Sir Stirling Moss (1929-2020)

0 Comments

Die legendariese renjaer Sir Stirling Moss, wat beskou is as “die beste Formule 1-renjaer wat nooit die wêreld kampioenskap kon wen nie”, is op Sondag 12 April 2020 in die ouderdom van 90 jaar oorlede.

Sy sestien Grand Prix-oorwinnings is die meeste deur ‘n jaer wat nie die wêreld kampioenskap kon wen nie. Dis ironies dat hy tydens ‘n Paasnaweek oorlede is aangesien ‘n ongeluk op die Goodwood-renbaan op Paasmaandag in 1962 ‘n einde aan sy loopbaan gebring het.

Moss se pa was ‘n amateur-renjaer wat aan die Indianapolis 500-wedren in 1924 deelgeneem het en sy suster was Pat Moss, wat ‘n navigator vir die Sweedse tydrenjaer Erik Carlsson was. Sy motorsport loopbaan het in 1948 begin en sy eerste Grand Prix-wedren was die Switserse Grand Prix van 1951, die eerste wedren van daardie seisoen. Moss het met ‘n HWM Alta deelgeneem en die wedren in die agtste plek voltooi. Hy kon geen punte aanteken totdat hy hom in 1954 by die Maserati-span aangesluit het en die derde plek in daardie jaar se Belgiese Grand Prix behaal het nie. Vir 1955 het hy en die verdedigende wêreld kampioen Juan-Manuel Fangio van Argentinië die toneel oorheers toe hulle spanmaats by die Mercedes-Benz-span was. Hy het die eerste oorwinning van sy loopbaan tydens die Britse Grand Prix op Aintree behaal en tweede in die kampioenskap gekom.  In daardie jaar het hy die Mille Miglia-wedren in Italië saam met die bekende motorsport joernalis Denid Jenkinson gewen.Nadat Mercedes-Benz aan motorsport onttrek het, het Moss in 1956 weer vir Maserati deelgeneem en in Monaco en op Monza gewen. Weer eens was hy tweede in die kampioenskap. Hoewel Moss net die laaste twee wedrenne van die 1957-seisoen gewen het, was hy weer eens tweede. Dit was Fangio se laaste kampioenskap en hy het vroeg in 1958 uitgetree. 

Die kampioenskap vir vervaardigers is vir die 1958-seisoen ingestel en vir hierdie seisoen het Moss hom by die Vanwall-span aangesluit met Tony Brooks en Stuart Lewis-Evans as spanmaats. Hy het vier keer gewen, maar steeds tweede gekom, terwyl sy landgenoot Mike Hawthorn die eerste Britse wêreld kampioen geword het. Hawthorn het die titel met net een punt gewen, maar Vanwall was die eerste wenners van die vervaardigers kampioenskap. Vanwall het egter aan die kampioenskap onttrek, veral as gevolg van Stuart Lewis-Evans se noodlottige ongeluk tydens die Marokkaanse Grand Prix, die laaste wedren van die seisoen. Hy was een van vier renjaers wat daardie jaar in ongelukke dood is; die ander drie was Peter Collins, Luigi Musso en Archie Scott-Brown. Moss se sportmangees het hom die kampioenskap gekos; toe die owerhede gedreig het om Hawthorn na afloop van die Marokkaanse Grand Prix  te straf, het Moss hom verdedig. Hawthorn is daarvan beskuldig dat hy agteruit op die baan gery het nadat sy motor getol en gevrek het. Moss se besluit om Hawthorn voor die baan-beamptes te verdedig, het beteken dat Hawthorn die ses punte wat hy vir sy tweede plek verdien het, behou het en die kampioenskap gewen het.

In 1959 het ‘n rewolusie in motorsport Moss se kanse om die kampioenskap te wen, verder in die wiele gery. Die Monaco Grand Prix van daardie jaar was die eerste een waaraan geen voormalige wêreld kampioene deelgeneem het nie aangesien Mike Hawthorn, die verdedige kampioen uitgetree het en vroeg die volgende jaar in ‘n motor-ongeluk dood is. John Cooper het ‘n renmotor met ‘n enjin wat agter gemonteer is, ontwikkel en Jack Brabham het die Monaco Grand Prix gewen. Moss het in Portugal en Italië gewen en derde gekom, agter Brabham en Tony Brooks.

C15134

Moss het die Monaco Grand Prix in 1960 gewen nadat Jack Brabham ‘n ongeluk gehad het, maar tydens die oefenrondes van die Belgiese Grand Prix was Moss ook ‘n ongeluk, wat agv die beserings wat hy opgedoen het, hom verhoed om aan vier agtereenvolgende wedrenne deel te neem.

Hy het die Amerikaanse Grand Prix gewen, maar derde in die kampioenskap gekom. In 1961 het hy weer eens in Monaco gewen, en hierdie oorwinning, asook die een in Duitsland wat die laaste een van sy loopbaan sou wees, is as sy heel bestes beskryf. Ferrari was egter feitlik onaanvegbaar met hul nuwe Tipo 156, wat ontwikkel is na aanleiding van die 1,5 liter-formule wat vir daardie jaar ingestel is. Moss het weer derde in die kampioenskap gekom, maar dit was sy laaste seisoen aangesien die ongeluk wat sy loopbaan op Paasmaandag , 23 April  1962 beëindig het, plaasgevind het nog voordat die kampioenskap begin het.

Hoewel sy Formule 1-loopbaan verby was, het hy hier en daar nog aan wedren-byeenkomste deelgeneem. Hy het byvoorbeeld saam met sy tydgenoot Jack Brabham met ‘n Holden Torana V8 (omtrent die grootte van ‘n Opel Rekord) aan die Bathurst 1000 km-uithouwedren in Australië deelgeneem, maar hulle kon die wedren nie voltooi nie. Hy het ook in 1979 saam met die 1967-wêreldkampioen Denny Hulme van Nieu-Seeland met ‘n VW Golf GTI aan die Benson & Hedges 500-wedren deelgeneem. Hy het wel in 1980 en 1981 vir die Audi-span aan die Britse sedan-motor kampioenskap deelgeneem. Op 21 Maart 2000 het prins Charles hom tot ridder geslaan en in Desember 2008 is die laaste Mercedes-Benz SLR McLaren-model na hom vernoem. Hierdie motor het ook die nommer 722, dieselfde nommer as die motor waarmee hy en Denis Jenkinson die Mille Miglia gewen het, gedra.

Moss het hom in Januarie 2018 aan die openbare lewe onttrek en hy is na ‘n lang siekbed oorlede.

Sien ook: Lotus se eerste oorwinning

Categories:
%d bloggers like this: