Breaking News

Suzuki verhoog produksie van Jimny

Te midde van ‘n toename in gewildheid en lang waglyste het Suzuki aangekondig dat hy sy Gurgaon-produksie-aanleg in Indië opdrag gegee het om die Jimny te vervaardig.

Die Jimny, wat verlede jaar sy vyftigste bestaansjaar gevier het, sal aan dieselfde spesifikasies as die uitvoermodel, wat tot dusver nog net in Japan vervaardig is, voldoen, en produksie by die Indiese aanleg het ‘n aanvang geneem om die lang wêreldwye waglyste  teen te werk. Die fabriek is een van die grootstes in die Suzuki-netwerk, en vervaardig ook modelle soos die Swift, die Ignis en die Baleno. Dit dien as een van die anker-aanlegte vir hoëvolume-produksie en Suzuki se wêreldwye bestuursbeleid wat ook hier toegepas word, beteken dat alle Suzuki-voertuie aan dieselfde gehalte-standaarde voldoen, ongeag waar hulle vervaardig word. 

Die huidige Jimny is die vierde geslag en sy gewildheid het verder toegeneem nadat hy as die wêreld se Stadsmotor van die Jaar aangewys is. Dit het tot baie lang waglyste, ook in Suid-Afrika, gelei, en die bykomende produksielyn sal verseker dat voornemende kopers hul voertuie gouer sal ontvang. Die Jimny het hom gevestig as een van die mees bekostigbare 4×4-voertuie ter wêreld en het reeds verskeie toekennings, onder meer die beste 4×4 in die Britse Motor van die Jaar-toekennings asook Auto Trader se gemak-nutsvoertuig van die Jaar gewen.

%d bloggers like this: