Breaking News

Super-giftige Shelby nou beskikbaar

Die legendariese renjaer en motorsport-vervaardiger Carroll Shelby is 98 jaar gelede gebore.

Ter herdenking het Shelby-handelaars wêreldwyd, onder meer ook in Suid-Afrika, aangekondig dat 98 eenhede van die Shelby Super Snake en 25 eenhede van die Super Snake Speedster vervaardig sal word.

Die Super Snake is ‘n gunsteling onder motorgeesdriftiges en vir 2021 word hy toegerus met ‘n aantal nuwe kenmerke wat hom meer opwindend, maar ook meer verfynd, sal maak. Hoewel die nuwe model steeds deur ‘n vyfliter V8-enjin aangedryf word, verskil sy voorkoms en kraglewering van die gewone enjin, aangesien ‘n Whipple-drukaanjaer aangebring word; dit verhoog die maksimum kraglewering na 615 kW en maak dat hy binne 3,5 sekondes van 0 tot 100 km/h kan versnel. Om te verseker dat die Super Snake se betroubaarheid nie onder verdenking is nie, word ‘n nuwe verkoelingstelsel wat onder meer ‘n nuwe verkoeler en aluminiumtenk insluit, aangebring. Daarby verseker die Borla-uitlaatstelsel ‘n kenmerkende enjin klank.

Aangesien krag niks beteken as dit nie goed beheer word nie, is ‘n Shelby-renbaan-hanteringspakket standaardtoerusting vir die Super Snake; dit bevat onder meer 20 duim allooiwiele met hoëverrigtingsbande en remme met rooi knypers en verbeterde verkoeling. 

Die belangrikste verskille aan die buitekant is die breë modderskerms van aluminium en staalenjinkap wat vir die Shelby Signature-model gebruik word, terwyl die aërodinamiese stileringspakket aangepas is en groter bande gebruik kan word. Daar is hortjies op die kantvensters agter, ‘n drukvlerk en ‘n lugverdeler in die agterstamper.  Opsionele strepe en kentekens is ook beskikbaar. Die binnekant van die Super Snake spog met skermplate in die deure asook matte met die Shelby-embleem, asook ‘n nuwe instrumentepaneel. Die Carroll Shelby Mustang-plaatjie op die paneelbord en binne die enjin ruim weerspieël elke individuele motor se reeksnommer. Diegene wat massa wil spaar, kan besluit om die agtersitplek te laat verwyder en ‘n rolstaaf in die plek daarvanm te laat monteer.

Die Super Snake Speedster is selfs nog meer uniek, aangesin net 25 eenhede beskikbaar sal wees.  Dit is ‘n ontwikkeling van die afslaan-kapmodel, maar met net twee sitplekke.  Die Speedster beskik oor ‘n harde afslaandak , asook unieke strepe en kentekens. 

Die pryse van die Super Snake-modelle, wat nie die prys van ‘n gewone Mustang insluit nie, is R 1 575 400 vir die Super Snake en R 1 635 000 vir die Speedster. Albei modelle kan reeds bestel word.

 

%d bloggers like this: