• ’n Verkoopsrekord vir die derde agtereenvolgende maand vir die Japanese
vervaardiger

• Augustus 2019 was beste maand ooit vir Suzuki-handelaars

• Suzuki Mobility Finance behaal nuwe dubbelrekord

Suzuki het die sjampanjeproppe gedurende Augustus vanjaar laat skiet met die
verwelkoming van sy 75 000ste klant. Boonop het die groep se handelaarsnetwerk
’n nuwe verkoopsrekord behaal.

Die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers (Naamsa) berig dat Suzuki
1 581 nuwe voertuie en ligte handelsvoertuie in Augustus van die hand gesit het.
Dit plaas die handelsmerk in die nommer agt-posisie op die vereniging se lys van
voorste vervaardigers.

Augustus is Suzuki se derde agtereenvolgende rekordmaand en verteenwoordig
groei van 23% in verkope vir die jaar. Dit in teenstelling met ’n algehele mark wat
3,9% gedaal het, en die passasiersmotor-marksegment wat tot dusver met 5,7%
gesak het.

“Ons is verheug oor ons handelaarsnetwerk se verkoopsukses. Hulle het 1 057
Suzuki-modelle in Augustus verkoop, die meeste nóg in een maand. Elkeen van
die verkope verteenwoordig ’n mede-Suid-Afrikaner wat gekies het om ons produk
met sy of haar swaar verdiende geld te vertrou,” sê André Venter,
afdelingsbestuurder vir verkope en bemarking van Suzuki Suid-Afrika.

Venter voeg by dat navorsing daarop wys dat voornemende kopers handelsname
verkies wat bekend is vir gehalte en waarde-vir-geld in taai ekonomiese tye. Juis
daarom is Suzuki uitgesonder in marknavorsing en private verkope met
toekennings soos die AutoTrader Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar, CAR-tydskrif
se Beste Kopies en Cars.co.za se Verbruikerstoekennings wat deur WesBank
geborg word.

Suzuki se nuwe verkoopsrekord volg presies twee jaar nadat hy die 1 000-
eenhede-verkoopsgrens vir die eerste keer in Augustus 2017 oorgesteek het met
verkope van 1 004 voertuie. Die daaropvolgende jaar is die 1 000-kerf verskeie
kere oortref en is die jaar op ’n gemiddelde verkoopsyfer van 1 009 voertuie per
maand afgesluit wat Suzuki amptelik in die ‘1 000 eenhede per maand-klub’
verwelkom het.

In 2019 het Suzuki die jaar goed afgeskop met verkope van 1 011 voertuie in
Januarie, ten spyte van ’n waarskuwing deur Naamsa dat die voertuigmark tawwe
toestande kan verwag en dat die mark in 2019 kan krimp.
Sedert die eerste hoogtepunt in Januarie, het die handelsmerk sy eie rekord
verskeie kere verbeter, met veral die drie agtereenvolgende verkoopsrekords in
Junie (1 489), Julie (1578) en nou weer in Augustus (1 581 eenhede).
In vergelyking met dié sukses, het die Suid-Afrikaanse mark in Junie met 1,6%
gedaal, met 3,7% in Julie en 3,9% in Augustus as dit met dieselfde tydperk in die
vorige jaar vergelyk word.

“Met ons positiewe verkoopsmomentum en met erkenning van die harde werk
deur ons handelaarsnetwerk, het ons ’n toetsbestuurder-veldtog by vanjaar se
Festival of Motoring, wat by Kyalami gehou is, van stapel gestuur.

“Ons het besluit om op ons Suzuki Swift en Suzuki Swift Sport te fokus aangesien
laasgenoemde in Augustus bekend gestel is en baie belangstelling ontlok het met
ons eerste turbo-enjin,” sê Venter.

Hy voeg by dat gedurende die gebeurtenis, Suzuki 2 400 toetsritte onderneem het
op die renbaan, die dinamiese hanteringsbaan en op die 4×4 veldry-baan.

Finansieringrekord verbeter
In pas met sy nuwe verkoopsrekord in Augustus, het Suzuki Mobility Finance ook
’n nuwe rekord behaal. Suzuki Mobility Finance is ’n gesamentlike veldtog van
Suzuki Suid-Afrika en WesBank met ’n volledige reeks finansierings- en
versekeringsopsies vir kopers.

Suzuki Mobility Finance het ’n nuwe rekord vir voertuigfinansiering in Julie en
Augustus behaal met kontrakte van meer as R60 miljoen vir dié twee maande.
“Ons finansieringgoedkeurings is, soos die handelaarsverkope, ’n sterk aanduiding
van private kopers se voorkeur vir ’n handelsmerk. Met twee nuwe
finansieringsrekords in twee moeilike maande, bestaan daar geen twyfel dat SuidAfrikaners Suzuki se voertuie as goeie waarde-aanbiedings van gehalte beskou nie,” sê Venter

Swift lei die aanslag
Suzuki se gewildste voertuig volgens die Naamsa-verkoopsyfers, bly die nuwe
Swift met handelaars wat 663 nuwe modelle in Augustus van die hand gesit het.
Dit sluit nou die heel nuutste toevoeging, die Swift Sport met sy 1.4 liter
BOOSTERJET-enjin in.

Ander topverkopers sluit in die Ignis (188), Celerio (140) en Ertiga (138) met nie
minder nie as 115 nuwe Suzuki Jimny’s wat ook verkoop is. Die Jimny se verkope
groei geleidelik oor die laaste paar maande soos die vervaardiger probeer om
meer eenhede beskikbaar te stel en die waglys vir die gewilde 4×4-model te
verkort.

Met sy nuwe rekordverkope in Augustus beteken dit dat Suzuki Suid-Afrika
gemiddeld 1 221 nuwe voertuie per maand vir 2019 verkoop het. Dit is ’n styging
van 21% in sy maandelikse verkope en dui op ’n rekordjaar wat verkope betref.

%d bloggers like this: