagasiebakvloer verstrel word. Wanneer die Individual Seat-opsie gekies word, word die agtersitplekke verdeel deur ‘n vaste konsole met ‘n drankkabinet, ‘n yskas, ‘n wynkraffie en sjampanjeglase. Die Cullinan het nog ‘n unieke kenmerk; wanneer die agtersitplekke regop is, is daar ‘n glaspaneel wat die kajuit en die bagasiebak skei. Dit is geïnspireer deur die tydperk toe mense se bagasie in ‘n aparte kompartement was en nie deel was van die motor se kajuit nie.

Die agterste insittendes sit hoër as die voorstes, en hulle het toegang tot die grootste panoramiese glasdak moontlik. Daar is vyf USB-kragpunte dwarsdeur die kajuit asook ‘n koordlose selfoonlaaier. Die paneelbord is gebruikers vriendelik maar weelderig en daar is oral hout- en metaalafwerking. Die middelkonsole bevagt byoorbeeld stewige, handvervaardigde ,metaalpilare wat ‘n eenheid met die konsole en die boonste paneelbord vorm. Die swart leerafwerking van die boonste deel van die paneelbord skep die indruk van ruimte en maak dat die luguitlate en die wyserhorlosie uitstaan. Die instrumentepaneel bevat ‘n spoedmeter, ‘n brandstof- en temperatuurmeter en ‘n krag-reserwemeter pleks van ‘n toereteller. Daar is ook houtafwerking in die stuurwiel, bokant die paneelkissie en in die deure.

Wanneer die knoppie op die Cullinan se afstandbeheer gedruk word, of wanneer ‘n mens net aan die deurhandvatsel van vlekvrye staal raak, sak die motor met 40 mm om dit makliker te maak om in te klim. Wanneer die aansitknoppie gedruk word, gaan die motor terug na sy normale ryhoogte. Daar is ‘n klein, dik stuurwiel vir die bestuurder en al die sitplekke is verhit en geventileer. Al die nodige inligting word deur middel van ‘n digitale instrumentepaneel en ‘n inligtingskerm in die middel van die kajuit deurgegee. Die kontrole in die middelkonsole waarmee die veldryfunksie, afdraandebeheer en die hoogte van die lugveringstelsel beheer kan word, bevat die bekende Spirit of Ecstasy-embleem. Ander uitstaande kenmerke sluit onder meer ‘n stelsel wat bestuurders help om makliker in die nag te sien, ‘n waarskuwing as daar ‘n hindernis soos ‘n voetganger of dier in die pad is, Wi-Fi-verbinding, ‘n blindekolmonitor asook ‘n waarskuwing as die bestuurder per abuis op die oop pad van baan verwissel, die jongste navigasie- en vermaaklikheidstegnologie, ‘n uitleespaneel tussen die instrumentepaneel en die voorruit wat die beste van sy soort is, asook ‘n waarskuwing wanneer ‘n botsing mag plaasvind of wanneer iets agter die motor verby beweeg.

Die Cullinan se veerstelsel is met een doel voor oë ontwikkel; om die beste rygerief onder alle padtoestande. Die Magic Carpet Ride-stelsel is daarop gemik om die beste rygerief op die pad en in die veld te verseker. Die hoogte van die lugvering kan verstel word en selfs wanneer ‘n swaar vrag  gelaai word, bly die hoogte van die veerstelsel dieselfde.

Die Cullinan beskik oor ‘n V12 -enjin met twee turboaanjaers en ‘n verplasingsinhoud van 6 750 cc. Vroeër jare was Rolls-Royce nie bereid om hul enjins se kraglewering bekend te maak nie, maar dit het intussen verander. Die Cullinan se enjin lewer 420 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 850 Nm teen 1 600 opm. Die topsnelheid van die Cullinan is beperk tot 250 km/h en dit duur 5,2 sekondes om van 0 tot 100 km/h te versnel. Die Cullinan se gemiddelde brandstof verbruik is 15 liter per 100 km.

Die stilering van die Cullinan is onmiskenbaar Rolls-Royce, en die ontwerpers het al die belangrikste onntwerp-kenmerke ingesluit om hom ‘n eiesoortige karakter in sy marksegment te gee. Die regop sierrooster met die bekende Spirit of Ecstasy, wat van die begin af ‘n Rolls-Royce-kenmerk is, is steeds daar, met dun, reghoekige kopligte wat LED-dagryligte bevat, aan weerskante. Soos die modern Ghost en Phantom beskik die Cullinan oor agterdeure wat agter geskarnier is maar sonder dat die B-pilaar ingeboet word. Die agteraansig bevat ‘n gesplete agterklap en twee groot uitlaatpype in die agterstamper.

Soos wat ‘n mens van Rolls-Royce kan verwag, is daar verskeie opsies om van te kies; dit stel die koper om die motor volgens persoonlike behoefte aan te pas. Die prys van die Cullinan is op aanvraag beskikbaar.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: