Breaking News

Toyota Corolla Cross kan reeds bestel word

Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) het pas aangekondig dat bestellings vir die Corolla Cross, wat in November vanjaar bekendgestel word, reeds op dié vervaardiger se webtuiste geplaas kan word.

Twee enjin keuses sal beskikbaar wees, naamlik die 1,8 liter vier-silinder enjin met sestien Kleppe asook die hibriede-kragbron van 1,8 liter wat ook pas vir die Corolla Hybrid bekendgestel is. Die bekende Xi-, Xs en Xr-modelbenamings sal ook vir die Corolla Cross gebruik word. Al die modelle sal ‘n palwissel (CVT)-ratkas as standaard toerusting hê.  Die Corolla Cross sal in TSAM se fabriek naby Durban vervaardig word en tussen die Urban Cruiser en die RAV 4 inpas.

Die Xi is oudergewoonte die intreemodel van die reeks, en word toegerus met die volgende standaard kenmerke: kleurgekodeerde stampers en buitespieëls, ligdiode-agterligte, outomatiese kopligte, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie en buitespieëls wat elektries verstel en weggevou kan word. Aan die binnekant is daar vier bekerhouers, ‘n agtersitplek wat in ‘n 60/40-verhouding verdeel is en platgevou kan word, asook ‘n veelfunksiestuurwiel. ‘n 12 volt-kragpunt, ‘n multi-inligtingskerm en elektriese vensters met enkelaanraking. Toyota Connect is standaard toerusting vir die hele reeks.

Die middelste model is die Xs, wat met die volgende bykomende kenmerke toegerus word: opgegradeerde ligdiode-kopligte,’n leerstuurwiel,  parkeersensors agter, outomatiese ruitveërs, ‘n trukamera. Leerbekleedsel en ‘n dubbelsone-klimaat-beheerstelsel is standaard toerusting, asook ‘n TFT-multi-inligtingskerm. Die klankstelsel bevat ‘n raakskerm met Android Auto en Apple Car Play, asook altesaam drie USB-kragpunte, twee meer as die Xi. Benewens bykomende veiligheidskenmerke word die allooiwiele vir die Xr van 17 na 18 duim opgegradeer. Die swart sierrooster van die Xi en XS maak plek vir een wat in swart en grys afgewerk is. 

Al die modelle word toegerus met veiligheidskenmerke soos stabiliteitsbeheer, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en wegtrekhulp. Die Xr spog ook met Toyota Safety Sense wat onder meer ‘n blindekolmonitor, baanhouhulp en ‘n voorbotswaarskuwing insluit. Verder beskik die Xr se kopligte met outomatiese hoëstraalwerking asook parkeersensors voor en agter.

Die Xs Hybrid en Xr Hybrid  sal die eerste plaaslik vervaardigde motors met hibriede-tegnologie wees. Die standaardenjin wat vir al drie modelle beskikbaar sal wees, lewer 103 kW teen 6 400 opm en wringkrag van 172 Nm teen 4 000 opm. Die hibriedemodel  se kragbron lewer 72 kW teen 5 200 opm en wringkrag van 142 Nm teen 3 600 opm terwyl die hibriedekragbron 90 kW lewer. 

Die Corolla Cross sal beskikbaar wees in wit, pêrelwit, grys, silwer, rooi, blou en swart.

Die pryse van die Corolla Cross-reeks, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 00 km en ‘n diensplan van ses versienings of 90 000 km insluit, lyk só:

Corolla Cross 1,8 Xi CVT: R 349 900
Corolla Cross 1,8 Xs CVT: R 390 100
Corolla Cross 1,8 Xs Hybrid CVT: R 413 000
Corolla Cross 1,8 Xr CVT: R 425 400
Corola Cross 1,8 Xr Hybrid  CVT: R 448 300

%d bloggers like this: