Sestig jaar sedert eerste Lotus-oorwinnig

0 Comments

Op 12 April 2020 het die motorsportwêreld afskeid geneem van die renjaer wat beskou word as die beste renjaer ooit wat nooit ‘n wêreld-kampioenskap kon gewen het nie, toe Sir Stirling Moss in die ouderdom van negentig jaar oorlede is.

Moss het sestien Grand Prix-oorwinnings behaal, en een van sy bestes het sestig jaar gelede op 29 Mei 1960  in Monaco plaasgevind. Die Monaco Grand Prix van 1960 was die eerste van 81 wat die Lotus-span gewen het, en hierdie oorwinning word beskou as die beste van Moss se loopbaan. Moss se oorwinning was twee jaar nadat Cliff Allison in die Lotus 12 sesde in dié span se eerste wedren gekom het.

Dit het daardie dag gereën, maar Moss het nie net Lotus se eerste voorste wegspringplek verseker nie, maar het ook het ‘n byna foutlose vertoning gelewer. Moss het die wedren met byna ‘n minuut gewen, met Bruce McLaren, wat vir die Cooper-span gejaag het, in die tweede plek en die volgende jaar se wêreldkampioen derde in ‘n Ferrari. Die verdedigende wêreldkampioen Jack Brabham, was in ‘n ongeluk betrokke en kon nie jaag nie.  Moss was vinnig maar het nie die enjin te hard laat werk nie want die Monaco-wedren was  destyds drie ure lank.  

Die Lotus 18 was vervaardiger Colin Chapman se eerste “ware” Formule 1-renmotor en was uiters geskik vir Monaco se strate. Die 18 was lig omdat dit uit aluminium vervaardig was en het oor uitstekende padhouvermoë beskik.

Gedurende 1960 het Jim Clark, Innes Ireland en Alan Stacey, wat in ‘n ongeluk tydens die Belgiese Grand Prix dood is, ook met die Lotus 18 gejaag.  Moss se motor is deur die private span-eienaar Rob Walker ingeskryf. Moss was Walker se enigste jaer terwyl die ander motors deur Chapman, Lotus se stigter, ingeskryf is.

Die verhouding tussen Walker en Chapman was tot albei se voordeel en het dwarsdeur die Sestigerjare tot groot suksesse aanleiding gegee. 

Phil Popham, die uitvoerende hoof van Lotus Cars, beskou Moss se oorwinning as die begin van ‘n uiters suksesvolle tydperk in Lotus se geskiedenis. Chapman se seun Clive het die oorwinning as ‘n tipiese Dawid-teen-Goliat-verhaal beskryf; dit het Lotus ‘n belangrike hupstoot gegee. Hy het alle verwagtinge oortref en grense verskuif.

Stirling Moss.

Moss was die renjaer wat die spesiale verhouding tussen Lotus en Monaco ingelui het. Daarna het Lotus met Moss in 1961 gewen, met Graham Hill in 1968 en 1969,  met Jochen Rindt in 1970 , met Ronnie Peterson in 1974 en laastens, met Aytron Senna in 1987. 

Sedert 1960 het ‘n aantal legendariese renjaers wedrenne en kampioenskappe vir Lotus gewen. Jim Clark was twee keer wêreld kampioen, in 1963 en 1965, en het nooit vir ‘n ander span gejaag nie. Graham Hill het sy tweede kampioenskap in 1968, die jaar van Clark se dood, vir Lotus gewen, terwyl Jochen Rindt in 1970 die eerste en tot dusver enigste renjaer geword het wat die kampioenskap postuum kon wen. In 1972 het Emerson Fittipaldi die jongste wêreld kampioen geword, terwyl Mario Andretti die span se laaste wêreld kampioen geword het toe hy die titel in 1978 gewen het. 

Lotus het ook pas ‘n aanlyn-museum, geopen en die Lotus 18 waarmee Moss die Monaco Grand Prix van 1960 gewen het, is een van verskeie geskiedkundige modelle wat uitgestal word. Dit is op media.lotuscars.com te sien; dié webtuiste word voortdurend ontwikkel en bevat ook ‘n biografie van Colin Chapman en ‘n geskiedenis van die maatskappy se hoofkantoor in Hethel, Norfolk.

Lees ook oor Sterling Moss se roemryke loopbaan hier.

Categories:
%d bloggers like this: