Spesiale Suzuki weergawes bekendgestel

0 Comments

Spesiale nuwe Swift- en Ignis-modelle ontwerp om die oog te vang

  • Opgegradeerde inligtingvermaakstelsel vir Swift SE
  • Al die SE-modelle spog met opgegradeerde buitestilering
  • Pryse van alle spesiale modelle bekend gemaak

Suzuki Auto Suid-Afrika vier sy onlangse verkoopsukses en sy 75 000 klante in Suid-Afrika met die bekendstelling van nuwe, spesiale weergawes van die Swift en Ignis.

Die jongste toevoegings tot die Suzuki-reeks, die Swift 1.2 GL Special Edition (SE) en twee nuwe weergawes van die Ignis, die 1.2 GL SE en 1.2 GLX SE, is nou by Suzuki-handelaars landwyd beskikbaar.

“Die Swift Special Edition en twee Ignis Special Edition-weergawes bied klante die geleentheid om hul unieke styl en individualiteit uit te leef,” sê mnr. André Venter, afdelingshoof vir verkope en bemarking by Suzuki Auto Suid-Afrika. “Ons is vol vertroue dat die eksklusiewe weergawes van ons twee topverkoper-modelreekse in die smaak van Suzuki-aanhangers sowel as dié van die spesifieke modelle sal val.”

Ontwerp om uit te staan

’n Mens kan danksy die talle nuwe toebehore en weelde-toerusting nie die nuwe SE-weergawes met hul gewone stalmaats verwar nie.

Wat die Swift GL SE betref, sluit die lys ’n stel unieke kentekens, ’n lugskort agter op die dak en die toevoeging van skerms aan die deure en ’n drumpelskerm in.

Suzuki het ook die nuwe Europese sierrooster, wat ’n groot gunsteling onder motor-ombouers is, ingesluit.

Die binneruim van die Swift GL SE het nou ’n raakskerm-inligtingvermaakstelsel wat met Apple CarPlay en Android Auto toegerus is.

Wat die Ignis betref, het Suzuki op twee SE-modelle besluit. Die eerste is die Suzuki Ignis 1.2 GL SE, met stileringsopgraderings soos swart deurskorte, reën- en windskerms, fris modderflappe, rooi afwerking vir die sierrooster en rooi sykant-kentekens.

Die Ignis GLX SE het al die weelde-toerusting waarmee die gewone GLX-model toegerus is, maar kry ’n wit omhulsel vir die sierrooster en middelste staaf en nuwe mislighulsels by. Die stilering is verder verbeter met sykant-kentekens in wit en ’n reën- en windskermstel. Die stilerings-opgradering word deur ’n lugskort agter op die dak afgerond.

“Ons weet dat klante wat ’n nuwe SE-model kies, daarvan hou om uit te staan, en ons het dus die SE modelle in verskeie kleure beskikbaar gestel, wat egter net in baie beperkte getalle vir elke model beskikbaar is,” sê Venter.

Kopers van die Swift GL SE kan die nuwe Arctic White en Silky Silver kies, wat net in ’n beperkte 50 eenhede beskikbaar is. Dieselfde kleure is vir die Ignis GL SE beskikbaar, maar net vir 25 modelle van elke weergawe.

Laastens kan die eerste 50 kopers van die Ignis GLX SE die motor in ’n Tinsel Blue-kleurskakering met wit detail aanskaf.

Pryse:

Swift 1.2 GL MT Special Edition R193 900
Ignis 1.2 GL MT Special Edition R186 400
Ignis 1.2 GLX MT Special Edition R212 400

Die eienaars van die SE-modelle kry, net soos in die geval van alle nuwe Suzuki motorkopers, ’n twee jaar-/30 000 km-diensplan en vyf jaar-/200 000 km promosiewaarborg.

Categories:
%d bloggers like this: