Sedert die Suzuki Vitara se bekendstelling in 2015 is daar reeds 1700 eenhede verkoop en sy kombinasie van ‘n uiters hoë veiligheid standaard en relatief bekostigbare prys het daartoe gelei dat hy verskeie toekennings gewen het, onder meer twee opeen-volgende eerste plekke in die kategorie vir kompakte gesinsmotors in Cars.co.za se verbruikerstoekennings wat deur Wesbank geborg word. Nou het dit egter tyd geword om die Viata-reeks op te knap, en hoewel die nuwe modelle nog meganies dieselfde as hul voorgangers is, word ‘n bykomende model, met Suzuki se turbo aangejaagde Boosterjet-enjin van 1,4 liter, later vanjaar by die reeks gevoeg.

Daar is egter heelwat kosmetiese veranderinge aan die nuwe model. Die nuwe sierrooster spog met horisontale hortjies en die Suzuki-kenteken word deur nuwe, helder kopligte omring. Die voorstamper het ‘n nuwe trapesoïdale luguitlaat met misligte op sekere modelle en volle LED- kopligte vir die GLX-modele. Die vertikale LED-dagryligte word in ‘n nuwe J-vormige inlegsel, wat swart op die GL en chroom op die ander modelle is, ingesluit. Dit strek van die kante van die nommer-plaathulsel tot by die bokant van die misligte. Aan die agterkant is daar nuwe kombinasieligte, wat die voorste LED-ligte naboots, ingesluit. Nuwe gepoleerde 17-duim allooiwiele is vir die GL+ en GLX beskikbaar en die GLX se voor- en agterstampers is met parkeersensors toegerus.

Aan die binnekant is daar nuwe weelde- en gemaksfunksies; die boonste deel van die paneelbord word byvoorbeeld nou van sagte material van hoë gehalte vervaardig en daar is nuwe, meer duursame bekleedsel vir die GL+ en GLX-modelle. Die swart stikwerk op die GL+ se sitplekke word met kontrasterende wit stikwerk vervang en die GLX kry nou ‘n kombinasie van suede- en swart sintetiese leerbekleedsel. Die GL+ en GLX word ook nou toegerus met ‘n volkleur LED-vertoonpaneel in die instrumente paneel wat inligting soos ryafstand, die temperatuur buite, ‘n ratwyser en, vir die GLX AllGrip, die gekose bestuursmodus aandui. Die hele reeks het onder meer elektriese vensters (net voor op die GL), sentrale sluiting, lugversorging met ‘n stuifmeelfilter, kragstuur en agtersitplekke wat kan platslaan, as standaardtoerusting. Die GL+ kry ook klimaatbeheer, spoedbeheer, ‘n veelfunksie-stuurwiel en elektriese vensters voor en agter, terwyl die GLX ook nog ‘n panoramiese sondak, dakrelings en ‘n unieke instrumente paneel het.

Die hele reeks beskik oor verskeie veiligheids-kenmerke wat die standard in sy marksegment stel. Daar is sewe lugsakke, onder meer een vir die bestuurder se knieë, stabiliteits-beheer en ABS- remme met noodremhulp in al die modelle; dit alles het gemaak dat die Vitara ‘n vyfstergradering in die Euro NCAP-evaluerings program gekry het. Al die modelle eht ook ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, ‘n volgrootte noodwiel, asook driepunt-veiligheidsgordels vir vyf insittendes. Daar is vir eers net een enjin beskikbaar, naamlik dieselfde 1,6 liter viersilinderenjin wat voorheen gebruik is, en wat 86 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 156 Nm teen 4 400 opm lewer. Die koper het ‘n keuse tussen ‘n hand- of outomatiese ratkas met vyf of ses gange onderskeidelik. Die meeste modelle is voorwiel-aangedrewe, maar die GLX-handrat is ook beskikbaar met Suzuki se intelligente en aanpasbare All Grip-vierwiel aandrywing-stelsel.

Dit stel bestuurders in staat om verskillende bestuurs-modusse te kies. In die outomatiese modus sal die stelsel hoofsaaklik in voorwiel-aandrywing funksioneer en na vierwielaandrywing oorskakel wanneer die padtoestande dit vereis. In Sportmodus word die enjin- en versneller reaksie verander en in modder- of sneeutoestande sal dit wringkrag-lewering aktief onder al vier wiele versprei om vir moontlike glyerige toestande voorsiening te maak. Die bestuurder kan ook vierwielaandrywing teen ‘n snelheid van tot 60 km/h sluit vir verhoogde vastrapvermoë wanneer nodig.

Die nuwe Vitara-reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000km. Die pryse, wat onveranderd gelaat is in vergelyking met die vorige modelle, lyk soos volg:

Vitara 1,6 GL: R 281 900
Vitara 1,6 GL+ (handrat): R 318 900
Vitara 1,6 GL+ (outomaties) R 337 900
Vitara 1,6 GLX (outomaties): R 359 900
Vitara 1,6 GLX All Grip (handrat): R 374 900

%d bloggers like this: