Breaking News

Subaru vier dertig jaar in Suid-Afrika

Subaru Suid-Afrika vier in 2022 sy dertigste bestaansjaar, en hierdie mylpaal sal op verskeie manière gevier word.

Die eerste Subaru-handelaar het sy deure op 16 Junie 1992 geopen en was geleë op die hoek van Mooi- en Commissionerstraat in die middestad van Johannesburg. Sedertdien het die maatskappy gegroei en altesaam dertien handelaars en vier dienssentrums is landwyd bedrywing, tesame met een handelaar in Botswana.

Ter viering van Subaru se dertig jaar in Suid-Afrika word ‘n aantal inisiatiewe geloods om hierdie mylpaal te herdenk; dit sal Subaru se nalatenskap deur sy klante, personeel en media eer. Elke persoon wat in 2022 ‘n Subaru koop, sal ‘n geskenk van ‘n eksklusiewe kas Aslina-wyn ontvang. Dit is ‘n produk van Subaru se handelsmerkambassadeur Ntsiki Biyela. Een van die ander nuwe inisiatiewe is ‘n eienaarskapkenteken wat Subaru-eienaars vir verskeie mylpale op hul reis met die maatskappy sal beloon. Dit sluit handlesware, avonture en weggeepryse in tesame met ‘n reeks versamelbare kentekens. Die handelaarsnetwerk sal geleenthede ter viering van Subaru se dertig jaar in Suid-Afrika aanbied , terwyl promosiegeleenthede vir eienaars en voornemende eienaars gereël sal word. Die  jongste weergawe van die Forester is onlangs in Suid-Afrika bekendgestel en die nuwe WRX sal binnekort op die mark kom.

Subaru se eerste produk op die Suid-Afrikaanse mark was die Legacy 2,2 GX sedan en stasiewa, en die Legacy Outback het kort daarna gevolg. Die Outback het dieselfde enjin en permanente vierwielaandrywingstelsel as die Legacy gehad en het die weg gebaan vir ander suksesvolle modelle soos die Impreza. Elke Subaru-model wat tot dusver in Suid-Afrika bekendgestel is, is toegerus met Subaru Symmetrical All Wheel Drive en ‘n bokser-enjin.

Die SVX was een van die uitstaande modelle wat in Suid-Afrika beskikbaar was. Hierdie sportiewe koepee met ‘n ontwerp wat deur ‘n vliegtuig geïnspireer is, is deur ‘n 3,3 liter sessilinderenjin aangedryf en is vandag ‘n versamelaarsitem. Die Legacy Outback is vir die eerste keer in 1996 bekendgestel en het die beste kenmerke van die gewone Legacy-stasiewa met ‘n verbeterde grondvryhoogte en ‘n meer geharde voorkoms gekombineer. Die huidige model staan bloot as die Outback bekend. 

Natuurlik was die een model wat die meeste byval by motorgeesdriftiges gevind het, die Impreza WRX, wat groot sukses in die wêreldtydrenkampioenskap behaal het. Die Subaru-wêreldtydrenspan het van 1995 tot 1997 drie vervaardigerstitels gewen en in 1995, 2001 en 2003 het hulle ook die renajerstitels gewen. Hierdie sukses het na die vertoonvloere oorgespoel en die Impreza-, WRX- en STI-kentekens het sinoniem met uitsonderlike padhouvermoë en werkverrigting geword; tot so ‘n mate dat hulle sommige eksotiese motors sleg laat lyk het. Die eerste model het in 1994 in Suid-Afrika op die mark gekom, en namate die motor bekendheid vir sy tydrensukses verwerf het, was ‘n paar Suid-Afrikaanse motorist gelukkig genoeg om elkeen een in die hande te kry.  Die tweede geslag WRX en STI is in 2001 hier bekendgestel, gevolg deur ‘n nuwe model wat in 2008 as ‘n luikrug en in 2009 as ‘n sedan hier op die mark gekom het. Die jongste geslag is sedert 2015 op die mark, en in afwagting op ‘n splinternuwe model in 2023 word ‘n opgeknapte weeergawe van die huidige model binnekort in Suid-Afrika verwag.

Subaru se suksesvolste modelreeks is die Forester, wat in 1997 vir die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel is en dadelik gewild geword het vanweë sy veelsydigheid en uitsonderlike padgedrag op alle padoppervlaktes en onder alle weersomstandighede.  Die XV, wat in 2012 vir die eerste keer bekendgestel is, was Subaru se eerste kompakte oorkruisvoertuig en bied dieselfde veldryvermoë as groter sportnutsvoertuie. Dit is, naas die Forester, die gewildste model in Subaru se Suid-Afrikaanse reeks.

Subaru was een van die eerste borge van die Sani 2C-wedren en die Midmar-myl, en een van die eerste vennote van die Suid-Afrikaanse sportheldesaal.

%d bloggers like this: