In 2001 het Hyundai die eerste geslag van sy vlagskip-sportnutsvoertuig, die Santa Fe, in Suid-Afrika bekendgestel, en sedertdien is 5 331 eenhede verkoop.

Die vierde geslag van die nuwe Santa Fe is nou beskikbaar en volgens Hyundai se nuwe ontwerper, Luc Donckerwolke, gaan dit die “ambassadeur vir Hyundai se nuwe ontwerprigting” wees. Die nuwe Santa Fe se voorkoms is opvallend, atleties en verfynd en versterk sy posisie aan die bokant van dié vervaardiger se sportnutsvoertuig-reeks. Die Santa Fe is die volgende model wat die nuwe sportnutsvoertuig-voorkoms kry; daar is ‘n groot sierrooster met LED-dagryligte bo en kopligte aan die onderkant. Daar is drie modelle in die reeks; die Premium, wat die intreemodel is, kry halogeenligte en die Executive en die Elite het volle LED-ligte. Die Elute se kopligte draai ook in die rigting van die stuurwiel. Daar is ‘n unieke agterligontwerp en ‘n opvallende agterstamper met twee uitlaatpype. Die Elite word met LED-agterligte toegerus. Daar is drie verskillende tipes allooiwiele beskikbaar. Die Premium het 18-duim wiele en die Executive en Elite het elk 19-duim wiele, maar die ontwerpe verskil.

Hyundai se bekende 2,2 liter CRDI-turbodieselenjin wat 142 kW teen 3 800 opm en wringkrag van 440 Nm teen tussen 1 750 en 2 750 opm lewer, is standaartoerusting vir al drie modelle en ‘n nuwe outomatiese ratkas met agt gange word vir die hele reeks gebruik. Die Elite gebruik Hyundai se HTRAC-vierwielaandrywingstelsel. Hierdie stelsel beheer die verspreiding van wringkrag en die remkrag na die voor- en agterwiele na aanleiding van omstandighede en bied maksimum veiligheid in alle padtoestande.

Die nuwe Santa Fe spog met verskeie veiligheidskenmerke, waarvan sommige nuwe standaarde in hierdie marksegment stel. Die Elite word toegerus met ‘n splinternuwe kenmerk: ‘n sensor wat die insittendes in die tweede en derde ry sitplekke dophou en 24 uur nadat die voertuig wegtrek, in werking kom. Daar is ‘n waarskuwing op die instrumentepaneel wanneer die agtersitplekke dopgehou moet word. Daarby het die Elite ook elektroniese slotte vir kinders se veiligheid. Die Executive en die Elite word ook toegerus met waarskuwings wanneer daar ander voertuie of hindernisse agter die voertuig beweeg, asook ‘n blindekolmonitor. Daar is op hierdie twee modelle ‘n stelsel wat die voertuig se deure tydelik sluit wanneer daar ander voertuie naby is en verseker dat insittendes veilig uit die voertuig kan klim. Die hele reeks word toegerus met ABS-remme, elektroniese stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp en afdraandebeheer. Daar is ses lugsakke . Die Santa Fe het ‘n vyfster-toekenning in die Euro NCAP-veiligheidstoets gekry.

Aan die binnekant het al die modelle ‘n seweduim-raakskerm wat alle media en verbindingsfunksies beheer. Dit sluit Bluetooth-verbinding, Android Auto en Apple Car Play, stembeheer en ‘n trukamera. Die hele reeks is met klimaatbeheer, snelheidsbeheer en leersitplekke toegerus. Die Executive het ‘n elektries verstelbare bestuurdersitplek terwyl albei voorsitplekke van die Elite elektries beheer word. Onder die Elite se unieke standaardkenmerke is ‘n elektries beheerde agterklap, ‘n panoramiese sondak, ratspane agter die stuurwiel waarmee ratte gewissel kan word sonder om ‘n koppelaar te gebruik. ‘n seweduim-instrumentepaneel wat na behoefte aangepas kan word, en geventileerde voorsitplekke wat verhit kan word. Die Executive en die Elite het sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, en buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie kan invou. Die hele reeks het sewe sitplekke.

Die pryse van die nuwe Santa Fe-reeks, wat ‘n waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000km, padbystand van vyf jaar of 90 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km insluit, lyk soos volg:

Santa Fe 2,2 R Premium: R 599 900

Santa Fe 2,2 R Executive: R 659 900

Santa Fe 2,2 R Elite HTRAC: R 749 900

%d bloggers like this: