Die jongste weergawe van Suzuki se Ciaz-sedan is nou in Suid-Afrika beskikbaar.

Die reeks spog nie net met ‘n aantal bykomende kenmerke en stilerings veranderinge nie, maar ook met ‘n nuwe enjin wat in die hele reeks gebruik word en ‘n GL-model met ‘n outomatiese ratkas is ook by die reeks gevoeg.

Die nuwe Ciaz se sierrooster is herontwerp en strek oor die hele breedte van die voorkant tussen die kopligte. Die GLX kry ook LED-dagryligte en outomatiese LED-kopligte. Die GLX het ook chroomstroke aan die bo- en onderkant van die sierrooster, asook in die omhulsels van die voorste misligte. Daar is ook verdere chroomstroke op die deur-handvatsels, op die skouerlyn en op die bagasie-bak deksel net bokant die nommerplaat. Die GLX spog met geïntegreerde LED-kombinasie-agterligte. Die onderste luguitlaat aan die voorkant is ook nuut ontwerp en die GLX is daar misligte in die trapesiumvormige uitlate aan die kante. Die GL se staalwiele van vyftien duim is met volle wieldoppe toegerus terwyl die GLX sestienduim-allooiwiele as standaard toerusting het.

Die Ciaz GLX sal voortaan toegerus word met ‘n nuwe seweduim raakskerm-klankstelsel. Dié stelsel sal voortaan op alle Suzuki-modelle met die GLX-spesifikasievlak, soos die Ignis en die Baleno, standaardtoerusting wees. Dit kombineer volledige Apple Car Play-, Android Auto- en Mirrorlink- selfonintegrasie met ‘n trukamera, agterste parkeer-sensors, Bluetooth-verbinding en stembeheer. Die nuwe bykomende 4,2 kleur-inligtingspaneel op die instrumentepaneel is standaard toerusting vir albei modelle; dit bevat ‘n ritrekenaar wat gemiddelde brandstof verbruik, buite-temperatuur, en die afstand wat nog afgelê kan word voordat daar brandstof ingegooi moet word. Die Ciaz GLX beskik ook oor outomatiese klimaat beheer, elektriese terugvou-buitespieëls, kombinasie-lkeerbekleedsel, individuele leesligte agter en ‘n terugtrek-sonskerm agter. Die sleutellose toegang vir hierdie model sluit ook ‘n aansitknoppie in. Die GL-spesifikasievlak is self redelik goed toegerus, en dié modelle spog met kenmerke soos elektriese vensters, ‘n afstand beheerde sentrale sluitstelsel, ‘n veelfunksie-stuurwiel met kontroles vir die klankstelsel, ‘n sentrale armleuning mt geëntegreerde bêreplek en ‘n bykomende 12 volt-kragpunt vir agterste insittendes.

Al die modelle het dieselfde dinamiese- en passiewe veiligheid stelsels. Daar is lugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier, ABS-remme met elektroniese remverspreiding en noodremhulp en ‘n hoëvlak-remlig.

Die vorige reeks se 1,4 liter-enjin word vervang deur ‘n nuwe enjin van 1,5 liter, met die keuse van ‘n vyfgang-handratkas of ‘n outomatiese ratkas met vier gange. Hierdie enjin het ‘n kraglewering van 77 kW teen 6 000 opm en ‘n wringkrag van 138 Nm teen 4 400 opm. Die gemiddelde brandstof verbruik is 5,5 en 5,6 liter per 100 km vir die handrat- en outomatiese modelle onderskeidelik. Die reeks is beskikbaar in sewe kleure, naamlik skakerings van wit, rooi, blou, wilwer, grys, swart en bruin.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 60 000 km insluit, lyk soos volg:

Ciaz 1,5 GL-handrat: R 214 900

Ciaz 1,5 GL-outomaties: R 229 900

Ciaz 1,5 GLX-handrat: R 244 900

Ciaz 1,5 GLX-outomaties: R 259 900

%d bloggers like this: