Subaru se opgekikkerde Forester gou hier

0 Comments

Sedert die Subaru Forester 24 jaar gelede vir die eerste keer bekendgestel is, het dit dié Japanse vervaardiger se gewildste modelreeks geword.

Nou het Subaru Suid-Afrika aangekondig dat die Forester-reeks vir 2021 in Maart beskikbaar sal wees, en die reeks sal twee modelle met ‘n nuwe 2,5 liter-enjin  insluit. Die nuwe vlagskip sal die 2,5 Sport ES wees, en hierdie model sal gemik wees op die koper wat op soek is na ‘n voertuig wat ‘n kombinasie van veelsydigheid en sportiewe stilering bied.

Die nuwe 2,5 liter-viersilinder bokser-enjin sal met Subaru se Lineartronic palwissel (CVT)-ratkas toegerus wees en ‘n Start/stop-fuknsie sal standaard toerusting wees.  Hierdie enjin lewer 136 kW en 239 Nm. Ten spyte van die verbeterde kraglewering sal die 2,5 liter-enjin  se brandstofverbruik dieselfde as dié van  die twee-liter enjin wees, naamlik ‘n gemiddeld van 7,6 liter per 100 km.

Die Sport ES beskik oor verskeie stilerings-kenmerke wat hom van die res van die reeks onderskei. Daar is vyf eksklusiewe kleure beskikbaar, naamlik wit, blou, grys, silwer en swart, en oranje en swart afwerkings-elemente sal hiermee kontrasteer.  Die rooster en stamper, asook die syskorte, modderskerms en die bokant van die agterklap bevat swart elemente terwyl oranje aksente aan die onderkant van die bakwerk en die hoeke van die dakspore voorkom.  Daar is ook oranje afwerking dwarsdeur die binnekant, onder meer op die luguitlate, die ratkieser en die X-Mode-knoppie, terwyul die bekleedsel oranje stikwerk bevat.  Die Sport ES is ook die enigste model wat beskikbaar is met waterbestande sitplek-oortreksels, wat die avontuurlustige leefstyl van Forester-eienaars weerspieël. Dit beteken dat dit bestand is teen onder meer nat swembroeke asook nat en vuil pote van troeteldiere. Die ander model met die nuwe 2,5 liter-enjin is die 2,5 S-ES, wat van die 2,0 S-ES onderskei kan word deur hersiene 18-duim allooiwiele.

Soos wat ‘n mens van Subaru kan verwag, word die Forester toegerus met toonaangewende veiligheids-kenmerke. Die ES-modelle het ‘n blindekol- en dwarsverkeer-monitor, asook kopligte wat outomaties van lae- na hoëstraal en andersom verander soos wat omstandighede dit vereis. Die kopligte draai ook saam met die stuurwiel om sig in die nag om draaie te verbeter. Subaru se Eye Sight-bestuurshulpstelsel is standaard toerusting vir die 2,5 liter-modelle. Dit maak gebruik van ‘n kameragebaseerde bespeuringstelsel en bestaan uit aanpasbare spoedbeheer, voorbots-waarskuwing, baandwaal-waarskuwing en baanhouhulp. Outomatiese noodremhulp is ook deel van hierdie stelsel; wanneer die motor agteruit ry en daar is ‘n hindernis in die pad, gryp die remstelsel outomaties in as die bestuurder nie self betyds optree nie. 

Subaru se Symmetrical All-Wheel Drive-stelsel sal standaard toerusting vir die hele reeks wees. Al vier wiele word permanent aangedryf  en dit verseker die beste moontlike vastrapvermoë en padhouvermoë en wringkrag word afsonderlik na die verskillende wiele versprei soos omstandighede vereis deur padtoestande te bespeur en die wringkrag na die verskille wiele te voer soos dit nodig is. Subaru se Vehicle Dynamics Control (VDC) sorg vir stabiliteit onder alle weersomstandighede deur tegnologie soos ABS-remme, elektroniese remkrag-verspreiding en elektroniese stabiliteitsbeheer in te span soos dit nodig mag wees. Vir meer uitdagende terrein kan die bestuurder die X-Mode-stelsel kies. Hierdie stelsel bestuur die Forester se enjin, ratkas, AWD-stelsel, asook die remstelsel en VDC om die beste moontlike verrigting op terrein soos modder, sand of rotsagtige terrein te verseker. Die stelsel beskik ook oor afdraandehulp. 

Die Forester-reeks, wat gerugsteun sal word deur ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km en ‘n onderhoudsplan van drie jaar of 75 000 km, lyk só:

Forester 2,0i CVT
Forester 2,0i S-ES CVT

Forester 2,5i S-ES CVT
Forester 2,5i Sport ES CVT

Die pryse van die nuwe reeks sal bekendgemaak word wanneer hulle in Maart bekendgestel word.