Breaking News

Spesiale Jaguar XF gou hier

Jaguar Land Rover het pas aangekondig dat ‘n spesiale weergawe van die XF-sedan later vanjaar in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.

Die Chequered Flag-weergawe kan van die res van die reeks onderskei word deur middel van kentekens in die kantluguitlate, glansswart allooiwiele en drie unieke bakkleure. Aan die binnekant is daar R Sport sitplekke met volle leerbekleedsel, Chequered Flag-plate aan die binnekant van die deure en spesiale kleurkombinasies. Volgens Ian Callum, Jaguar se ontwerpdirekteur, kombineer die XF die elegansie en uitsonderlike werkverrigting wat kenmerkend van enige Jaguar is. Die XF se dinamiese voorkoms is uiters gepas vir die Chequered Flag-kenteken.

Onder die Chequered Flag-model se unieke kenkerke is sportstamper aan die voorkant, syskorte in dieselfde kleur as die bakwerk, ‘n agterste drukvlerk en 18-duim Chalice-allooiwiele met ‘n glansswart voorkoms. Daar is drie kleure beskikbaar, naamlik wit, swart en grys. Sommige opsionele kenmerke vir die res van die XF-reeks is standaardtoerusting vir die Chequered Flag. Die navigasiestelsel bevat verkeersvervlae wat die bestuurder help om verkeersknope vry te spring, en stel die bestuurder ook in staat om moontlike aankomstye en roetes deur middel van ‘n rekenaar of mobiele toepassing te deel. Verder spog die Chequered Flag met sleutellose toegang en ‘n interaktiewe vertoonpaneel van 12,3 duim.

Die XF kry ook nou ‘n nuwe slimfoon pakket met Apple Car Play as standaardtoerusting vir alle modelle. Die bestuurder kan toegang kry tot ‘n verskeidenheid toepassings deur middel van die motor se tienduim-raakskerm. Die Chequered Flag is beskikbaar met drie turbo aange-jaagde Ingenium-enjins; daar is twee petrolenjins wat onderskeidelik 184 en 221 kW lewer, terwyl die dieselmodel 132 kW lewer.

Die Chequered Flag-modelle sal teen die tweede kwartaal in Suid-Afrika beskikbaar wees en pryse sal eers dan aangekondig word.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: