Meer as twintig jaar nadat die oorspronklike Subaru Forester bekendgestel is, is die vyfde geslag van dié gewilde Japanese sportnutsvoertuig nou ook in Suid-Afrika beskikbaar.

Die Forester het deur die jare ‘n uiters belangrike rol in die vestiging van die Subaru-handelsnaam in Suid-Afrika gespeel en dit was nog altyd Subaru se mees suksesvolle model in Suid-Afrika.

Die nuwe Forester is langer en breër, en sy asafstand is langer as voorheen. Die binneruim is groter en daar is meer beenruimte vir al die insittendes. Aan die agterkant is daar gesplete agterligte met ‘n C-vorm en voorlangs is daar ‘n groter sierrooster, LED-kopligte en ‘n skerm wat die onderkant van die bakwerk beskerm wanneer daar in die veld gery word.  Daar is nuwe 17- of 18-duim allooiwiele afhangende van die model; dit is in silwer of hoëglans-swart afgewerk. Drie nuwe kleure is spesifiek vir die Forester beskikbaar, naamlik metaalgroen, pêrelrooi en pêrelblou.

Die ontwerp van die binneruim is baie dieselfde as dié van die Impreza en XV wat in 2017 bekendgestel is. Daar is ook kenmerke wat eie aan die Forester is en wat sy veelsydigheid beklemtoon, onder meer nuwe materiaal wat vir die deurpanele en die middelkonsole gebruik word. Die sitplekke word met materiaal of leer oorgetrek, afhangende van die model.

Die Forester is ontwerp om aan verskeie behoeftes te voldoen; onder meer dié van gesinne, avontuurliefhebbers en deelnemers aan sport-aktiwiteite Die nuut ontwerpte agterkant maak dat die agterklap breër en hoër oopmaak; tesame met die agtersitplek wat in ‘n 40:60-verhouding verdeel word, maak dit dat dit al hoe makliker is om groot items in die voertuig te laai. Die sitplekke vou in die bakwerk in wanneer dit platgeslaan word en die vloer is heeltemal gelyk. Die materiaal wat in die bagasieruim gebruik word, is, is van ‘n hoë estetiese gehalte maar maklik om skoon te maak. Dit word ook vir die wielboë en die onderste deel van die stampers gebruik.

Die groter afmetings het groter been-, skouer- en heupruimte tot gevolg gehad. Dit beteken dat dit makliker is om in en uit die voertuig te klim, veral in nouer parkeerareas.  Die ontwerp van die agterdeure en die groter gaping tussen die kussing van die agtersitplek en die B-pilaar maak dit soveel makliker om ‘n kinderstoeltjie vas te maak. Daar is sakke vir selfone en tablette vir die agterste insittendes, asook bykomende luguitlate en twee USB-sokke, tesame met die twee vir die voorste insittendes.

Hoewel die vorige Forester vyfster-gradering in botsingstoetse behaal het, is die nuwe model selfs veiliger as sy voorganger. Die nuwe model het die hoogste moontlike gradering in die Japanese New Car Assessment Programme (JNCAP) behaal. Die duurder modelle word toegerus met Subaru se Eye Sight-stelsel, wat oor dertig jaar ontwikkel is en met groot sukses vir die Impreza en XV vrygestel is. Een van dié stelsel se belangrikste kenmerke, is om hindernisse wat in die bestuurder se pad mag wees, te identifiseer en die bestuurder te waarsku. Dit maak ook dat die voertuig hard in nood gerem kan word, om ongelukke te voorkom of, war dit nie moontlik is nie, die erns daarvan te verminder. Nog ‘n kenmerk wat deel van hierdie stelsel is, is aanpasbare spoedbebeer, wat van 0 tot 180 km/h ingestel kan word en ‘n veilige volgafstand tussen die bestuurder en die motor voor hom of haar te handhaaf en die remme, enjin en ratkas te verstel wanneer nodig. Die bestuurder word ook deur middel van ‘n gonser en ‘n flikkerende rigtingwyser gewaarsku wanneer daar uit ‘n baan op die oop pad beweeg word of wanneer daar van baan verwissel word sonder dat die rigtingwysers gebruik word. Die wegtrekhulp werk ook baie beter as voorheen; dit help onder meer ook om moegheid en foute wat deur die bestuurder  gemaak word, uit te skakel. Die topmodel van die reeks, die S-ES, word ook toegerus met ‘n stelsel wat die bestuurder help om botsings te vermy wanneer daar stadig agteruit gery word.

Die hele Forester-reeks word op die oomblik toegerus met Subaru se bekende platvier-tweeliterenjin sonder ‘n turboaanjaer wat ‘n kraglewering van 115 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 196 Nm teen 4 000 opm lewer. Die hele reeks het ‘n Lineartronic-palwissel (CVT)-ratkas asook Subaru se Symmetric All Wheel Drive-stelsel as standaardtoerusting. Sommige modelle word toegerus met Subaru se Si-Drive-bestuursmodus-kiesprpogram. Die kontrole daarvoor is op die veelfunksiestuurwiel en stel die bestuurder in staat om tussen gemaklike- sportiewe- en ekonomiese bestuurdmodusse te kies. Daar is ook ‘n intelligente modus vir ‘n gladder bestuurservaring en ‘n sportmodus wat die reaksietyd van die versneller verminder. Die hele Forester-reeks het X-modus en afdraandehulp as standaardtoerusting; die duurder modelle het ‘n meer gevorderde X-modus wat die bestuurder help om op slegte of gladde paaie, of in modder of sand, te bestuur. Wanneer een van hierdie modusse gekies word, word krag outomaties deurgestuur na die wiele wat dit die nodigste het.  Die Forester se grondvryhoogte van 220 mm is volgens die vervaardiger die beste in sy klas.

Soos met Subaru se ander nuwe modelle is die Forester toegerus met verskeie geriefs- en tegnologiekenmerke. Die hele reeks het ‘n raakskerm met Bluetooth-verbinding, terwyl die voertuig ook gereed vir Apple Car Play en Android Auto is. Dit kan deur middel van stembeheer of kontroles op die stuurwiel beheer word.  Daar is vier USB-kragpunte, ‘n veelfunksie-vertoonpaneel aan die bokant van die paneelbord, sleutellose toegang, ‘n elektroniese parkeerrem en elektriese voorsitplekke. Die topmodel in die reeks het ook ‘n elektriese sondak, ‘n Harman Kardon-klankstelsel met nege luidsprekers, outomatiese ruitveërs voor en ‘n geheue vir die bestuurdersitplek se elektriese werking. Die Forester se agterklap word met kraghulp oop- en toegemaak; dit duur net vyf sekondes om te gebeur; die helfte so kort soos voorheen.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000km en ‘n volle onderhoudsplan van drie jaar of 75 000km, wat tot vyf jaar of 150 000km verleng kan word, lyk soos volg;

Forester 2,0i CVT (intree-spesifikasie): R 429 000

Forester 2,0i L- ES (middelste spesifikasie): R 469 000

Forester 2,0i S-ES (hoë spesifikasie): R 499 000

%d bloggers like this: