Breaking News

Toyota Corolla opgeknap vir 2017

Deur Daantjie Badenhorst, Motorplus-korrespondent.

Sedert sy aanvanklike bekendstelling in Suid-Afrika in 1975 het die Toyota Corolla een van Suid-Afrika se gunstelingmotors geword en selfs ‘n opknappingskuur is groot nuus onder Corolla-liefhebbers.

Die elfde geslag Toyota Corolla-reeks, en die agtste wat in Suid-Afrika beskikbaar is, het begin van 2017 ‘n aantal detailveranderinge om met stylveranderinge en tegnologieverbeterings tred te hou, ondergaan.

“Een van baie redes hoekom die Corolla so gewild in Suid-Afrika is,  is dat hy nog altyd voldoen het aan die vraag na ‘n bekostigbare en betroubare gesinsmotor, “ sê  Glenn Crompton, die vise-president van bemarking van Toyota Suid-Afrika. Die Toyota Corolla word in 150 lande oor die hele wêreld verkoop en is verantwoodelik vir ongeveer 20% van Toyota se totale verkope.

Die nuwe reeks kry ‘n aantal veranderinge aan die voorste en agterste stilering terwyl die binnekant ook opgeknap is. Daar is nuwe kopligte aan weerskante van die klein boonste rooster met LED-kopligte vir die Exclusive-modelle terywl die nuwe voorste stamper ook ‘n groter onderste rooster bevat.  Daarby is die enjinkap ook hoër as voorheen. Aan die agterkant kry die 1,8 liter-modelle LED-agterligte en ‘n nuwe chroom-strook beklemtoon die breedte van die die motor.

Aan die binnekant is daar ‘n nuwe paneelbord met herontwerpte kontroles vir die klimaatbeheer en ronde luguitlate. Die raakskerm vir die inligting-en-vermaakstelsel is van 6,1 na 7 duim vergroot op die Prestige-modelle.

Die reeks enjins in onveranderd gelaat, drie peteol- en een dieselenjin sal steeds beskikbaar wees. Die 1,3 liter-enjin lewer 73 kW teen 6 000 omwentelinge en 128 Nm teen 3 800 omwentelinge. Danksy Toyota se ervaring in motorsport is hierdie enjin lig en kompak, en dit verbeter die motor se  krag-tot-massaverhouding.  Volgens die vervaardiger is die gemiddelde brandstofverbruik 6,0 liter per 100 km. Hierdie enjin is net met ‘n sesgang-handraktas beskikbaar.

Die volgende enjin is die 1,6 liter, wat met die sesgang-handratkas of ‘n Multidrive S-outomatiese CVT-ratkas beskikbaar is. Hierdie enjin lewer  90 kW teen 6 000 omwentelinge en 154 Nm teen 5 200 omwentelinge. Met die handratkas is die gemiddelde brandstofverbruik 6,6 lier per 100 km.

Die vlagskip onder die petrolenjins is die 1,8, wat ook met die hand- of outomatiese ratkas beskikbaar is. Hierdie enjin lewer  103 kW teen  6 400 omwentelinge en 173 Nm teen 4 000 omwentelinge. Die gemiddelde brandstofverbruik is 6,4 liter per 100 km met die handratkas.

Die turbo-aangejaagde dieselenjin van 1,4 liter gebruik Toyota se Optimal Drive-tegnologie wat maksimum verkverrigting, omgewingsvriendelikheid en brandstofdoeltreffendheid verseker. Hierdie enjin lewer 66 kW teen 3 800 omwentelinge en 205 Nm se wringkrag teen tussen 1 800 en 2 800 omwentelinge.

Die Corolla-reeks is beskikbaar in drie spesifikasievlakke, naamlik Esteem, Prestige en Exclusive. Die Esteem is beskikbaar as ‘n 1,3, ‘n 1,6 en ‘n 1,4 D-4D. Hierdie modelle het onder meer sluitweerremme, deure wat outomaties sluit as die motor wegtrek,  en ses lugsakke as standaardtoerusting. Die pryse van hierdie modelle wissel van R 261 300 vir die 1,3 tot R 294 400 vir die 1,4 D-4D.

Die Prestige is die middelste spesifikasievlak, en is beskikbaar met al vier enjins. Benewens die Esteem se standaardtoerusting kry die Prestige-modelle ook leerbekleedsel, ‘n stuurwiel wat met leer oorgetrek is, 16-duim-allooiwiele, spoedbeheer en ‘n oudio-raakskerm van 7 duim. Die pryse van die Prestige-modelle wissel van R281 300 vir die 1,3 tot R313 500 vir die 1,8.

Die Exclusive is die topmodel in die reeks en kry heelwat bykomende standaardkenmerke. Daar is lugsakke vir die bestuurder en passasier, asook gordynlugsakke en vir die voorste passasiers se knieë. Verder kry die Exclusive-modelle sleutellose toegang, ‘n knoppie om die motor aan te sit, voorste misligte, outomatiese klimaatbeheer, outomatiese ruitveërs, en ‘n spoedmeter met ‘n TFT-paneel.  Die Exclusive is net met die 1,8 liter-petrolenjin beskikbaar, met die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas. Die pryse van hierdie modelle is onderskeidelik R 336 300 en R 349 400.

Die Corolla-reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km is by die prys ingesluit.

%d bloggers like this: