Só maak Toyota tydens Covid-19 beperkings

0 Comments

‘n Goeie idee hoe daar in die toekoms by motorhandelaars te werk sal gaan om steeds besigheid sonder die risiko om die coronavirus oor te dra, is sopas deur Toyota, Suid-Afrika se grootste motorvervaardiger bekend gemaak.

Volgens maar mnr. Andrew Kirby, die president en uitvoerende hoof van Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM), het die geskiedenis bewys dat wanneer ’n wêreldwye of selfs nasionale krisis ’n land tref, ’n verandering altyd in die mark en in die sake-omgewing sal plaasvind. “Die bedryf van besighede sal nooit weer dieselfde sal wees nie. Vervaardiging sal verander, werk-van-’n-afstand-af sal vermeerder, digitalisering sal versnel en klante se kooppatrone sal nooit weer dieselfde wees nie. Dit is ’n geweldige geleentheid vir ons om die manier waarop ons sake doen, te verander en die nodige veranderinge aan te bring.”

 

Mnr. Andrew Kirby, die president en uitvoerende hoof van Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM).

 

Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (DTIC) het aangekondig dat alle handelaars van 25 Mei tot 6 Junie 2020 met 60% van hul personeelkorps mag werk. Alle handelaars sal in die derde fase – van 8 Junie 2020 totdat Vlak 4 opgehef word – met tot 100% personeel op die perseel mag werk, en kontak met klante sal ook op die terrein toegelaat word, hoewel dit tot die minimum beperk word, terwyl verkope van voertuie op ’n afstand steeds aangemoedig sal word.

Volgens mnr. Leon Theron, senior vise-president van verkope en bemarking Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) het Toyota handelaars onmiddellik die geleentheid aangegryp om hul deure vir sake te heropen, toe Suid-Afrika Vlak 4 van die nasionale inperking begin Mei betree het. “Ons Toyota-, Hino- en Lexus-handelaars het begin om voertuie te versien, te verkoop en te herstel op maniere wat die gesondheid en veiligheid van klante voorop stel deur die hoogste standaard van skoonmaak- en higiëne-maatreëls in samewerking met toepaslike fisieke afstande in te stel.”

Voordat TSAM-handelaars hul deure amptelik heropen het, moes hulle eers voorbereidende maatreëls inspan om hul werkers en klante van ’n voldoende veilige werksomgewing te voorsien. Dit was alles deel van ’n multifase-plan om die sakewiele so vinnig as moontlik te laat begin draai, maar sonder om kortpad te kies. Dit het beteken die geboue moes berook en deeglik ontsmet word voordat dit vir die “nuwe werklikheid” opgestel kon word.

Ander aanvullende maatreëls sluit in dat alle verversingstasies vir klante afgesny moes word, brosjures en tydskrifte van rakke en tafels af verwyder moes word, terwyl werknemers oor Covid-19 opgelei en protokol vir skoonmaak en ontsmetting ingestel moes word. Daarbenewens moes alle Covid-19- opvoedkundige artikels tot voordeel van klante, waaronder naamborde en aanwysingsmerke vir fisieke afstande, opgestel word.

Nou sal klante se hande eers ontsmet word voordat hulle die handelaarskap betree, terwyl betaling met geld ontmoedig sal word ten gunste van elektroniese oorbetalings, tjek-/kredietkaart-tiktransaksies sowel as selfoontoepassings soos Snapscan en Zapper (kredietkaartmasjiene moet gereeld ontsmet word).

“TSAM stel belang in die algemene welsyn van sy handelaars en personeel, en daarsonder kan ons nie sake doen nie. Ons wil hulle ook bedank vir al die werk wat agter die skerms gedoen is voordat ons ons bedrywighede kon hervat. Vanuit ’n Toyota-perspektief gaan dit egter nie net oor voldoening van al die owerheids-regulasies nie, maar ook oor die beskerming van mense se lewe en om te verseker dat ons klante en personeel so veilig as moontlik by ons handelaars is,” sê Theron.

Onderdele-verkope hervat om diens- en herstelbedrywighede by handelaarskappe te ondersteun

Die rol van TSAM se onderdeleverspreidingsentrum in Atlasweg, Johannesburg, kan nie onderskat word nie, want dit is die lewensaar van die onderneming se naverkope-onderneming. “Baie klante se voertuie se versieningstussenposes het in die middel van die grendeltyd geval, en ons onderdeleverspreidingsentrum is nou gereed om voorraad aan dienssentrums reg oor die land te lewer sodat egte Toyota-, Hino- en Lexus-onderdele in klante se voertuie gebruik kan word,” sê Theron.

Net soos met die meeste Vlak 4-reëls vir sake-ondernemings werk die Atlas-pakhuis tans met slegs 50% van sy personeel, terwyl sommige werknemers aangemoedig word om van die huis af te werk (twee skofte word bedryf om aan die vraag te voldoen). Voor die heropening moes die pakhuis van 40 000 m² eers berook en deeglik ontsmet word voordat die personeel weer kon begin werk.

TSAM het pendeldienste gereël vir werknemers wat op openbare vervoer staatmaak ten einde die gevaar dat werkers op pad werk of huis toe met Covid-19 aangesteek kan word, te beperk. Personeel word by hul huise afgehaal, met ’n aangewese spanleier aan boord om te verseker dat elke passasier se temperatuur gemeet en hande ontsmet word en elkeen ’n masker dra. Die spanleier sien ook toe dat iemand met ’n koors hoër as 37,5 grade nie werk toe gaan nie, dat die pendeltuig nie meer as 70% van sy sitplekvermoë oorskry nie, en dat alle protokol vir fisieke afstande in die voertuig nagekom word.

Met hul aankoms by die werk ondergaan die personeel streng keuringsmaatreëls. Werknemers se koors word weer gemeet terwyl fisieke afstande gehandhaaf word, en hulle word ook vrae gevra oor hul fisieke bewegings sowel as moontlike interaksie met Covid-19- positiewe gevalle. Slegs werknemers wat hierdie voorondersoeke slaag, sal toegelaat word om te werk, terwyl diegene wie se resultate buite die bepalings val, op die terrein verder deur mediese personeel ondersoek sal word. As dit nodig sou wees, kan hulle selfs Covid-19-deeltoetse by die maatskappy se doelgemaakte veldlaboratoriumfasiliteit aflê.

“Dit spreek vanself dat die dra van maskers – so ongemaklik as wat dit is – in die werkplek verpligtend geword het.

“Ons wil ook hê dat almal met kennis toegerus is en daarom het ons ’n opleidingsessie oor Covid-19-etiket verpligtend vir alle personeel in die onderdelepakhuis gemaak,” sê Theron.

Vervaardiging onder bepaalde toestande het by die Prospecton-aanleg hervat

Nigel Ward, TSAM se uitvoerende vise-president vir vervaardiging en ondersteuning, sê Toyota se fabriek het sy bedrywighede in die eerste week van Mei met beperkte en noodsaaklike werknemers in elke gebied van die aanleg hervat – wat dus voldoen aan die regering se bepaalde bedryfsvermoë van 50% ingevolge Vlak 4.

“Ons het doelbewus stadig begin om ons arbeidsmag te beskerm en onsself die geleentheid te gee om bedrywighede in hierdie uitdagende tye te verfyn. Ons sal op dieselfde trant voortgaan – die situasie in ooreenstemming met die departement van handel, nywerheid en mededinging ontleed en, indien nodig, sal ons ons benadering, wat ooreenstem met alle faktore wat op die spel is, wysig, waaronder inperkingsregulasies en die gesondheid van ons werknemers,” sê Ward.

TSAM sê slegs werkers sonder enige onderliggende gesondheidskwessies is in Mei weer by die aanleg toegelaat. Die bedrywighede is onder streng maatreëls hervat. Die fokus was om ’n veilige werksomgewing te skep wat fisieke aftande en persoonlike higiëne bevorder sowel as proaktiewe maatreëls om die verspreiding van Covid-19 by die aanleg te voorkom.

Die gewone Covid-19-protokol beteken alle werknemers wat die fabriek se perseel binnegaan en verlaat, se koors moet gemeet word, en hulle moet die duidelike afbakenings wat op die vloer geplaas is, gebruik om die veiligheidsafstand van 1,5 meter tussen mense te handhaaf. Daarbenewens is die tafels in die kantien herontwerp met verdelings tussen personeel terwyl die gebruik van storte gestaak is.

In die huidige klimaat is vervaardiging by die Prospecton-aanleg nie op volle vermoë nie, maar mnr. Kirby is positief dat hierdie uitdagings die bedryf die geleentheid bied om dinge anders te doen. Van die derde week in Mei af was vervaardiging 40% van die volumes voor die grendeltyd (met een skof) en sal dit na verwagting 75% van die volumes voor die inperkings in die laaste week van Mei bereik.

 

 

 

 

Categories:
%d bloggers like this: