Suzuki het die tweede geslag van sy intreevlak-mensekarweier, die Ertiga, in Suid-Afrika bekendgestel.

Die nuwe Ertiga is aansienlik langer en breër as sy voorganger, wat reeds in 2010 bekendgestel is. Aan die voorkant is daar ‘n nuwe groot sierrooster, met projeksie-kopligte en individuele ry- en hoërstraal-ligte wat duidelik te sien is. Die onderste luguitlaat, wat in die voorstamper gemontewer is, is ook aansienlik groter as voorheen. Die metaalromp is ook aansienlik meer gevorm as voorheen en diep konvekslyne, wat oor byna die hele lengte van die voertuig strek, is by die middellyn van die bakwerk bygevoeg.

Die ontwerpers het die regop sierrooster aan die agterkant met ‘n effens skuins regop gedeelte op die bagasiebakdeur, reg bo die nommerplaat-houer, nageboots. Die agterlig-samestelling, wat hoog gemonteer is en na die dak strek, gebruik ligdiodes vir die samestelling van die rem- en agterligte. Die nuwe Ertiga is 4 395 mm lank; 130 mm langer as voorheen en die dak is met 5 mm gelig. Daarby is hy ook 40mm breër; dit alles maak dat selfs volwassenes gemaklik in die derde ry sitplekke kan sit. Ondanks die bykomende lengte is die nuwe model se asafstand steeds 2 740mm, wat beteken dat die draaisirkel so klein soos dié van die vorige model is.

Die nuwe sitplekke beskik oor donker doekstof-bekleedsel en danksy ‘n nuwe sitplekveer-ontwerp is dit meer ondersteunend. Die tweede en derde ry sitplekke is onderskeidelik in ‘n 60/40 en 50/50- verhouding verdeel en kan platgevou word indien meer bagasieruimte nodig is. Met al die sitplekke regop hou die bagasieruim, wat oor ‘n verstelbare vloer beskik, 199 liter spasie. Die middelste ry sitplekke kan tot soveel soos 140 mm van agter tot voor gesluit word om meer ruimte beskikbaar te stel terwyl die rugleunings van die derde ry sitplekke met tot 15 grade verstel kan word vir groter gemak. Die instrumente paneel beskik onder meer oor ‘n ritrekenaar wat verskillende brokkies inligting aan die bestuurde gee. Die radio het ‘n ingeboude USB-kragpunt en beskik oor Bluetooth-verbinding. Daar is ook plek vir geldnote en munte, asook ‘n spesiale plek waar ‘n selfoon gebêre en gelaai kan word. Daar is twee lugverkoelde bekerhouers aan die onderste deel van die middelkonsole en ‘n tweede USB-kragpunt is agter die voorsitplekke aangebring vir insittendes in die tweede ry.

Die Ertiga word toegerus met Suzuki se nuwe K 15 B-petrolenjin met regstreekse inspuiting en veranderbare kleptydreëling. Hierdie enjin lewer 77 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 138 Nm teen 4 400 opm. Daar is ‘n keuse van ‘n vyfgang-handratkas of ‘n outomatiese ratkas met vier gange. Drie modelle sal beskikbaar wees, naamlik die GA-handrat, die GL-handrat en die GL-outomaties. Al drie modelle word toegerus met twee lugsakke vir die voorste insittendes, ABS-remme met elektroniese remverspreiding en ISOFIX-hegpunte vir kindersitplekke. Die GL kry ook ‘n trurat- parkeerhulpstelsel en ‘n alarmstelsel. Die D-vormige stuurwiel het veelfunksie-kontroles vir die GL, terwyl die stuurkolom hoogte verstelbaar is. Vir bykomende gerief het die GL ‘n verkoelingstelsel teen die dak wat lugvloei na die agterste sitplekke verbeter.

Die Ertiga-reeks word gerugsteun deur ‘n fabrieks-waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km.

Die pryse van die nuwe modelle is as volg:
Ertiga 1,5 GA: R 214 900
Ertiga 1,5 GL: R 239 900
Ertiga 1,5 GL Outomaties: R 254 900
%d bloggers like this: