Sebastian Vettel verlaat Ferrari

0 Comments

Hoewel die 2020 Formule 1-seisoen weens COVID 19 nog nie kon begin nie, is daar reeds groot nuus.

Scuderia Ferrari het aangekondig dat die viermalige wêreld kampioen Sebastian Vettel die span na ses jaar gaan verlaat. Vettel het 14 wedrenne vir Ferrari gewen; die derde meeste naas Michael Schumacher en Niki Lauda. Vetttel het sy kans om vir Ferrari deel te neem as ‘n droom beskou omdat hy Michael Schumacher as kind bewonder het.

In 2015 was Kimi Raikkonen sy spanmaat  en hy het tydens die tweede wedren van daardie seisoen, die Maleisiese Grand Prix, sy eerste oorwinning vir Ferrari behaal. Dit was sy veertigste Grand Prix-oorwinning, een minder as wat Aytron Senna behaal het. Sy tweede oorwinning van die jaar was tydens die Hongaarse Grand Prix en sy derde een was in Singapoer, waar hy vir die eerste keer in ‘n Ferrari voor weggespring het. Hy was daardie jaar derde in die kampioenskap na die twee Mercedes-Benz-jaers. Die volgende jaar kon hy geen oorwinnings behaal nie; dit was die tweede keer in drie jar wat dit met hom gebeur het. 

Hy het sy eerste oorwinning in agttien maande by die Australiese Grand Prix van 2017 behaal en daarna ook in Bahrain en Monaco gewen. In Rusland het Vettel eerste voorste wegspring-posisie in agttien maande behaal, maar hy kon nie keer dat Valtteri Bottas sy eerste wedren wen nie. Sy goeie vertoning van dié jaar, waarin hy eerste of tweede in elke wedren gekom het, het in Kanada geëindig toe hy die wedren in die vierde plek voltooi het nadat hy die kuipe weens ‘n botsing moes besoek. Vettel was toe nog gerieflik voor in die kampioenskap, maar toe Lewis Hamilton in Italië gewen het, was Vettel drie punte agter. Tydens die Singapoer Grand Prix het Vettel weer voor weggespring maar vir die eerste keer in die geskiedenis het albei Ferrari’s binne die eerste rondte aan die wedren onttrek. Hoewel Vettel sy vyfde wedren van die jaar in Brasilië gewen het, het hy vir die eerste keer nie daarin geslaag om ‘n kampioenskap waarin hy voorgeloop het, te wen nie. 

In 2018 het twee viermalige wêreldkampioene, Vettel en Hamilton, saam aan die kampioenskap deelgeneem.  Vir die tweede agtereen-volgende jaar het Vettel in Australië gewen; dit was die honderdste keer wat hy ‘n wedren op die podium voltooi het, en hy was die derde renjaer wat in 3 000 rondtes voorgeloop het.  Sy oorwinning in Bahrain was sy vierde een; ‘n rekord op hierdie renbaan.  Weer eens het Vettel voorgeloop sonder om die kampioenskap te wen, hoewel hy sy vyftigste oorwinning in Kanada behaal het. Hy was maar die derde renjaer in die geskiedenis, naas Alain Prost, Michael Schumacher en Lewis Hamilton, wat dit kon regkry. Sy oorwinning in België was sy 52ste, een meer as Alain Prost, en sy 107 plekke op die podium was net minder as dié van Hamilton en Schumacher.  Hy was tweede in die kampioenskap. In 2019 kon Vettel net een keer wen, naamlik in Singapoer. Sy nuwe spanmaat, Charles Leclerc van Monaco, het meer punte as hy aangeteken; dit was die eerste keer sedert 2014 wat dit met hom gebeur het.

Dit is nog nie seker wie Vettel gaan vervang en vir watter span hy aanstaande jaar gaan deelneem as hy nie uittree nie.

Categories:
%d bloggers like this: