Nissan Suid-Afrika het pas ‘n nuwe model by sy Navara-bakkie-reeks gevoeg.

Die Navara Stealth is gebaseer op die Navara LE-dubbel-kajuit en is beskikbaar in ‘n keuse van ‘n 4×2 of ‘n 4×4, met ‘n hand- of outomatiese ratkas.

Die uitstaande kenmerke vanuit ‘n stilerings oogpunt is swart wiele, asook oranje insetsels op die sierrooster, die buitespieëls en kant-trappe terwyl die rolstaaf, dakrelings en kant-trappe in swart afgewerk is.

Die twee-kleur afwerking word binne voortgesit; daar is swart leerbek-leedsel met oranje materiaal-insetsels en stikwerk wat nie net die swart leer komplementeer nie maar ook daarmee kontrasteer. Volgens Kabelo Rabotho, die bemarkings bestuurder van Nissan Suid-Afrika, bou die nuweling voort op die Navara-naam aangesien hy taai, luuks en gemaklik is. Dit is ‘n bakkie wat gemik is op die koper wat van bykomstighede hou en wat op soek is na ‘n voertuig wat sy of haar persoonlikheid weerspieël.

Die Stealth is meganies presies dieselfde as die Navara LE; die 2,3 liter-diesel enjin met twee turbo-aanjaers lewer 140 kW teen 3 750 opm en wrinkgrag van 450 Nm teen tussen 1 500 en 2 500 opm. Die koper het ‘n keuse tussen ‘n handratkas met ses gange of ‘n outomatiese ratkas met sewe gange vir die 4×2-model; die 4×4 is net met die outomatiese ratkas beskikbaar.

Soos in die geval van die LE sal die Stealth ook toegerus word met sleutellose toegang met ‘n aansit knoppie, ‘n 360 grade-kamera, wegtrek-hulp, en in die geval van die 4×4, ‘n intelligente 4×4-stelsel met ‘n laestrekratkas.

Die pryse van die Navara Stealth-reeks, wat ‘n waarborg van ses jaar of 150 000km en ‘n diensplan van drie jaar of 90 000km insluit, lyk soos volg:

Navara Stealth 2,3 D 4×2 handrat: R 582 200

Navara Stealth 2,3 D 4×2 outomaties: R 599 900

Navara Stealth 2,3 D 4×4 outomaties: R 659 900

%d bloggers like this: