Breaking News

Suzuki hersien Ertiga-reeks

Suzuki Auto SA het aangekondig dat die Ertiga-reeks hersaamgestel is en dat ‘n belangrike veiligheidskenmerk standaard toerusting geword het.

Die reeks het voorheen uit vyf modelle bestaan maar daar is net drie modelle in die hersiene reeks. Die reeks bestaan nou uit die GA-handrat en die GL met die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas. Die GLX is aan die mark onttrek en die GL se spesifikasievlak is verbeteer om daardiee leemte te vul.

Soos voorheen word die Ertiga-reeks aangedryf deur dieselfde 1,5 liter-enjin wat vir die Jimny, die Baleno en die Ciaz gebruik word. Hierdie enjin lewer 77 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 138 Nm teen 4 400 opm en bied ‘n keuse van ‘n vyfgang-handratkas of ‘n outomatiese ratkas met vier gange vir die GL.

Die GA is die intreemodel van die reeks en word met onder meer die volgende kenmerke toegerus: ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, tweee lugsakke, elektriese vensters voor en agter, ‘n ritrekenaar, ses bottelhouers, agterste parkeersensors en ISOFIX-hegpunte. Die belangrikste nuwe kenmerk is elektroniese stabiliteitsbeheer, wat standaard toerusting vir die hele reeks is.

Die GL word die vlagskip van die nuwe reeks en voeg die volgende kenmerke by: ‘n veelfunksiestuurwiel,  ‘n afstandbeeheerde sentrale sluitstelsel, ‘n agterste ruitverwarmer en- veër, elektries verstelbare en invoubare buitespieëls, ‘n chroomsierrooster, spoedbeheer, ‘n seweduim-raakskerm met Bluetooth, Android Auto, Apple Car Play en ‘n trukamera en 185/65R 15-bande met allooiwiele.

Die pryse van die nuwe reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van viere jaar of 60 000 km  insluit, lyk só:

Ertiga GA: R 254 900

Ertiga GL: R 295 900

Ertiga GL Outomaties: R 312 900

%d bloggers like this: