Kort nadat die nuwe Suzuki Swift Sport bekendgestel is, is nog ‘n nuwe model by die reeks gevoeg. Die Suzuki Swift GLX.

Die Swift GLX beskik oor dieselfde luukse kenmerke as die GLX-weergawes van die Ignis- en Vitara-modelle, soos outomatiese klimaat-beheer, asook ‘n volkleur-raakskerm met selfoon-koppeling. Van buite gesien kan die GLX onderskei word deur middel van allooi-wiele met 185/65-bande. Die elektries verstelbare buitespieëls en deur-handvatsels is dieselfde kleur as die bakwerk en die sierrooster, A- en B-pilare en die boonste deel van die C-pilaar is verdonker. Daar is ook geïntegreerde parkeer-sensors in die agterstamper.

Aan die binnekant is daar ‘n stuurwiel wat met leer oorgetrek is, asook ‘n hoogte-verstelbare bestuurder-sitplek. Die seweduim-raakskerm bevat selfoon-koppeling, ‘n USB-kragpunt en volle Apple Car Play en Android Auto-integrasie. Die stelsel werk ook met stembeheer en die beeld van die trukamera verskyn op die raakskerm. Daar is ook sleutel-lose toegang met ‘n aansit-knoppie.  Die GLX gebruik dieselfde 1,2 liter turbolose enjin as die GA en GL-modelle en bied ‘n keuse van ‘n hand- of semi-outomatiese (AMT)-ratkas met vyf gange elk. Dié enjin lewer 61 kW teen 6 000 opm en het ‘n wringkrag van 113 Nm teen 4 200 opm. Die handrat- en AMT-modelle kan topsnelhede van onderskeidelik 170 en 165 km/h behaal.

Die GLX word toegerus met veiligheidskenmerke soos ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, twee voorste lugsakke, ABS-remme, LED-agterligte en ‘n hooggeplaaste LED-remlig in.

Die hele Swift-reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 km.

Die pryse van die handrat- en AMT-modelle is onderskeidelik R 199 900 en R 214 900.

%d bloggers like this: