Deur Nicholas Smit

Dink net hieraan: ‘n voertuig wat kompak is om gewig laag te hou, groot genoeg is vir vier mense, hoog genoeg om slegte paaie te trotseer, ‘n brandstofverbruik van slegs  5.1 liter/100 km en ‘n intreeprys van R169 900. Voeg daarby dat die handelsmerk “Suzuki” is en jy het ‘n wenner.

Die jongste toevoeging tot Suzuki se plaaslike reeks motors, die Ignis, is pas in Suid-Afrika bekendgestel.

Die 850kg Ignis is in drie modelle beskikbaar, naamlik die GL, en die GLX; laasgenoemde bied ‘n keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas.  Al drie modelle word toegerus met ‘n 1,2 liter viersilinderenjin wat ‘n kraglewering van 61 kW en ‘n wringkrag van 113 Nm lewer.

Die Ignis se vernaamstre mededingers is die Renault Sandero Stepway, die Toyota Etios Cross en die VW Cross Up!

Die intreevlak GL is glad nie spartaans toegerus nie. Sy standaardkernmerke is onder meer ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer, dubbele lugsakke voor, sluitweerremme (ABS) met elektroniese remverspreiding en noodremhulp,  ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplek, ‘n radio en CD-speler met ‘n USB-sok, ‘n ritrekenaar en elektriese vensters en spieëls. Hierdie model se prys is R 169 900

Die GLX is heelwat beter toegerus, en onder sy bykomende kenmerke is dakreëlings, allooiwiele, dagry-ligte en LED-projektorkopligte, klimaatbeheer, sleutellose toegang en ‘n aansitknoppie, agterste parkeersensors, Bluetooth-verbinding en ‘n veelfunksiestuurwiel. Die pryse van die GLX-modelle is R 189 900 en R204 900 vir die handrat- en outomatiese modelle onderskeidelik.

Die pryse sluit ‘n waarborg van drie jaar of 100 000km en ‘n diensplan van twee jaar of 30 000km in.