Rus in vrede, VW Jetta!

Deur Daantjie Badenhorst.

Volkswagen Suid-Afrika het pas aangekondig dat een van sy jarelange staatmakers, die Jetta, aan die mark onttrek is.

Die Jetta is in 1979 by die Frankfurt se Motorskou in Duitsland internasionaal bekend gestel en teen die einde van 1980 ook in Suid-Afrika. Die reeks het aanvanklik uit twee modelle bestaan, naamlik die GL en GLS, wat onderskeidelik met 1,3- en 1,5 liter-enjins toegerus is. In 1983 is die Golf GTi vir die eerste keer in Suid-Afrika en ‘n Jetta GLi, met allooi-wiele, ‘n agterste drukvlerk en dieselfde enjin as die GTi, is dieselfde jaar by die reeks gevoeg. Die volgende jaar is al die modelle, behalwe die GLI, vervang; die GL is deur ‘n LS vervang, die GLS deur ‘n GX en ‘n luukse model, die GLX, is by die reeks gevoeg.

Die Jetta 2 is in 1985 bekendgestel en was ‘n finalis in die eerste Motor-van-die-Jaar-kompetisie. Die reeks het aanvanklik uit drie modelle bestaan; die CSL, met ‘n 1,6 liter-enjin, die CSX, met ‘n 1,8 liter vergasser-enjin en die CLX, met dieselfde enjin as die CSX. Die CLX was ook beskikbaar met ‘n outomatiese ratkas. Die CLi, met dieselfde enjin as die Golf 2 GTi, het later dieselfde jaar gevolg. Die reeks het tot in 1987 dieselfde gebly, totdat die CLI 16 Valve bekendgestel is. Hierdie model was beskikbaar twee modelle, naamlik ‘n gewone een en ‘n Executive, wat elektriese vensters en lugversorging gehad het. Die Golf- en Jetta 2-reekse het vir 1988 ‘n klein maar belangrike verandering ondergaan. Die voorste deure se kantvensters is weggelaat en die buitespieëls is vorentoe geskuif en was baie makliker om te gebruik as voorheen. Die volgende jaar het die CSL en CSX ook ‘n toereteller en ‘n hoogteverstelbare bestuurdersitplek gekry. Met die vergroting van die enjinkapasiteit van die CLI-modelle na twee liter is ‘n nuwe 1,8-model, die CSi, by die reeks gevoeg. Die laaste veranderinge aan die Jetta 2-reeks het in 1991 plaasgevind toe nuwe, groter stampers vir al die modelle aangebring is.

Gedurende die Jetta 2 se modellewe was daar nog ‘n sedan in Volkswagen se Suid-Afrikaanse reeks. In 1987 het die Jetta 1 herleef as die Fox, met ‘n keuse van 1,3- of 1,6 liter-enjins. Laas-genoemde model was ook met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar. Binne ‘n jaar na sy bekendstelling het die Fox groter stampers gekry, en teen die einde van 1990 is ‘n 1,8 liter-model, met dieselfde spesifikasies as die destydse Citi Golf Sport, bekendgestel. Met die hersamestelling van die Citi Golf-reeks in 1992, waartydens die Citi Golf Shuttle as intreemodel bekendgestel is, is ‘n soortgelyke Fox, bekend as die Trippa, by die reeks gevoeg. Die Fox is egter in 1993 stilweg aan die mark onttrek.

Die Jetta 3 is in 1993 in Suid-Afrika bekendgestel, en hierdie keer het die reeks weer eens uit ‘n CSL, CSX en CLi bestaan, maar ‘n nuwe vlagskip het groot belangstelling uitgelok. Die VR 6 was die eerste model met ‘n ses-silinder enjin, en het ‘n enjin-kapasiteit van 2,8 liter gehad. Die reeks het in 1996 ‘n belangrike verandering ondergaan deurdat die CSL en CSX voortaan met brandstof-inspuiting toegerus sou word; dit het saamgeval met stilerings veranderinge aan hierdie modelle. Gedurende die Jetta 3 se modellewe is ‘n goedkoper weergawe, die Jetta CL, gebaseer op die Jetta 2, by die reeks gevoeg.

Die bekendstelling van die Jetta 4 in 1999 het tot ‘n paar veranderinge gelei; die CSL, CSX, CLX en CLi- benamings het plek gemaak vir Standard, Comfortline en Highline. Die enjin-reeks het ook twee nuwighede bevat; benewens die 1,6 – en tweeliter-petrol enjins was ‘n 1,9 liter turbodiesel vir die eerste keer deel van die reeks, maar net die Highline-afwerkling, wat onder meer allooiwiele, lugversorging en elektriese vensters ingesluit het. Die nuwe vlagskip het ‘n kleiner enjin as voorheen gehad; die VR 6 is vervang deur ‘n V5, met ‘n enjinkapasiteit van 2,3 liter. Die enigste verdere verandering aan die reeks was die toevoeging van die Jetta 1,8 T, die eerste model met ‘n turbo aangejaagde petrol enjin. Dit was dieselfde enjin as wat vir die Golf 4 GTI gebruik is en wat groot lof onder motorskrywers gekry het.

In 2006 is die Jetta 5 bekendgestel, en verdere veranderinge het plaasgevind. Die V5 is aan die mark onttrek en die enjin-reeks het bestaan uit die 1,6, 2,0 en 1,9 turbo-diesel uit die Jetta 4, maar die 2,0 FSI, ‘n kragtiger weergawe van die 2,0, asook ‘n 2,0 TDI, is bygevoeg. Die intreemodel het nou as die Trendline bekendgestaan. Die nuwe topmodel was die 2,0 Turbo Sportline, met die keuse van ‘n hand- of DSG-ratkas. Om saam te val met die bekendstelling van die Golf 6 in 2010 is die Jetta 5 toegerus met ‘n nuwe 1,4 liter turbo-petrol enjin; dié nuwe enjin het ‘n alternatief vir die minder kragtige 1,6 gebied en was gou gewild.

In 2013 het die Jetta 6 sy buiging gemaak, en vir die eerste keer was al die modelle met turbo-aangejaagde enjins toegerus. Benewens die bestaande 1,4-liter petrol- en 1,6- en 2,0 turbo-diesel enjins is ‘n nuwe 1,2 TSI-enjin in die plek van die 1,6 bekendgestel. Die verkope van die Jetta het egter in hierdie tyd begin afneem en dit was nie meer die voorkeur-keuse van gesins-motoriste soos wat die geval met vorige geslagte was nie. Die redes hiervoor was dat hy al hoe minder bekostigbaar vir die gewone motoris geword het en dat sportnuts voertuie se gewildheid toegeneem het.

Teen die einde van 2017 is die sewende Jetta bekendgestel, maar dit was altyd duidelik dat hierdie model nie na Suid-Afrika sou kom nie, aangesien dit net in linkerhand-stuur vervaardig word. Dit het beteken dat Volkswagen geen ander keuse gehad het as om die Jetta aan die plaaslike mark te onttrek nie. Die Polo-sedan sal voortaan die enigste sedan in Volkswagen se Suid-Afrikaanse reeks wees.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: