Breaking News

Suzuki se nuwe Baleno nou in Suid-Afrika beskikbaar

Suzuki Auto Suid-Afrika het pas sy nuwe Baleno in Suid-Afrika bekendgestel.

Die nuwe Baleno lyk baie na sy voorganger maar is ‘n splinternuwe motor wat Suzuki se nuwe ontwerprigting, bekend as Crafted Futurism aan die wêreld bekendstel. Die nuwe vooraansig spog met ‘n driedimensionele sierrooster en ‘n breër luguitlaat as voorheen. Dit skep nie net ‘n vars nuwe voorkoms vir die Baleno nie maar gee ‘n aanduiding van wat ‘n mens in die toekoms van Suzuki kan verwag.

Daar is vier modelle in die reeks; die GL en GLX, elk met ‘n keuse van ‘n vyfgang-handratkas of ‘n outomatiese ratkas met vier gange. Die enjinkapasiteit is van 1,4 liter na 1,5 liter verhoog, en die nuwe enjin, wat ook in onder meer die Vitara Brezza, die Ertiga, die Ciaz en die Jimny gebruik word, lewer 77 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 138 Nm teen 4 400 opm.  Die totale massa van die nuwe Baleno is net 955 kg, wat beteken dat sy krag-tot-massaverhouding 81 kW per ton is.

Die GL is dalk die intreemodel van die reeks maar sy spesifikaasievlak stem grootliks ooreen met dié van die vorige GLX. Aan die buitekant is daar 15 duim-staalwiele met volle wieldoppe en die elektries verstelbare buitespieëls kan met die druk van ‘n knoppie ingevou word. Aan die binnekant is daar ‘n seweduim-volkleurraakskerm met Bluetooth, Android Auto, Apple Car Play en ‘n veelfuksistuurwiel wat met leer oorgetrek is. Klimaatbeheer is standaard toerusting en daar is luguitlate vir die agterste insittendes agter die nuwe paneelkissie tussen die voorsitplekke. Daar is een USB-kragpunt en ‘n 12 volt-kragpunt vir die voorste insittendes en twee USB-kragpunte vir die agterste passasiers. 

Die GLX is selfs beter as voorheen toegerus en kan ondeerskei word deur middel van 16-duim allooiwiele. Die raakskerm is nege duim pleks van sewe en daar is ‘n meer omvattende instrumentepaneel met bykomende inligting. Daarby is verdonkerde glas en ‘n binnespieeël wat outomaties verdof, standaard toerusting vir die GLX.

Die hele reeks word toegerus met veiligheidskenmerke soos twee lugsakke, stabiliteitsbeheer, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke en ‘n trukamera. Die GLX voer dit verder, met vier bykomende lugsakke en twee kenmerke wat grensverskuiwend in hierdie segment is, naamlik ‘n voorruit-inligtingskerm en ‘n 360-grade rondomkamera. Daarby word die GLX ook met ligdiode-projektorkopligte en ligdiode-dagryligte toegerus. Asook sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km  insluit, lyk só:

Baleno 1,5 GL handrat:  R 225 900

Baleno 1,5 GL outomaties: R 245 900

Baleno 1,5 GLX handrat: R 275 900

Baleno 1,5 GLX outomaties: R 295 900

%d bloggers like this: