Breaking News

Spesiale Raptor binnekort hier

Die Ford-motormaatskappy van Suid-Afrika het pas aangekondig dat ‘n meer eksklusiewe weergawe van die Ranger Raptor binnekort in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.

Die Raptor is reeds die vlagskip van een van Suid-Afrika se gewildste bakkiereekse, maar nou het Ford besluit om selfs ‘n meer spesiale model,, bekend as die Ranger Raptor Special Edition, op die mark te bring. Die Special Edition sal in beperkte getalle vervaardig word om eksklusiwiteit te verseker, en verskeie kenmerke sal hom van die gewone Raptor onderskei. Nuwe, opvallende kentekens en rooi aksente sal vir die Special Edition gebruik word, en ‘n geïntegreerde sportstaaf saam met ‘n oproldeur vir die agterklap wat soos ‘n garagedeur werk en gesluit kan word, is standaard toerusting. Laasgenoemde is ook vir die Ranger Thunder gebruik.

Toe die Raptor vir die eerste keer in 2019 in Suid-Afrika bekendgestel is, was dit die eerste voertuig in ‘n heeltemal nuwe segment in die Suid-Afrikaanse bakkiemark. Dit word beklemtoon deur die ultra-sterk onderstel, die unieke veerstelsel en bande, asook die Terrain Response Management-stelsel wat die Raptor se veldryvermoë onder selfs die moeilikste omstandighede verbeter. Die Special Editionn sal beskikbaar wees in wit, grys, blou en swart en sal met swart strepe met rooi aksentlyne op die enjinkap, die dak, die onderkant van die bakwerk, die agterklap , asook sleephake wat in rooi afgewerk is, toegerus word. Die uitgeboude modderskerms, die sierrooster met die Ford-naam, die voorste en agterste stampers en  die deurhandvatsels word in swart afgewerk.

Aan die binnekant is daar rooi stikwerk vir die stuurwiel, instrumentepaneel en deurpanele terwyl ‘n Raceway Grey-paneelbord ‘n eksklusiewe kenmerk vir die Special Edition is. Die sitplekke, met leerbekleedsel as standaard toerusting , is ontwerp om gerief en steun te bied, maak nie saak of die voertuig op die oop pad of in die veld bestuur word nie. 

Dieselfde tweeliter-diesel enjin met twee turboaanjaers wat vir die Raptor gebruik word, is ook standaard toerusting vir die Special Edition; hierdie enjin, wat gekoppel word aan dieselfde outomatiese tiengangratkas van die Mustang, lewer 157 kW teen 3 750 opm  en 500 Nm teen 1 500 tot 2 000 opm. .

Die prys van die Special Edition sal met sy bekendstelling teen die einde van die jaar bekendgemaak word, maar die “gewone “Raptor se prys is tans R 920 300.

%d bloggers like this: