Sportiewe ASX in beperkte getalle beskikbaar

Mitsubishi Motors het pas aangekondig dat die ASX-reeks uitgebrei is met die toevoeging van ‘n beperkte model wat op die GLX-weergawe gebaseer is.

Die ASX Sport is in grys en wit beskikbaar, en hoewel hy ekstras ter waarde van R 30 000 as standaaardtoerusting het, is sy prys dieselfde as dié van die GLX. Die Sport se standaardkenmerke, wat hy met die GLX deel, sluit onder meer dagryligte, sewe lugsakke, hoë-intensiteit-kopligte, veelsydige sitplekke en ‘n groot bagasieruim in. Die sitplekke is met leer oorgetrek en die voorste sitplekke kan verhit word. Die ASX Sport het ook ‘n panoramiese dak as standaardtoerusting. Die Sport het ‘n paar stileringskenmerke wat by sy naam pas, onder meer ‘n stel swart allooiwiele en ‘n Sport-kentekenstel, waaronder koolvesel-insetsels en strategies geplaasde swart en oranje stroke wat die motor ‘n sportiewe voorkoms gee.

Die belangrikste toevoeging is egter ‘n opgegradeerde inligting-en-vermaakselsel met ‘n raakskerm van sewe duim. Dié stelsel het nie net Bluetooth-verbinding nie, maar is ook versoenbaar met Apple Car Play en Android Auto. Dit maak dat insittendes te alle tye in verbinding kan bly, en dat daar aan elke behoefte wat vermaak betref, voldoen kan word. Die voertuig se deure sluit sodra die bestuurder wegtrek en ‘n tru-kamera vergemaklik parkering.

Soos die res van die ASX-reeks, beskik die Sport oor veiligheidskenmerke soos ABS-remme met elektroniese remverspreiding en noodremhulp, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, syslagstawe, ‘n frommelbare stuurkolom en parkeersensors. Die ASX Sport word toegerus met dieselfde tweeliterenjin met vier silinders as die res van die reeks. Dié enjin, wat net met ‘n vyfgang-handratkas beskikbaar is, lewer 110 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 197 Nm teen 4 200 opm. Volgens die vervaardigers is sy gemiddelde brandstofverbruik 7,5 liter per 100 km wat ‘n reikafstand van omtrent 800 km met die 63 liter- brandstoftenk moontlik maak. Die ASX Sport se prys, wat ‘n fabriekswaarborg van drie jaar of 100 000km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km insluit, is R 399 995, presies dieselfde as dié van die ASX GLX.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: