Breaking News

Sportage nommer vier groet met beperkte topmodel

Wag daarvoor; die nuwe geslag Kia Sportage is nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie.

Die vierde geslag Sportage, wat reeds in 2016 in Suid-Afrika bekendgestel is, was tot dusver die suksesvolste een tot dusver, en in afwagting op die vyfde een, wat vroeg aanstaande jaar hier verwag word, het Kia besluit om met ‘n beperkte nuwe model van die huidige een afskeid te neem.

Die Sportage GT-Line sal net in beperkte getalle vervaardig word en sy plek bo-aan die reeks inneem. Volgens Stephen Crosse, die bemarkings- en-verkoopsdirekteur van Kia Motors Suid-Afrika, is die Sportage die internasionale topverkoper in Kia se reeks, en die nuwe GT-Line is ‘n gepaste manier om die vierde geslag ‘n laaste hupstoot te gee. Hy beskou dit as die mees dinamiese en weelderige model in die Sportage-reeks tot dusver.

Aan die buitekant kan die GT-Line van die res van die reeks onderskei word deur 19 duim-allooiwiele, ligdiode-kombinasie-kop-en agtrerligte, twee chroom-uitlaatpype en modelspesifieke skermplate. Die binnekant spog met kunsleerbekleedselm in twee kleure, glamsafwerking vir die middelkonsole, ‘n GT Line-spesifieke stuurwiel met ‘n plat onderkant en ‘n omvattende 4,2 duim instrumentepaneel in volkleur. Die volgende kenmerke is ook standaard toerusting: sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, outomatiese dubbelsone-klimaatbeheer, buitespieëls wat outomaties invou, ‘n agtduim-raakskerm vir die inligting-en-vermaakstelsel met Android Auto en Apple Car Play, elektries verstelbare voorsitplekke met lendesteun, verhitte sitplekke voor en agter, outomatiese ligdiode-kopligte, ‘n hoogteverstelbare elektriese agterklap, ‘n panoramiese sondak, ‘n koordlose selfoonlaaier  en spoedbeheer.

Aangesien veiligheid vir Kia Motors uiters  belangrik is, is kenmerke soos ABS-remme met afdraandehulp, ses lugsakke, stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp en ‘n trukamera met parkeersensors voor en agter standaard toerusting.

Die Sportage GT-Line word aangedryf deur ‘n turboaangejaagde 1,6 liter petrolenjin met regstreekse inspuiting  wat 130 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 265 Nm teen tussen 1 500 en 4 500 opm lewer en aan ‘n dubbelkoppelaarratkas met sewe gange gekoppel word. Vierwielaandrywing is standaard toerusting.

Die prys van die Kia Sportage 1,6 T-GDI GT-Line AWD, wat ‘n waarborg en padbystand van vyf jaar ongeag die voertuig se kilometerafstand en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km insluit, is R 649 995.

%d bloggers like this: