Toyota C-HR opgeknap vir 2020

0 Comments

      • Skerper voorkant-stilering
      • Veiligheidsopgraderings vir al die modelle
      • Toyota Safety Sense nou ook in C-HR beskikbaar
      • Apple CarPlay en Android Auto bygevoeg
      • Driegradering-modelreeks behou (Standard, Plus en Luxury)
      • Nuwe kleure, waaronder Inferno Orange en Passion Red

 

Toyota se kompakte kruisvoertuig, die CH-R se ontwerp, veiligheid en toerusting is opgedateer vir 2020. Die hernuwe Toyota C-HR bly egter getrou aan sy unieke koepee-agtige stilering.

 

VISUEEL

Die voorste sowel as die agterste dele het detail-aandag gekry, wat hierdie uitgesproke voertuig aansienlik verfyn het, terwyl ’n geverfde onderlip die voertuig met ’n sterk, breë en verhoogde houding versterk.

Die voorste buffer het nou ’n breër en groter onderste lugskort en luginlate wat meer regop is. Die “gesigsontrimpeling” sluit ook die herposisionering van die misligte in, wat nou hoër en verder na die buitekant verskuif is.

Die hoofligte op die Standard– en Plus-modelle is opgegradeer tot ligdiode-tegnologie (wat dit in lyn bring met die luukse model), met die dagligte (DRL’e) en rigtingwysers nou in een frontale projektor gekombineer wat ’n enkele gladde lyn bo die groot balk vorm. Agter is die nuwe helderrooi stertligte met ’n blinkswart drukvlerk verbind, wat ’n enkele skoon vorm skep.

 

VORM

Die turbo-aangejaagde petrolenjin van 1,2 liter is behou as die ankerkragbron van die reeks. Die enjin lewer moeitelose krag en ryvermoë teen middelspoed-enjinsnelhede, en is gekoppel aan ’n palwisseltransmissie (CVT) of sesgang-handratkas.

Die enjin lewer steeds 85 kW en 185 Nm oor ’n breë toerestrek, terwyl hy slegs 6,3 liter per 100 km brandstof gebruik (6,4 vir die model met die CVT-ratkas).

Die elektriese kragstuur (EPS) is opgegradeer sodat die C-HR nou ’n beter stuurgevoel bied. Al die weergawes het ook ’n opgegradeerde NVH-pakket om kajuitgeraas verder te verminder. Die pakket vir die wiele en bande bestaan ​​uit 17”-wiele vir die Standard-model, terwyl die Plus– en Luxury-graderings turbine-vormige 18”-allooiwiele kry.

 

TEGNOLOGIE

Die nuwe C-HR maak sy buiging met ’n nuwe multi-mediastelsel wat deur Toyota self voorsien word en wat dié fabrikaat se konnektiwiteitsaanbod verhoog. Hierdie stelsel maak nou volledige slimfoon-integrasie moontlik en ondersteun selfs die nuutste weergawes van Apple CarPlay™ en Android Auto™. Die insittendes kan hul selfone hiermee op die voertuigskerm weerspieël – iets wat ’n wêreld van konnektiwiteits-opsies, wat musiekstroom- en navigasie-oplossings insluit, open.

Die skermgrootte is as deel van die multimedia-opgradering en is van 6.1 tot 8” (20 cm) vergroot. Die skerm vir die multivertoonskerm (MID) is ook opgegradeer van 3.7 tot 4.2” (10 cm) vir die Plus-gradering.

Alle Toyota-modelle is toegerus met Toyota Connect, met ’n gratis 15 Gb se Wi-Fi-data, voertuigtelematika en verbeterde gebruikersfunksies deur die MyToyota-toepassing.

 

VEILIGHEID

’n Sleutelkomponent van hierdie leefsiklusverfrissing is die bykomende veiligheidspesifikasie vir die hele modelreeks. Die Standard– en Plus-gradering ontvang kant-, gordyn- en bestuurderknie-lugsakke – buiten dié vir die voorste bestuurder en passasier – terwyl die agterste sitplekgordel-slagbeperkers en -styftrekkers by die Standard-gradering gevoeg is.

 

Die vlagskip-weergawe, die Luxury-model, erf ’n volledige reeks elektroniese bestuurdershulpmiddels in die vorm van die Toyota Safety Sense-veiligheidstelsel. Dit bestaan ​​uit ’n blindekolmonitor (BSM), baanwisselhulp (LCA), agterkant-dwarsverkeerwaarskuwing (RCTA), voorbotsstelsel, aanpasbare spoedbeheer (ACC) en baanhouhulp.

 

SKAKERINGS

Die Standard– en Plus-modelle is in ses buitekleure beskikbaar, waaronder die nuwe Inferno Orange en Oxide Bronze-metaalvlokkiekleure. Die Luxury kan uitsluitlik in tweekleur-skakering bestel word – met Passion Red, Nebula Blue en Inferno Orange as die nuutste kleure wat beskikbaar is. Almal gaan met ’n swart dak gepaard.

 

WAARBORG

Al die C-HR-modelle word met ’n diensplan vir ses versienings of 90 000 km (tussenposes is op 15 000 km vasgestel) en ’n 3-jaar/100 000 km-waarborg verkoop. Klante kan ook ’n verskeidenheid diens- en/of waarborgverlengings by hul handelaarskap koop.

 

PRYSE

Toyota C-HR 1.2T                              – R 371 700

Toyota C-HR 1.2T Plus                      – R 403 000

Toyota C-HR 1.2T Plus CVT              – R 415 100

Toyota C-HR 1.2T Luxury CVT         – R 476 600