Sedert General Motors se onttrekking aan Suid-Afrika in 2017 het die nuwe Opel SA twee sportnutsvoertuie, die Crossland X en die Grandland X, bekendgestel en in 2019 word dié momentum voortgesit met sewe nuwe modelle, wat toevoegings tot die bestaande reeks en splinternuwe modelreekse sal behels.

Die groot nuus is die bekendstelling van die handelsvoertuigafdeling, Opel Commercial. Die eerste model is die Combo, wat in Mei op die Suid-Afrikaanse mark sal kom. Een van die modelle van die Combo-reeks, wat op maatskappy-vlote gemik is, is die 1,6 TD-paneelwa met ‘n kort asafstand, ‘n loonvrag van 600 kg, ‘n skuifdeur sonder ‘n venster aan die linkerkant, ‘n paneel sonder ‘n venster tussen die kajuit en die laairuim, handbeheerde lugversorging, ‘n radio met Bluetooth- en USB-verbinding en vier luidsprekers asook twee lugsakke.

Opel vier in 2019 sy 120ste verjaardag, en ter viering daarvan word ‘n spesiale Corsa 120 Y Special Edition in Maart bekendgestel. Benewens unieke stileringskenmerke sal hierdie model ook bykomende standaardkenmerke soos parkeerhulp voor en agter met ‘n trukamera. ‘n plaat aan die binnekante van die deure met die Opel-naam, spesiale swart doekstofbekleedsel vir die sitplekke en veloermatte met stikwerk wat die woorde 120 Years bevat.

Nog ‘n nuwe toevoeging tot die Corsa-reeks is die GSI, wat in April verwag word. Hierdie model sal toegerus word met ‘n turbo-aangejaagde 1,4 liter-enjin wat 110 kW lewer. Die GSI sal ‘n met ‘n OPC- onderstel toegerus word, asook Recaro-sitplekke en ‘n sportstuurwiel.

Die Astra-reeks sal vergroot word met die toevoeging van ‘n 1,6 T Sport met ‘n outomatiese ratkas. Hierdie nuweling sal ook ‘n OPC Line-pakket binne en buite bevat. Die binnekant kry ‘n sportmodus- skakelaar, allooipedale en ‘n leerstuurwiel. Die Astra 1,0 T kry ‘n IntelliLink-aanboordrekenaar en die 1,4 T Enjoy sal voortaan met sleutellose toegang, gevorderde parkeerhulp, ‘n tukamera, ‘n elektroniese parkeerrem en ‘n blindekolsensor toegerus word.

Die Crossland X-reeks sal ook uitgebrei word, met die toevoeging van ‘n Enjoy wat met ‘n 1,6 liter turbodieselenjin toegerus word. Daarby sal die spesifikasievlak van die Grandland X 1,6 Enjoy verbeter word deurdat dié model van Maart af met 18-duim-allooiwiele, voorste misligte, vedonkerde glas agter en dakrelings toegerus sal word. Die Grandland X 1,6 Enjoy Plus-pakket sal ook by die reeks gevoeg; hierdie model kry ‘n panoramiese sondak, satellietnavigasie, ‘n 900 IntelliLink-inligting-en-vermaakstelsel en leersitplekke met ‘n winterpakket.

Die jaar word afgesluit met die bekendstelling van die nuwe Vivaro in November.

%d bloggers like this: