Die Suzuki Jimny het sedert sy bekendstelling veral die veldry-liefhebbers gelok omdat dit vir jou groot 4×4 waarde gegee teen ‘n bekostigbare prys. Die eienaars van Jimnys het van sy vermoëns gehou, maar ook van sy onopgesmukte voorkoms. Die Jimny was gemaak vir die veld en nie vir die mode-bewuste nie… Alhoewel enige iemand moet toegee dat die Jimny se voorkoms darem “oulik” is. ‘n Mens torring egter nie aan ‘n wenresep nie en sedert die eerste Jimny in 1970 bekend gestel is, was daar nie veel verandering op veral sy stilering gemaak nie.

Die 2018 Jimny wat in Junie 2018 in Japan bekendgestel is, is die eerste groot verandering, maar tog is die ou bekende hoekige voorkoms wat die Jimny so gewild gemaak het, behou. Dieselfde hoekige voorkoms wat die Land Rover Defenders so aanskoulik gemaak het. Die Defender word ongelukkig nou nie meer gemaak nie. Groot fout. Vir die veldry-liefhebber wat nie in ‘n sagte veldryvoertuig belangstel nie en ‘n Defender sou oorweeg het, sal nou met nuwe oë na die nuwe Suzuki Jimny kyk.

Ván die voorsate se stileringselemente in die nuwe Jimny sluit in:
• Die hoekige voorkoms soos dié van die eerste LJ- en tweede SJmodelreeks;
• Die ronde kopligte en aparte oranje flikkerhulsels van die LJ10, die eerste generasie;
• Die kant-gleuwe op die enjinkap en die regop voorruit-raam van die SJreeks. Die SJ-reeks is die eerste model wat die naam Leeutemmer by 4×4-entoesiaste gekry het;
• Die staalvellings op die GA-spesifikasievlak lyk byna soos dié van die SJreeks;
• Die skulpdop-enjinkap en sierrooster van die SJ en vorige Jimny;
• Die gevormde agterste buffer met geïntegreerde ligte op die hoeke, soos die SJ-reeks.

In die kajuit het Suzuki se ontwerpers ook vorige modelle in herinnering geroep. Die vensterrame en romp bó die skouers is geverfde metaal, nie plastiek nie. Die
spoedmeter en toereteller is in hul eie vierkantige hulsels en die doelontwerpte paneelbord het verskeie stoorplekkies en ’n drievlak-ontwerp.

Die nuwe Jimny is meganies beter as sy voorganger, die 1998 – 2018 model, in feitlik elke opsig. Die nuwe model is gebou op ’n leerraam-onderstel, maar Suzuki se ingenieurs het
’n gepatenteerde X-skakel tussen die twee soliede asse ingevoeg. Hierdie ekstra spanstuk maak die nuwe Jimny se onderstel 1.5 keer sterker as dié van sy voorganger.

Albei asse is steeds vaste asse, maar daar is nuwe kronkelvere en skokbrekers en die nuwe Jimny se grondvry-hoogte is nou 210 mm, 20 mm meer as dié van die vorige model.

Die leerraam in die nuwe model baat by Suzuki se innoverende Totale Effektiewe Beheertegnologie (TECT), wat hoëtreksterkte-staal en nuwe ontwerpmetodes in die romp en onderstel gebruik om die voertuig baie veiliger in ’n botsing te maak. Die nuwe leerraam-onderstel en TECT-romp het die Jimny se wielbasis onveranderd gelaat op 2 250 mm, maar die voorste en agterste wielsporing is met 40 mm verbreed en die voertuig self is nou 45 mm breër. Die Jimny is 50 mm korter, onder meer as gevolg van die nuwe buffer-ontwerp.

  • Nuwe enjin – meer krag, minder brandstof
    Daar is ’n nuwe petrolenjin onder die Jimny se skulpdop-enjinkap. Die K15B viersilinder-petrolenjin het ’n slagvolume van 1.5 liter en lewer 75 kW teen 6 000 r/min en 130 Nm se wringrkag teen 4 000 r/min.

De nuwe K15B-enjin vervang die 1.3-liter M13A-enjin van die voorganger. Die nuwe enjin is ligter, het hoër kompressie en beter ontbrandingsrendement. Dit beteken die enjin lewer meer krag, maar gebruik gemiddeld 14% minder brandstof as die vorige 1.3.

Die nuwe enjin is gekoppel aan ’n vyfgang-handratkas. Die GLX-spesifikasievlak bied ook die keuse van ’n viergang-outomatiese ratkas.

Al die nuwe Jimny-modelle is toegerus met ’n volwaardige 4×4-stelsel – die AllGrip Pro®-stelsel – wat met ’n tweede rathefboom beheer kan word. Die bestuurder kan skakel tussen 4×2 (agterwiel-aandrywing), 4×4 “Hoog” en 4×4 “Laestrek”. Alle modelle is boonop toegerus met stabiliteitsbeheer (ESP) en ’n nuwe beperkte-glyewenaar wat ook aan die remstelsel gekoppel word (Brake LSD).

Alle modelle is toegerus met die ESP-stelsel. Dié stelsel en die rem-gekoppelde Brake LSD-stelsel ondersteun die hoë- en laestrek-4×4-modusse deur krag tussen wiele en tussen die asse te versprei om vastrap-vermoë te verbeter. Laasgenoemde stelsel kan ook een of ’n paar wiele rem indien hulle nie vatplek het nie.

Die ESP en Brake LSD-stelsels koppel ook met Suzuki se nuwe Berg-af en Berg-op funksies. Die stelsels hou die voertuig in een plek as jy teen ’n opdraende wegtrek en help om spoed te reguleer indien jy teen ’n afdraande af ry. Dit maak die nuwe Jimny ook ’n volwaardige veldry-voertuig.

Laastens het die ingenieurs die Jimny se veldry-vernuf nog meer verbeter. Die voertuig se invalshoek is verhoog van 35 grade tot 37 grade. Sy oorsteek-hoek is nou 28 grade (voorheen 27 grade) en sy vertrek-hoek is nou 49 grade, aansienlik beter as die vorige 46 grade.

Gemak, tegnologie en die slim gebruik van spasie
Suzuki het die nuwe Jimny ontwerp om getrou te bly aan sy voorgangers se kompakte-DNS, maar het tog die binneruim ruimer en gemakliker gemaak. Die
vervaardiger het ook verskeie klein verbeterings aan die bergingspasie en praktiese toepaslikheid gemaak.

Een van die groot verbeterings is die ontwerp en gemaklikheid van die voorste sitplekke. Die voorste sitplekke is 55 mm langer en die hele sitplek-raam is wyer vir meer gemak. Interessant genoeg het die ingenieurs die kant-stutte van die rugleuning afgeskuif sodat die voorste insittendes hul skouers makliker kan rondbeweeg, soos wanneer hulle om hulle moet kyk op ’n tegniese veldry-pad.
Die voorste sitplekke kan nou met 240 mm vorentoe- en agtertoe geskuif word. Die voorste insittendes het 30 mm meer beenspasie en die agterste insittendes het 40 mm meer spasie en ’n hoër heup-punt vir meer gemak. Dit is inderdaad die ruimste en gemaklikste Jimny tot nog toe.

In Suid-Afrika het Suzuki ’n nuwe 7-duim raakskerm-klankstelsel in die GLX-model geïnstalleer. Dié stelsel is toegerus met Apple Carplay, Android Auto én Mirror Link vir die omvattendste integrasie van slimfoon-funksies, soos koordlose gebruik en stem-opdragte.

Met die ontwerp van die nuwe binneruim het Suzuki veral op gemak en bruikbaarheid gefokus. Daar is ’n aantal bergingsruimtes regdeur die kajuit wat veral gepas is om ’n slimfoon te bêre en op modelle met die platvou-agterbank kan die agterste sitplekke nou heeltemal in die vloer wegvou.

Die agterste laairuimte sal alle veldry-entoesiaste beïndruk. Op modelle met ’n platvou-agterbank is die bagasieruim met harde plastiek oorgetrek en daar is verskeie hegpunte, ’n 12V-kragsok (op die GLX-spesifikasievlak) en verskeie skroef-gate vir hegstukke onder die agterste vensters en in die laairuim. Suzuki het ook ’n groot verwyderbare laaikas vir die laairuim ontwerp wat eienaars opsioneel kan aankoop en onder die laairuim is daar ’n versteekte toerustingstoorplek wat ook verwyder kan word.

GA- en GLX-modelle 
Om seker te maak die Jimny vind aanklank by die grootste aantal gebruikers hetSuzuki Suid-Afrika besluit om die nuwe model in die GA- en GLX-spesifikasievlak bekend te stel. Die GA-model is die intree-model maar alhoewel goedkoper as die luukser GLX-model, het die GA-model al die veiligheidsfunksies soos twee SRS-lugsakke, ABS-remme met remkrag-hulp (BAS), elektroniese stabiliteitsbeheer (ESP) en ISOFIX-hegpunte vir ‘n kleuterstoel, wat die GLX ook het. Albei modelle het ook volgrootte noodwiel. Alle nuwe Jimny-modelle het ook die AllGrip Pro®-veldry-stelsel met laestrek-ratkas en Brake LSD-stelsel.

Die GLX-model bied ook die keuse van ‘n outomatiese ratkas terwyl die GA-model net ‘n handrat bied. Die GLX het ook bykomstighede soos ’n leer-beslane veelfunksie-stuurwiel, elektriese vensters, kleurgekodeerde kantspieëls en deurhandvatsels, 15” allooivellings, LED-hoofligte, ’n afstandbeheerde sentrale sluit-stelsel en voorste misligte. Die GLX-modelle is ook toegerus met die 7” raakskerm met slimfoon-koppeling en
Bluetooth-selfoonkoppeling, spoedbeheer en die 50:50 platvou agterbanke met kopstutte.

Pryse
Die finale pryse is nog nie bevestig nie, maar sal ’n meganiese waarborg en diensplan insluit. Die geraamde pryse is:
Suzuki Jimny 1.5 4×4 GA handrat: R265 000 (geraam)
Suzuki Jimny 1.5 4×4 GLX handrat: R300 000 (geraam)
Suzuki Jimny 1.5 4×4 GLX outo: R320 000 (geraam)

Die splinternuwe 2018 Jimny sal vanaf 1 November vanjaar in handelaars beskikbaar vir voornemende kopers bekendgestel word.

 

%d bloggers like this: