Terugblik op motorverkope Januarie 2019

0 Comments

Voertuigverkope daal, maar uitvoere styg.

Volgens die Januarie Naamsa verslag vir voertuigverkope van Januarie 2019 was dit ‘n swak verkope-maand vir Suid-Afrikaanse passasiermotors.

Passasiersmotorverkope het vergeleke met Januarie 2018, met 3 512 eenhede (10%) gedaal, terwyl ligte handelsvoertuie – bakkies en paneelwaens – egter steeds goed vertoon het. Laasgenoemde kategorie het altesaam 11 681 verkope aangeteken – twee meer eenhede as 12 maande gelede.

Totale verkope van 42 374 voertuie in Januarie was ‘n daling van 3 398 eenhede (7.4%) vanaf Desember 2018, terwyl dit ook bekend gemaak is dat die verhuringsmark vir bykans 20 persent van alle verkope verantwoordelik was.

Die tendens is dus duidelik: Toerisme-aanvraag styg steeds en daarmee saam die gebruikte motor-mark wat deel is hiervan, terwyl individuele eienaarskap besig is om te krimp.

Onder die Top Tien vervaardigers was daar vir gebruiklike wenners soos Toyota en Volkswagen steeds goeie nuus, terwyl die oorblywende agt musical chairs gespeel het.

Oudergewoonte was Toyota weer eens heelbo met ‘n indrukwekkende totaal van 11 254 eenhede wat meer as 2 000 eenhede beter was as in Desember verlede jaar. Soos dit enige goeie bemarkingsgerigte maatskappy betaam, ry Toyota op die rug van sy Dakar-triomf, en is sy Hilux (2 794) steeds die algehele topverkoper, gevolg deur besondere prestasies deur Corolla Auris/Quest (2 202), Fortuner met 1 000 verkope en Quantum (1 281).

In die tweede plek het Volkswagen (7 318) ook goed gevaar met nagenoeg 700 eenhede meer as in Desember, en ook die onderskeiding as topverkoper onder passasiersmotors. Hierdie prestasie behoort aan Polo (2 512), gevolg deur Polo Vivo (2 461). Die groep se Tiguan sportnuts het ook goed gevaar met 448 verkope wat net effens swakker was as Toyota RAV se 476 verkope, maar aansienlik beter as Hyundai se Tucson op ‘n beskeie 225 verkope.

Vir Ford was Januarie ook ‘n goeie maand – behalwe vir die Kuga-storie wat maar net nie wil gaan lê nie. Met ‘n totaal van 4 473 verkope, ‘n verbetering van meer as ‘n duisend eenhede vir Desember, het Ford weer sy gebruiklike derde plek algeheel “herower” ten koste van Nissan wat hom in Desember van die podium afgehaal het. Soos gebruiklik, het Ford staatgemaak op Ranger (2 1 94), EcoSport (679) en Figo op 669 verkope om sy kolfbeurt aansien te gee.

Nissan (3 910) sal dalk teleurgesteld wees om terug te sak na sy gebruklike vierde plek algeheel, maar dit was darem vier eenhede meer as in Desember – danksy NP200 (1 483), NP300 (529), en Datsun GO op 560 verkope. Rooi liggies begin egter flikker vir Qashqai (171) en X-Trail (144). Dalk is dit tyd vir, soos die Duitsers dit so mooi in Neudeutsch stel, ein Facelift!

Ondanks ‘n geringe verkopedaling (2 797 teenoor 2 839 in Desember) oor sy vyfde plek (een beter as in Desember) ten koste van Renault, sal Hyundai heel tevrede wees met goeie vertonings deur Grand i10 (867), i20 op 715 verkope en die H100 bakkie (283). Hyundai se Motor van die Jaar-finalis (Kona) sukkel maar met ‘n beskeie 102 eenhede wat verkoop is.

Vir Renault is Januarie 2019 ‘n maand wil hulle gou sal wil vergeet. Na Desember 2018 se skitterende 2 934 verkope en die vyfde plek onder die top tien, het verkope gedaal tot 1 443 eenhede en die sesde plek. Gelukkig het Kwid (519), Duster (220) en Sandero II (293) goeie verkopesyfers aangeteken.

Isuzu (sewende en 1 359 verkope) het darem een plek opgeskuif ondanks ‘n tien eenhede-daling teenoor Desember. Isuzu het ‘n beperkte modelreeks en steun dus sterk op D-Max (821), KB (271) en MU-X  met 38 verkope.

KIA bly in die negende plek algeheel met Desember se totaal  van 1 159 wat tot 1 224 gegroei het danksy Picanto (612) en Rio (316). KIA se gewilde Sportage kon net 165 kopers oortuig.

Aanhangers van die Driepunt-ster sal verheug wees dat Mercedes-Benz darem weer die lys gehaal het met 1 203 verkope na ‘n sukkel-Desember toe hulle net 996 eenhede kon verhandel. Omdat Mercedes-Benz nie individuele modelverkope bekendmaak nie, sal ons nooit weet hoeveel, indien enige, van hulle X-klas dubbelkajuitbakkies hulle verkoop nie.

Hou gerus ook ‘n ogie op Suzuki Auto (1 011)  wat, vermoed ek, binne ses maande by die uitgelese top tien-groep gaan aansluit – aangehelp deur die briljante nuwe Jimny se 116 verkope en ‘n ellelange waglys.

Afgesien van die sogenaamde top tien, is daar ook altyd roeringe onder die ander vervaardigers/invoerders. So slaag Jaguar (121) steeds daarin om beter te vaar as Lexus (62), terwyl Jaguar/Land Rover (391) tot beter in staat is. Volvo (181) sal ook kennis neem van flikkerende rooi liggies, veral gedagtig daaraan dat sy Motor van die Jaar-finalis – die XC40 – maar ‘n skrale 11 kopers beïndruk het.

Intussen het selfs Subaru, wat dikwels sukkel om by drie syfers uit te kom, ‘n heel skaflike 131 verkope aangeteken, terwyl die superrykes lustig voortgekoop het onder hul gunsteling-handelsmerke soos Bentley (6), Lamboghini (5), Ferrari (5), Maserati (3), Porsche (97) en Audi R8 met vier verkope.

Intussen verwag ekonome dat die bedryf sal baat by ‘n meer stabiele politieke omgewing na die verkiesing en  redelik stabiele nuwe voertuigpryse wat op 2.5% aansienlik minder as die huidige inflasiekoers is.

TOP TIEN PASSASIERSMOTORS

  1. Volkswagen Polo   2 512
  2. Volkswagen Polo Vivo 2 461
  3. Toyota Corolla Auris/Quest  2 202
  4. Toyota Fortuner 1 000
  5. Hyundai Grand i10 867
  6. Hyundai i20 715
  7. Toyota Etios 698
  8. Ford EcoSport 679
  9. Ford Figo 669
  10. KIA Picanto 612

TOP TIEN LIGTE HANDELSVOERTUIE

  1. Toyota Hilux 2 794
  2. Ford Ranger 2 194
  3. Nissan NP200 1 483
  4. Toyota Quantum 1 281
  5. Isuzu 1 092
  6. Nissan NP300 529
  7. Hyundai H100
  8. Mahindra Scorpio 266
  9. Volkswagen Amarok 231
  10. Toyota Land Cruiser PU 228
Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: