Motorliefhebbers wat hierdie naweek se SA Motoring Experience by die Kyalami-renbaan gaan bywoon, het baie om na uit te sien.

Onder die hoogtepunte is sewe supermotors wat ten toon gestel gaan word; sommige van hulle sal ook op die renbaan te sien wees. ‘n Aston Martin  DB 11 (Sien foto bo), ‘n Mercedes-Benz AMG GTC, ‘n Mc Laren 570S, ‘n Audi R8 en ‘n Lamborghini Aventador S-koepee sal saam met modelle van Porsche en Bentley te sien wees.

Behalwe die supermotors kan besoekers ook uitsien na ‘n uitstalling van meer as 140  klassieke motors en sal met die eienaars kan gesels. Daar is vyftien klubs wie se motors te sien sal wees. Daar sal byvoorbeeld die baie skaars regterhandstuur Renault Alpine A 310 te sien wees. Nog ‘n skaars motor waarna besoekers kan uitsien, is ‘n 1989 Lancia Delta HF Integrale.

‘n DKW F 12, die laaste model wat hierdie bekende naam gedra het, en ‘n weergawe van die Junior, wat hierdie model voorafgegaan het, sal uitgestal word. Sarel van der Merwe het sy motorsportloopbaan begin met so ‘n DKW F 12.

Die DKW F 12 wat onder andere uitgestal gaan word.

Dan kan liefhebbers van Amerikaanse motors uitsien na ‘n onberispelike 1959-model Chevrolet Impala met twee deure.  Benewens gewone passasiersmotors van weleer sal daar ook ‘n paar klassieke renmotors te sien wees, onder meer oorspronklike of gerestoureerde weergawes van die Porsche 917 en ‘n Lola T 70 wat aan Genie Racing behoort.

Onder die klubs wat motors by die SA Motoring Experience gaan uitstal, is die Volvo-eienaarsklub, die Renault-klub ZA, die Mini-eienaarsklub van Suid-Afrika, die  Cobra-klub, die Porsche-klub en die DKW-klub. Die Concourse-klub het onlangs ‘n byeenkoms by Sun City gehou, en van die mooiste motors wat daaraan deelgeneem het, sal ook nou weer uitgestel word.

Om logistiek te vergemaklik, sal daar ‘n pendeldiens tussen die Gautrein-stasie in Midrand en Kyalami wees.

Die SA Motoring Experience word in samewerking met “Car”-tydskrif, AutoTrader, Kyk Net en Radio 94.7 aangebied en kaartjies is teen R 150 by iTickets besklikbaar.