Suzuki Baleno opgeknap

0 Comments

Suzuki het pas die opgeknapte weergawe van sy Baleno-luikrug in Suid-Afrika bekendgestel, en soos voorheen, sal daar weer GL- en GLX-weergawes beskikbaar wees.

Die Baleno, wat vir die eerste keer in 2015 by die Frankfurtse motorskou vertoon is, is dieselfde grootte as die meeste C-segment-luikrûe maar ding mee in die B-segment vanweë sy prys. Sy lengte van 3 995 mm en sy asafstand van 2 520 mm is in oor-eenstemming met baie luikrûe in die C-segment.

Die Baleno het Suzuki se nuwe Liquid Flow-ontwerp-rigting aan kopers bekendgestel; dit is veral die opvallendste met die chroom-elemente op die sierrooster en die breë stileringslyne op die enjinkap en oor die heuplyn tot by die agterklap. Dit maak die Baleno, met sy sleur-koëffisiënt van 0,299 die mees aërodinamies doeltreffende luikrug in Suzuki se modelreeks.

In die nuwe model word die lyne beklemtoon danksy ‘n wyer, drie-dimensionele chroomstrook wat die nuwe sierrooster en die Suzuki-embleem saam bind.  Die kopligte self het ‘n drie-dimensionele ontwerp en in die GLX is ligdiode-tegnologie standaard toerusting. Daar is ook ‘n nuwe voorstamper met ‘n seskantige sentrale luginlaat, terwyl die GLX ook voorste misligte het. Die GLX word ook toegerus met nuwe, diamant-gesnyde allooiwiele van vyftien duim, chroom-deurhandvatsels en chroomafwerking op die agterklap.  Kopers kan een van ses kleure, onder meer ‘n nuwe metaalkleur, magna-grys, kies.

Aan die binnekant is daar nuwe tweekleur-afwerking vir die bekleedsel en die deurafwerking is nuut.  Die middel-strook op die voor- en agter-sitplekke is ‘n nuwe blou kleur, en dié afwerking kom ook op die deur-panele voor.  Die voorpaneel kry nuwe gepoleerde chroom-afwerking, onder meer ook by die luguitlate, stuurwiel en instrumentehuls.

Wat spesifikasie-vlakke betref, is die Baleno weer eens ‘n voorloper in sy marksegment. Selfs die GL het kenmerke soos lugversorging, kragstuur, elektriese vensters voor en agter, ‘n klankstelsel met Bluetooth, ‘n USB-kragpunt, ‘n CD-speler en kontroles op die stuurwiel.  Daarby spog hy met sleutellose toegang, 12-volt-kragpunte voor en agter en ‘n hoogte-verstelbare bestuurder-sitplek. Die agter-sitplekke is met ISOFIX-hegpunte toegerus, en daar is twee lugsakke en ABS-remme met elektroniese remverspreiding en noodrem-hulp. Die GLX is selfs nog beter toegerus; hierdie model kry die nuwe allooiwiele, klimaat beheer, ‘n enjin-aansitknoppie, ‘n leer-oorgetrekte stuurwiel, ‘n voorste armleuning, parkeersensors en ‘n trukamera.  Die klankstelsel is versoenbaar met Android Auto en Apple Car Play en ‘n seweduim-kleur-raakskerm is daarby ingesluit. Daar is ses lugsakke enn skyfremme op die voor-en agterwiele.

Die Baleno was die eerste Suzuki wat die nuwe TECT (Total Effective Control Technology) ingespan het; dit verenig nuwe ingenieurs-konsepte, hoësterktestaal en geïntegreerde energie-absorberende kanale in die raamwerk en onderstel, wat vir veiligheid en stewigheid sorg.  Dit weeg minder as die tradisionele platform; in die geval van die Baleno slegs 915 kg. 

Die nuwe model behou sy voorganger se 1,4 liter-enjin met ‘n vloeiende inlaat-spruitstuk, aluminium-kopstuk en wisselbare kleptyd-reëling. Dié enjin wat met ‘n vyfgang-handratkas of, in die geval van die GLX, ook  ‘n outomatiese ratkas met vier gange beskikbaar is, lewer 68 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 130 Nm teen 4 200 opm. 

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km insluit, lyk as volg:

Baleno 1,4 GL: R 209 900

Baleno 1,4 GLX-handrat: R 244 900

Baleno 1,4 GLX-outomaties: R 259 900

 

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: