Suid-Afrikaanse bakkieliefhebbers het iets opwindends om na uit te sien, want ‘n baie spesiale bakkie, wat eintlik baie meer as net ‘n bakkie is, is op pad na Suid-Afrika,

Die uitvoerende hoof van Shelby Suid-Afrika, die voormalige kragboot- en motorrenjaer Peter Lindenberg, het aangekondig dat die Ford Shelby F 150 in beperkte getalle na Suid-Afrika uitgevoer sal word.  Die omskakeling na regterhandstuur sal in Shelby se Superformance-aanleg in Port Elizabeth uitgevoer word. Die Shelby F 150 sal in Suid-Afrika beskikbaar wees in ‘n standaard-weergawe met ‘n enjin wat 565 kW lewer, asook ‘n weergawe met Baja-afwerking en ‘n Fox-veerstelsel.

Peter Lindenberg

“Die Shelby F 150 bied genoeg ruimte vir almal en alles wat jou soos die koning van die wêreld agter die stuur laat voel, en terwyl hy die vermoëns het om avontuurrite te onderneem, is hy steeds gesofistikeerd genoeg om die stad rooi te verf,” sê Lindenberg.  Hy beskou die bekendstelling van die Shelby F 150 as ‘n geleentheid vir Suid-Afrikaanse motoriste om ‘n stukkie bakkie-geskiedenis te besit en hy stel voor dat voornemende kopers hul bestellings so gou moontlik plaas om teleurstelling te voorkom.  Slegs 500 Shelby F 150’s sal wêreldwyd beskikbaar wees en elkeen sal in die Shelby American Registry opgeteken word.

Die Shelby F 150-bakkie word met ‘n V8-enjin van vyf liter met ‘n drukaanjaer, wat 565 kW lewer, toegerus.  Hierdie enjin beskik onder meer oor opgegradeerde hoëverrigting-brandstofinspuiters en ‘n Shelby-ingestelde  Borla-verrigtingsuitlaatstelsel.

Die Shelby F 150 is gebaseer op die Ford F 150 Lariat, die vlagskip van die F 150-reeks, maar voeg gegraveerde Shelby-allooiwiele met 235/12.50R 20- BF Goodrich KO-bande . Die Baja-opsie  bestaan uit ‘n eksklusiewe  Shelby-ontwikkelde Fox-skokbrekerstelsel  wat verstel kan word vir veldrytoestande of vir gebruik op ‘n renbaan.

Aan die buitekant kan die Shelby F 150 onderskei word deur ‘n sportiewe heuningkoek-sierroorster met die kenmerkende slang-kenteken, asook ‘n kleurgekodeerde voorstamper met ‘n groot luguitlaat, asook uitgeboude modderskerms . Daar is strepe oor die hele bakwerk, asook ‘n Supercharged-kenteken op die luguitlate op die enjinkap en ‘n Shelby Registry-plaatjie op die enjin self. Daarby het hy ‘n soliede bakseil in dieselfde kleur as die bakwerk, ‘n kleurgekodeerde agterstamper en swart kanttrappe.

Die binnekant van die Shelby F 150 bevat ook ‘n paar uitstaande kenmerke, soos leerbekleedsel in twee kleure,  die Shelby-slangkenteken wat in die kopstutte en die deksel van die middelkonsole geborduur is, koolveselafwerking, Shelby-vloermatte en ‘n plaatjie met die Shelby-reeksnommer.

Die Shelby F 150 word deur ‘n waarborg van drie jaar of 50 000km gerugsteun en pryse hang van die spesifikasievlak af. Dit kan wissel van R 2,5 miljoen tot R 3 miljoen vir die volledig toegeruste Baja Raptor met die volle Shelby-ombouing en die Fox-skokbrekerstsel.

Bestellings kan op www.shelbysa.co.za geplaas word.

 

%d bloggers like this: