Suid-Afrikaners in Dakar 2020 #dakar2020

0 Comments

 

Deur Neels Rabe

Dakar 2020 begin Sondag 5 Januarie, en duur tot Vrydag 17 Januarie.

Dit was seker onvermydelik dat die Dakar-organisasie ‘n slagoffer van sy eie sukses sou word. Die kostes verbonde aan hierdie reuse wedren het te veel geword vir gasheerlande Argentinië, Chili en Bolivië. Hul onttrekking het beteken dat die 2019 Dakar vir die eerste keer in slegs een land plaasgevind het, naamlik Peru.

Die 2020 Dakar volg hierdie resep, maar hierdie keer vind dit plaas in Saudi-Arabië. Dit geskied oor ‘n afstand van 7 500 km, insluitende 5 000 km sneldele waarvan 5 langer as 450 km is. 75% van die 2020 Dakar-roete is sand.

Soos gewoonlik neem ‘n hele paar Suid-Afrikaners deel aan hierdie beroemde wedren.

 

Motorfiets afdeling

Aaron Maré is nie ‘n bekende in Suid-Afrika meer nie. Hy het wel ‘n paar plaaslike junior kampioenskappe gewen voordat hy oorsee is. Aaron woon tans in Dubai, en jaag vanjaar in die Monster Energy Honda span, dus geen geringe prestasie nie. Hy het reeds ‘n paar kampioenskappe in die Midde-Ooste gewen omdat hy hou van jaag in die sand. Hierdie is dus ‘n Suid-Afrikaner om dop te hou in sy Dakar-debuut.

Die 42-jarige Stuart Gregory, ‘n neut-boer, keer terug nadat hy laasjaar moes tou opgooi toe sy motorfiets se enjin gebreek het. Hy neem deel in die moeilikste klas waar geen hulp toegelaat word nie. Sy doel is om Dakar te voltooi.

Dan is daar ook die 60-jarige Wessel Bosman, voormalige SA hekkies-atleet, wat ‘n derde poging gaan aanwend om Dakar te voltooi.

Die groot nuus is egter dat daar twee Suid-Afrikaanse vrouens is wat gaan poog om die eerste vroue uit Afrika te word om die Dakar op ‘n motorfiets te voltooi.

Taye Perry.

 

Taye Perry is 28 jaar oud, en teen slegs 1.58 m en 58 kg, een van die kleinste Dakar deelnemers ooit. As Suid-Afrikaanse veldfietsren vroue kampioen het sy egter reeds haar staal op 2 wiele gewys.

Kirsten Landman

 

Kirsten Landman was tot in 2013 die beste vroue enduro jaer in Suid-Afrika, maar nadat sy ‘n ongeluk in Botswana gehad het, en 11 dae in ‘n koma was, het dit gelyk of haar kompetisie-dae verby is. Onder aanmoediging van die bekende gewese parapleeg en motorfiets-deelnemer aan die 2017 Dakar, Joey Evans, het Kirsten laasjaar weer begin jaag, en gaan sy ook poog om die eerste vrou uit Afrika te word om die Dakar te voltooi.

 

Motor-afdeling

In die motor-afdeling is dit Suid-Afrika se Dakar-held, Giniel de Villiers, wat sy 17de Dakar aanpak. Met 8 podium posisies agter sy naam, bly Giniel een van die gunstelinge. Sy navigator, vir die eerste keer, is Spanjaard Alex Haro.

Giniel het vanjaar ‘n baie beroemde spanmaat – voormalige dubbel F1 wêreldkampioen, Le Mans-wenner asook wêrelduithouren-kampioen, die Spanjaard Fernando Alonso. Alonso het reeds ‘n paar maande gelede aan die Lichtenburg 400 veldren deelgeneem in een van ons plaaslik vervaardigde Toyota veldrenmotors om vir Dakar 2020 voor te berei. Alonso word vergesel deur Marc Coma, wat as sy navigator gaan optree.

Fernando Alonso van Spanje.

 

Gaan Alonso daarin kan slaag om soos Sebastien Loeb, ook ‘n sneldeel te kan wen tydens sy Dakar debuut? Hierdie skrywer is van mening dat Alonso waarskynlik nie die 2020 Dakar eindpunt gaan haal nie.

Die ander Suid-Afrikaanse span om dop te hou, is Hennie de Klerk en Johan Smalberger in hul nuwe Nissan Navarra. Dit sal De Klerk se 2de Dakar poging wees nadat hul 2 jaar gelede 28ste geëindig het, maar die tog die beste van al die nuwelinge gevaar het.

 

MotorPlus wens al ons Suid-Afrikaanse vlagdraers ‘n uitstekende 2020 Dakar toe.

Categories:
%d bloggers like this: