Die afgelope tyd het Suzuki se markaandeel in die Suid-Afrikaanse mark aansienlik gegroei, en nou het dié maatskappy ‘n aankondiging gedoen wat voornemende eienaars verdere gemoedsrus sal gee.

Elke nuwe Suzuki wat tot aan die einde van 2017 verkoop word, sal ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km kry, pleks van die voormalige drie jaar of 100 000 km.

Volgens mnr André Venter, die hoof van verkope en bemarking van Suzuki Suid-Afrika, het sy maatskappy die afgelope paar jaar hard gewerk om ons klantediens te verbeter en die handelaarsnetwerk uit te brei. ”Ons waarborge en diensplanne is deesdae meer omvattend en makliker om te verstaan. Op hierdie manier verseker ons dat dit binne die bereik van al hoe meer Suid-Afrikaners is.”

Die nuwe waarborg dek ook alle kostes wanneer daar meganiese probleme ondervind word, behalwe wanneer die voertuig misbruik word of wanneer geskeduleerde versienings oorgeslaan word of in die geval van ‘n botsing.

“Om te verseker dat ons klante die meeste voordeel trek, het ons ook ons ooreenkoms met die Automobiel-Assosiasie (die AA) verleng deur  padbystand vir vyf jaar te bied,” sê Venter. Die ooreenkoms met die AA beteken dat eienaars bystand kry met ‘n sleutel wat per abuis toegesluit word, brandstof in ‘n noodgeval, ‘n pap band, ‘n pap battery en selfs aanwysings oor die telefoon as ‘n mens verdwaal. Die AA sal selfs boodskappe na vriende of familie herlei in ‘n noodgeval.