Breaking News

Splinternuwe Range Rover in 2022 hier

Die splinternuwe vyfde geslag Range Rover is pas internasionaal bekendgestel.

Die oorspronklike Range Rover het die marksegment vir luukse sportnutsvoertuie in 1970 geskep, en die jongste geslag sal die tradisie an weelde, veldryvermoë en gevorderde tegnologie verder voortsit. Daar sal ‘n keuse van vier, vyf of sewe sitplekke wees en die vlagskipweergawe sal ‘n keuse van twee asafstande bied.

Verskeie kragbronne sal beskikbaar wees, en in 2024 sal ‘n volle elektriese model vir die eerste keer bekendgestel word. Die Range Rover P 530 Twin Turbo V8 sal die eerste Land Rover-produk wees wat beskikbaar sal wees met ‘n nuwe 4,4 liter V8-enjin met twee turboaanjaers; een vir elke silinderbank. Dit sal turbotraagheid uitskakel en doeltreffendheid verhoog. Hierdie enjin lewer 390 kW en wringkrag van  750 Nm.  Wanneer die wegtrekbeheerstelsel gebruik word, kan die model met hierdie enjin binne 4,6 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel terwyl die topselheid tot 250 km/h beperk word.  Die dieselmodel staan bekend as die D 350 en word deur die bekende Ingenium drieliter-turbodieselenjin, wat 257 kW en wringkrag van 700 Nm lewer, aangedryf.

Twee modelle met inprop-hibriedekragbronne sal ook beskikbaar wees. Die P 440e en die P 510e se enjins lewer onderskeidelik 323 kW en 375 kW en beskik oor ‘n litium-ioonbattery wat 38,2 kWh lewer en oor ‘n bruikbare kapasiteit van 31,8 kWh beskik. Daar is ook ‘n elektriese motor van 105 kW wat met die ratkas geïntegreer word. Die kragbron stel die voertuig in staat om 100 km in elektriese motor en in byna algehele stilte te ry , en die P 510e, die kragtiger weergawe kan , met behulp van oombliklike elektriese wringkrag, binne 5,6 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Die PHEV-modelle kan tot 140 km/h bereik, wat beteken dat hulle in volle elektriese modus vir die meeste ritte in die stad en op die oop pad gebruik kan word. Hulle kan 75% van alle ritte in volle elektriese modus aflê mits die battery elke keer vol gelaai word. Die battery is onder die motor geleë, wat beteken dat geen bagasieruimte of veldryvermoë ingeboet word nie. Alle enjins word gekoppel aan ‘n outomatiese ZF-ratkas met agt gange  en laestrek vir veldrytoestande. 

Die nuwe Range Rover spog met ‘n ewolusionêre buiteontwerp, wat terselfdetyd modern en klassiek is. Die enjinkap wat om die hoeke van die voorkant krul, is steeds daar, maar die mees gevorderde kopligte wat tot nog toe vir ‘n Land Rover-produk gebruik is, is standaardtoerusting. Benewens die gebruiklike ligdiode-tegnologie beskik dit ook oor digitale hoëdefinisietegnologie wat ‘n straalreiwydte van 500 meter moontlik maak. Verder gebruik dit inligting van die navigasiestelsel om die beligting by padtoestande aan te pas terwyl dit verseker dat aankomende verkeer nie verblind word nie. Die deure  bevat kraghulp, met ‘n sensor wat die bestuurder en passasiers waarsku as dit nie veilig is om ‘n deur oop te maak nie. Die kraghulp word deur middel van die Pivi Pro-raakskerm beheer; dit maak dat alle insittendes op ‘n elegante manier in en uit die voertuig kan klim, selfs  teen ‘n helling van tot 10 grade. Die gesplete agterklap wat van die begin af ‘n uitstaande Range Rover-kenmerk is, word vir die nuwe model behou, en die agterligte sit in die hoeke van die agterkant. 

Die binneruim van die nuwe Range Rover spog met ‘n aantal vindingryke kenmerke wat veelsydigheid verder verhoog. Die bagasieruim bevat ‘n veelsydige nuwe vloer  met ‘n paneel wat vorentoe oor die breedte van die laairuimte rondom sy middelpunt opgelig kan word. Dit vorm ‘n aparte gedeelte wat kleiner items kan huisves en hulle binne maklike bereik plaas as bagasie uit die voertuig gelaai word. Die Tailgate Event Suite 5 voer dit nog verder; dit kombineer bykomende beligting, ‘n klankstelsel en doelgemaakte kussings om dit die perfekte plek te maak om in die natuur te ontspan. Die modelle met vyuf sitplekke word toegerus met ‘n vindingryke nuwe oortreksel vir die bagasieruim wat die beste kenmerke van ‘n harde deksel met een wat opgerol kan word, kombineer. Dit trek outomaties in wanneer die boonste deel van die agterklap oopgemaak word sonder dat die onderste deel oopgemaak hoef te word. 

Die Pivi Pro-inligting-en-vermaakstelsel word verder vir die nuwe Range Rover opgeknap en die 13, 1-duim raakskerm is die grootste van sy soort wat nog ooit vir ‘n Land Rover-produk gebruik is.  Dit bevat nuwe hoëdefinisie-grafika en  bied intuïtiewe toegang tot al die voertuig se belangrikste funksies. Di twerk soos ‘n slimfoon, maar konvensionele skakelaars word vir die klimaatbeheer gebruik. Dié stelsel werk saam met ‘n interaktiewe 13,7 duim-vertoonpaneel vir die bestuurder wat verskeie keuses, onder meer ‘n analoog-instrumentepaneel bied. Die verstellings hiervoor word met die veelfunksiestuurwiel gemaak. Vir die eerste keer in ‘n Land Rover-produk sal die stelsel terugvoer gee wanneer die skerm geraak en gedruk word. Dit laat gebruikers toe om ‘n positiewe bevestiging te voel sonder om na die skerm te kyk en maak dat die bestuurder sy of haar oë die heeltyd op die pad kan hou. Vir insittendes in die tweede ry sitplekke is daar ‘n vermaakstelsel met raakskerms wat agter in die voorste sitplekke gemonteer word. Dit kan onafhanklik beheer word en deur middel van ‘n HDMI-kragpunt  die meeste toestelle gekoppel word. Hulle kan ook van die Wi Fi-punt binne-in die voertuig gebruik maak.

Elke model in die nuwe reeks word met ‘n vierwielstuurstelsel toegerus, wat die draaisirkel tot net 11,4 meter verklein; dit is die kleinste van enige Land Rover-produk tot dusver. Dit maak die voertuig makliker om te beheer teen laer snelhede en verbeter stabiliteit teen hoë snelhede. Die volle onafhanklike lugvering stryk enige ongelykhede uit ongeag die padoppervlakte Dit word deur toonaangewende programmatuur wat deur die maatskappy self ontwikkel is, beheer. Die intelligente vierwielaandrywingstelsel word beheer deur Land Rover se  Intelligent Driveline Dynamics-stelsel wat vastrapplekke en insette van die bestuurder 100 keer per sekonde monitor om  wringkrag tussen die voor- en agterwiele te versprei. Dit verseker die beste montlike vastrapvermoë op die pad en in die veld. Daarby is ‘n aktiewe agterste ewenaarslot standaardtoerusting vir die hele reeks. Dit verseker optimale vastrapvermoë vanuit die agteras wanneer daar teen hoë snelhede om draaie gery word, in gladde padtoestande en in moeilike veldrytoestande. Die Terrain Response 2-stelsel maak dat die bestuurder een van ses bestuursmodusse kan kies om sy of haar werkslading op alle moontlike terreine te verlig. Die bestuurder kan die verstellings ook met die hand maak, of Configurable Terrain Response gebruik om self die onderstel na gelang van persoonlike voorkeure of behoeftes in te stel.

Vir die eerste keer sal ‘n model met ‘n lang asafstand en vyf sitplekke saam met die vyfsitplekmodel met ‘n kort asafstand en die sewesitplekmodel met ‘n lang asafstand beskikbaar wees. Daarby kan voornemende kopers hul voertuie verder verpersoonlik. Die modelle wat deur Land Rover se Special Vehicles Operations-afdeling vervaardig word, sal voortaan as SV bekendstaan en met ‘n nuwe kenteken wat van keramiek vervaardig word, uitgeken word. Drie SV-modelle, die Serenity, die Intrepid en die Signature Suite sal beskikbaar wees. Laasgenoemde model word net met vier sitplekke toegerus maar die insittendes word op ongeëwenaarde weelde getrakteer. Die stiplekke bevat 24 verstellings tesame met ‘n masseerfunksie, terwyl ‘n tafel vanuit die middelkonsole met elektriese verstelling kan verrys indien werkspasie agter in die kajuit nodig is. Die SV-modelle sal beskikbaar wees met die P 530 V8 Twin Turbo en D 350-kragbronne vir die kort- en langbkamodelle terwyl die  P 510e net met die kort bak beskikbaar sal wees. 

Die nuwe Range Rover word teen die middel van 2022 in Suid-Afrika. Verdere besonderhede , soos die samestelling van die reeks en pryse, sal dan bekendgemaak word.

%d bloggers like this: