Splinternuwe Quantum gou hier

0 Comments

Die sesde geslag van een van die gewildste minibusse op die mark word binnekort in Suid-Afrika verwag.

Die nuwe Toyota Quantum sal dié Japanse vervaardiger se eerste nuwe minibus in byna vyftien jaar wees, en sal oor gevorderde veiligheids kenmerke, kragtige nuwe enjins, verhoogde spesifikasie-vlakke en verbeterde gerief beskik.

Anders as sy voorganger sal die nuwe Quantum ‘n halfsnoet-ontwerp het, wat sal maak dat beduidende veranderinge, met onder meer ‘n stewiger raamwerk, beter verrigting in ‘n reguit lyn en beter vering moontlik is.

Daar sal paneelwaens met drie sitplekke en lang- of superlang asafstande, ‘n langasafstand- paneelwa met ses sitplekke en lang- en super langasafstand-minibusse met onderskeidelik elf en veertien sitplekke beskikbaar wees. Die hele reeks sal aangedryf word deur ‘n turbo aangejaagde diesel-enjin met vier silinders en ‘n kapasiteit van 2,8 liter terwyl ‘n handratkas met ses gange standaard toerusting vir al die modelle sal wees.

Die binneruim van die nuwe Quantum sal toegerus wees met ligdiode-beligting, kompartemente in die konsole vir los goedere, sitpleksakke, opslaansitplekke en tot sestien beker- en bottelhouers wat die lewe baie gemakliker vir insittendes sal maak. Die onderkant van die voordeur is laer en die trappie is groter om toegang te vergemaklik. Daarby sal groter voordeur-glas en ‘n laer gordellyn sig vanuit die voertuig aansienlik verbeter. Die nuut ontwikkelde Mc Pherson-stutte verbeter rygerief, hantering en stabiliteit terwyl nuwe bladvere, wat 200mm langer as voorheen is, agter aangebring word.

Verdere besonderhede, soos die volledige modelreeks, pryse en toerusting, sal nader aan die bekendstelling bekendgemaak word.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: