Breaking News

Suzuki brei Vitara Brezza-reeks uit

Suzuki Auto Suid-Afrika het ‘n jaar gelede met ‘n wenner vorendag gekom toe die Vitara Brezza in Suid-Afrika bekendgestel is.

Ter viering van hierdie reeks se eerste verjaardag het die maatskappy ‘n bykomende model by die reeks gevoeg. Die S-Edition vul die gaping tussen die GL en die GLX. Hierdie model is ‘n permanente toevoeging tot die reeks en kombineer die standaard kenmerke van die GL met ‘n paar van die GLX se stilerings kenmerke. Die S-Edition is geskep in reaksie op terugvoer van klante en handelaars wat ‘n model met die GL se standaard kenmerke maar ‘n unieke visuele identiteit wou gehad het.

Die Vitara Brezza-sierrooster is van helder chroom na chroom meet ‘n blokpatroon verander en die donker polikarbonaat-skermplate voor en agter is vervang deur ‘n silwer weergawe met swart aksente op ‘n swart agtergrond. Die skermplate voor en agter word visueel verbind deur silwer kantskermplate. Die ontwerpers het ‘n spieëlbeeld van die voorste en agterste afronding geskep met ‘n oorwegend silwer ontwerp met swart insetsels. Die S-Edition spog met silwer en swart 16-duim allooiwiele met vyftien speke. 

Aan die binnekant is die standard-afwerking op die paneelbord en deurpanele met sagte silwer insetsels vervang. Dit strek van agterdeur tot agterdeur al langs die voorpaneel om. Daar is ook skermplate in die deure wat die Vitara Brezza-embleem bevat. Die S-Edition word toegerus met onder meer ‘n raakskerm met Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play, ‘n veelfunksiestuurwiel, ‘n trukamera, klimaatbeheer en elektriese buitespieëls wat ingevou kan word, in.

Die S-Edition is meganies presies dieselfde as die res van die Vitara Brezza-reeks; die 1,5 liter-viersilinderenjin wat aan ‘n vyfgang-handatkas of ‘n viergang-outomatiese ratkas gekoppel kan word, lewer 77 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 138 Nm teen 4 400 opm. 

Die pryse van die twee S-Edition-modelle is R 266 900 een R 286 900 vir die handrat- en outomatiese model onderskeidelik. Hierdie pryse sluit ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km , ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km en ‘n onbeperkte waarborg teen korrosie van ses jaar en onbeperkte padbystand van drie jaar in.

%d bloggers like this: