Die gewilde Suzuki Vitara het selfs meer woema gekry met die toevoeging van ‘n turbo-aangejaagde topmodel.

Die kern van die nuwe model is die nuwe turbo-aangejaagde Boosterjet-enjin wat ook in die nuwe Swift Sport aangetref word, en ‘n keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas beskikbaar. Hierdie eniin lewer 103 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 220 Nm teen tussen 1 500 en 4 000 opm. Dié enjin word gekoppel aan ‘n hand- of outomatiese ratkas met ses gange elk; in die geval van die outomatiese model kan ratte deur middel van ratspane agter die stuurwiel gewissel word.

Die Vitara is die jongste afstammeling van Suzuki se reeks sportnuts-voertuie wat in 1988 met die bekendstelling van die oorspronklike Vitara begin het. Mettertyd het die Vitara gegroei met die bekendstelling van die Grand Vitara in 1998. Die tweede geslag Grand Vitrara, wat nou nog in Suid-Afrika te koop is, is in 2005 bekendgestel. Met die groei in die mark vir kompakte sportnuts-voertuie is die huidige Vitara in 2015 bekendgestel. In die Vitara kry die Boosterjet-enjin direkte inspuiting vir skoner en meer doeltreffende verbranding, ‘n turbo-aanjaer met elektriese afvalbeheer om turbodruk vinnig op te bou, veranderende kleptyd-reëling, sestien kleppe, en ‘n ligte samestelling, waaronder ‘n baie kompakte geïntegreerde uitlaat-spruitstuk.

Die krag word aan die voorwiele gelewer en hoewel die outomatiese model dieselfde ratkas as die 1,6 liter-model het en oor ratspane beskik, kry die handratkas ‘n sesde rat by; dit voeg ‘n sportiewe wissel-gevoel by.

Met sy oorspronklike bekendstelling in 2015 het die Vitara uiters positiewe terugvoer gekry as gevolg van sy sportiewe syaansig. Suzuki se ingenieurs het dit reggekry deur ‘n trapesium-vormige onderste luguitlaat, wat afwaarts na die pad se kant toe oopmaak, ‘n skulpagtige enjinkap met ‘n kragbult, ‘n skuins daklyn wat in dik C-pilare eindig, met ‘n opwaartse karakterlyn wat oor die agterste wielnisse strek, by te voeg.

Die Vitara Turbo beskik oor ‘n lang lys bykomstighede, soortgelyk aan dié van die 1,6 GLX. Dit sluit allooiwiele van sewentien duim, asook ‘n keuse van vyf soliede kleure en sewe tweekleur-kombinasies waarin die rompkleur in kontras met die keuse van ‘n wit of swart dak afhangende van die kleur wat gekies word, beklemtoon word. Die Vitara Turbo word ook toegerus met die GLX se ligdiode-dagryligte, asook ligdiode kop- en remligte, silwer dakreëlings en chroomdetail in die sierrooster en onder die misligte.

Aan die binnekant is daar stuur-gemonteerde kontroles vir die klank- en spoedbeheer-stelsels, laasgenoemde met spoed-beperkende werking, parkeer-sensors voor en agter, outomatiese klimaat-beheer, ‘n volkleur-vertoonskerm van 4,2 duim in die instrument-huisie asook elektries beheerde buitespieëls en vensters. Die seweduim-raakskerm is versoenbaar met Apple Car Play , Android Auto en Mirror Link, en sluit ‘n USB-kragpunt, ‘n SD-sok en Bluetooth-verbinding in. Die vertoonpaneel van die tru-kamera is ook op die skerm en daar is outomaties beheerde kopligte , reënsensor-ruitveërs en sitplekke met ‘n kombinasie van leer- en seemsleer-bekleedsel.

Al die modelle in die Viata-reeks bevat ‘n omvattende reeks aktiewe- en passiewe veiligheids-kenmerke. Die aktiewe veiligiehds-kenmerke sluit onder meer stabiliteits-beheer, ABS-remme met noodrem-hulp en elektroniese remverspreiding en kloubeheer in. Onder die passiewe kenmerke is daar onder meer sewe lugsakke, asook Suzuki se Total Effective Control Technology-rompontwerp, wat kant-, romp en impaksones, ultra-sterk staal en bykomende stutwerk vir ‘n romp wat baie styf maar slag-absorberend is, bevat.

Die Suzuki Vitara Turbo word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km, ‘n roeswaarborg van ses jaar ongeag die motor se kilometer-afstand, 24 uur- padbystand van drie jaar ongeag die motor se kilometer-afstand en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km.

Die pryse van die Vitara Turbo is R 378 900 en R 397 900 vir die handrat- en outomatiese modelle onderskeidelik.

%d bloggers like this: