Die moderne neiging onder dubbel-kajuit bakkies is bykomende modelle met allerhande bykomstighede om beter waarde vir geld vir voornemende kopers te bied.

Dit het nie ongesiens by Toyota verbygegaan nie en ‘n spesiale weergawe van die hardebaard-kampioen, die Land Cruiser, is pas bekendgestel. Die Namib, gebaseer op die V8 diesel dubbel-kajuit, spog met ‘n aantal bykomstighede wat hom selfs meer geskik vir avontuur-lustige kopers sal maak. Die nuweling dra die Namib-naam; en is natuurlik vernoem na die grootste woestyn in Suider-Afrika.

Volgens mnr. Calvyn Hamman, die senior visepresident van bemarking en verkope by Toyota Suid-Afrika, bied die Namib-woestyn uiters uitdagende terrein en die regte voorbereiding en toerusting is noodsaaklik om in hierdie toestande te oorleef. Daarom is hierdie spesiale Land Cruiser geskep om voornemende kopers ‘n voertuig te bied wat toegerus is om die moeilikste omgewing baas te raak. 

Die Namib beskik oor ‘n robuuste voorkoms; die gebruiklike Toyota-kenteken met die drievoudige ellips word vervang met groot Toyota-letters soos wat vir die Hilux GR Sport gebruik word. Dit is geïnspireer deur die geskiedenis van die Land Cruiser. Daar is ‘n Namib-kenteken langs die Land Cruiser-benaming. Daar is ‘n voorstamper van staal met ‘n waardiens-bulstaaf en kop-ligskerms asook hoëdefinsie-ligdiodemisligte. Aan die agterkant is daar ‘n buisvormige agterstamper met ‘n geïntegreerde trekstang en rubbervoering vir die laaibak.  Die Namib is in wit en “sand-beige” kleure beskikbaar.

Die opgegradeerde veerstelsel is vir Toyota deur ‘n hoog aangeskrewe kundige ontwerp, terwyl sy loonvrag en sleep-vermoë dieselfde as dié van die gewone model is. Die bande is ook opgegradeer, en groter 265/75 R 16 Cooper Discoverer S/T Maxx-bande met wit letters word op duursame allooi-wiele gebruik.

Om woestyn-temperature teen te werk, kan items in die paneel-kissie deur middel van die lugversorger koud gehou word. Grys seil-afwerking met die Namib-logo, wat deur sannduine geïnspireer is, word vir die sitplekke gebruik. Die oortreksels word teen verweer beskerm.  Daar is ook ‘n dakkonsole met ligdiode-ligte wat agtertoe kyk, ‘n bêreplek vir los goedere, plek vir ‘n tweerigting-radio, ligdiode-ligte vir die bestuurder en voorste passasier, plek vir ‘n tweerigting-radio asook ‘n plek vir ‘n mikrofoondraad. 

Die Namib word toegerus met dieselfde V8-turbo-diesel enjin van 4,5 liter wat vir ander modelle in die reeks gebruik word. Hierdie enjin lewer 151 kW teen 3 400 opm en wringkrag van 430 Nm teen 1 200 opm. Die Namib se gemiddelde brandstof verbruik is 11,3 liter per 100 km.

Al die standaard kenmerke waarmee die Land Cruiser 79 dubbel-kajuit toegerus is, word vir die Namib gebruik. Dit sluit ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n raakskerm en Bluetooth in, asook satelliet-navigasie, ‘n voorste kragpunt, elektriese vensters, ‘n teleskopiese kantelstuurkolom, sentrale sluiting met afstand-beheer en ‘n diefwering-stelsel. Daar is ook twee lugsakke en sluitweer-remme.

Die Namib word gerugsteun deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000km, en verskeie diensplanne, wat volgens die koper se behoeftes gekies kan word, is teen ekstra koste beskikbaar.

Die prys van die Land Cruiser 79 Namib is R 893 600.

%d bloggers like this: