Breaking News

Subaru se nuwe Outback op pad na Suid-Afrika

Subaru het aangekondig dat die nuwe Outback binnekort in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.

Die reeks sal uit twee modelle bestaan, en albei sal aangedryf word deur ‘n kragtiger 2,5 liter bokser-enjin met regstreekse inspuiting. Verdere inligting oor kraglewering en werkverrigting is egter nog nie bekendgemaak nie. Die twee afwerkingsvlakke staan bekend as Field en Touring, en verskil net in die sin dat hulle vir spesifieke kopers afgewerk is. Die Field spog met ‘n meer geharde afwerking vir die buitelewe-geesdriftige terwyl die Touring meer op die stedelike koper gemik is.

Daar is ‘n aantal nuwe tegnologiese kenmerke wat vir die eerste keer bekendgestel word. Die agterklap werk met kraghulp en kan oopgemaak word deur ‘n hand of arm direk voor die agterste Subaru-kenteken te waai. Dit is ‘n maklike en gerieflike manier om toegang tot die bagasieruim te kry.

Nog ‘n belangrike nuwe kenmerk wat mettertyd vir alle Subaru-modelle beskikbaar sal wees, is die Driver Focus Distraction System, wat bespeur wanneer die bestuurder nie sy of haar volle aandag op die pad gee nie.  Die stelsel maak gebruik van kameras en gesigs-herkenning om vas te stel  of daar tekens van moegheid, of ander afleidings is en waarsku die bestuurder wanneer daar nie volle aandag aan dit wat op die pad gebeur, gegee word nie. Die stelsel kan ook die bestuursposisies, soos die sitplek-verstellings en verstellings vir die buitespieëls vir altesaam vyf bestuurders instel en gesigs-herkenning word ook hiervoor gebruik.

Die binneruim spog met ‘n nuwe vertikale  skerm van 11,6 duim met funksies wat presies soos dié van ‘n slimfoon werk en met Android Auto en Apple Car Play toegerus word. Altesaam vier USB-kragpunte is standaard toerusting vir albei modelle. 

Die jongste weergawe van Subaru se EyeSight-stelsel is standaard toerusting. Dit bevat baanhouhulp en korrigeer die stuur deur middel van vibrasie wanneer die bestuurder uit sy of haar baan op die oop pad beweeg. Die ander EyeSight-funksies, onder meer voorbots-waarskuwing en ‘n blindekol-monitor, kom natuurlik ook nog voor. 

Die pryse van die twee Outback-modelle , wat ‘n onderhoudsplan van drie jaar of 75 000 km en ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km insluit, lyk só:

Outback 2,5i Field ES: R 699 000

Outback 2,5i Touring ES: R 729 000

Die Outback sal op 1 Mei 2021 beskikbaar wees, en verdere besonderhede sal dan bekendgemaak word.

%d bloggers like this: