• Toyota Gazoo Racing SA jaag met 3 opgedateerde Toyota Hilux-renmotors
  • Giniel de Villiers jaag saam met Dirk von Zitzewitz
  • Nasser Al Attiyah en Mathieu Baumel terug vir 2019-Dakar
  • Bernhard ten Brinke en sy nuwe navigator Xavier Panseri rond die span af

 

Toyota Gazoo Racing SA se span vir die 2019-Dakar is sopas aangekondig. Die span, wat uit drie motors bestaan, sal in Suid-Amerika in die jongste weergawe van die renbeproefde Toyota Hilux jaag wanneer hulle die wêreld se moeilikste motorren in Januarie 2019 aandurf. Dit volg op die span se erfenis wat in 2012 begin het toe Toyota SA Motors ’n span vir dié ikoniese ren ingeskryf het.

Giniel de Villiers

Giniel de Villiers sal weer in die 2019-ren agter die stuur wees. Hy jaag in die komende Dakar-ren weer saam met sy Duitse navigator, Dirk von Zitzewitz, saam met wie hy dié ren in 2009 gewen het.

Dié twee het sedert daardie oorwinning al vyf podiumposisies vir Toyota aangeteken en is daarop uit om dié geskiedenis in 2019 voort te sit.

De Villiers het onlangs sy tweede agtereenvolgende Suid-Afrikaanse veldtydrenkampioenskapstitel gewen – weer saam met die navigator Dennis Murphy langs hom in die Toyota Hilux. Toyota het tussen De Villiers en sy spanmaat Henk Lategan al van 2015 af ’n onoorwonne rekord in die plaaslike reeks.

Nasser Al Attiyah

De Villiers/Von Zitzewitz sal soos in 2018 saam met Nasser Al Attiyah van Katar en sy Franse navigator, Mathieu Baumel, as spanmaats jaag. Dié twee het bekende gesigte in Toyota Gazoo Racing SA-kleure geword nadat hulle in ’n Suid-Afrikaanse Toyota Hilux in die 2017- en 2018-Dakar-renne sowel as in die FIA se wêreldbekerreeks vir veldtydrenne gejaag en dié titel die afgelope drie jaar agtereenvolgens gewen het – twee keer in ’n Toyota Hilux. Al Attiyah/Baumel het ook vanjaar se Marokkaanse veldtydren in ’n Toyota Gazoo Racing SA Hilux gewen, wat hul vyfde agtereenvolgende oorwinning in dié uiters moeilike ren was.

“Vir my is die nuwe weergawe van die Toyota Hilux waarskynlik die beste renmotor waarin ek nog gejaag het,” het Al Attiyah gesê nadat hy die ren in Marokko gewen het. “Die motor kan die moeilike goed maklik kafdraf en word met elke weergawe net beter.”

Die derde span in vanjaar se Toyota-span vir die Dakar-ren is die “vlieënde Hollander” Bernhard ten Brinke. Dié jaer van Nederland, wat in 2018 saam met Michel Périn gejaag het, het sy staal gewys deur reg deur die ren onder die voorste vyf te jaag. Hulle het ook die skrikwekkende Fiambala-sneltrajek, een van die moeilikste in onlangse Dakar-renne, gewen, wat bewys het hoe goed Ten Brinke is. ’n Wrede terugslag in die voorlaaste sneltrajek, ’n skaars enjinfout, het hul kollig gesteel. Ten Brinke is egter terug en het ’n nuwe navigator langs hom.

“Michel was skitterend en het my werklik gehelp om so vinnig as moontlik te wees,” het Ten Brinke oor die verandering gesê. “Hy het egter besluit om uit te tree en ek is baie in my skik om Xavier Panseri dié keer langs my te hê.”

Panseri, ook van Frankryk, is alles behalwe ’n vreemdeling wanneer dit by motorsport kom en het oor die jare hoofsaaklik in tydrenmotors diens gedoen. Hy het egter in die 2015-Dakar saam met die Poolse superster Krzysztof Holowczyc gejaag en hulle was derde algeheel.

Al drie spanne sal in die jongste weergawe van die Toyota Hilux jaag, wat destyds ’n groot verbetering vir die 2018-Dakar ondergaan het. Die motor is vir daardie ren met ’n middelenjinuitleg en nuwe vering aangepas, en dit is reg deur die res van die seisoen in toetswerk verfyn.

Glynn Hall, die spanbestuurder van die Toyota Gazoo Renspan.

“Die SACCS is ons hooftoetsgebied vir die jaar en die data wat deur ons twee jaers in dié kampioenskap oor ses rondes versamel word, is van onskatbare waarde vir ons Dakar-ontwikkeling,” verduidelik Glyn Hall, die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof. “Ons het vanjaar ook in Katar en Marokko gaan jaag en baie in daardie twee renne geleer.”

Hoewel die enjin, vering en algehele gewig van die voertuig in 2018 verder verfyn is, sal ’n kernfaktor vir die 2019-Dakar-ren die grootte van die luginlaat wees, wat vir dié ren 37 mm moet wees.

“Die FIA het hard daaraan gewerk om die verrigting van die turbodiesel-aangedrewe motors en die turbolose V8’s, soos ons motor, te balanseer,” verduidelik Hall. “Dit is ’n voortdurende proses en hoewel nie een kamp waarskynlik ooit sal erken hy is doodgelukkig met al die reëls nie, het ons geen keuse as om by die reëls te bly nie. Die kleiner luginlaat gaan vanjaar gewis teen ons tel, maar met die laer hoogtes in Peru kan ons dalk net genoeg woema hê om dit te laat werk.”

Die grootse gedeelte van die 2019-Dakar word in sagte sand beslis, wat geneig is om die Toyota V8-enjin se krag te tap. Aan die ander kant behels die 2019-roete nie werklik baie dele hoog bo seevlak nie, wat baie kan help wanneer dit by algehele verrigting kom.

Die span het ook ‘n nuwe samewerkingsooreenkoms met die Nederlandse oliemaatskappy, Eurol, beklink. Hierdie maatskappy het in die verlede vir Bernhard ten Brinke in die Dakar-veldtrydren, sowel as ander renne, ondersteun. In 2019 sal al drie Toyota Gazoo Racing SA-motors egter Eurol se handelsmerk as deel van hul verfwerk dra, en die span is trots daarop om saammet hierdie nuwe maatskappty te kan werk.

Die ren begin en eindig in Lima, die hoofstad van Peru, en behels tien sneltrajekte wat die deelnemers op ’n massiewe sirkelroete deur die suidelike deel van die land neem voordat die ren op 17 Januarie 2019 weer in Lima eindig.

“Niemand twyfel oor hoe taai die Dakar-ren is nie,” sê Hall. “Selfs al is dit in net een land – Peru – hou dit steeds groot uitdagings in, waaronder die terrein, navigasiewerk en die temperatuur. Maar ons is dol oor uitdagings en koester die geleentheid om in Januarie die glorie te gaan najaag.”

Die 2019-ren is die 41ste weergawe van die Dakar-ren. Die byeenkoms het deur die jare 29 lande aangedoen – drie in Europa, vyf in Suid-Amerika en 21 in Afrika. Dit is die tweede grootste motorsportskouspel ter wêreld, met net F1 wat groter is. In die 2019-ren sal spanne van altesaam 54 lande deelneem, waarvan 523 deelnemers reeds geregistreer het. Dit behels 188 motorfietse en vierwielmotorfietse, 103 motors en 44 vragmotors.  Aan die einde van die ren sal 1 200 uur op 70 televisiekanale in 190 lande uitgesaai wees met bykans 2 000 geakkrediteerde joernaliste wat daaroor verslag sal doen.

“Die uiterste uitdagings van die Dakar-ren pas perfek by die Toyota Hilux,” sê Calvyn Hamman, senior visepresident vir verkope en bemarking by Toyota SA Motors. “Die ren gee ons voortdurend ’n platform om die onmiskenbare taaiheid en betroubaarheid van die Toyota Hilux ten toon te stel en ons is vol vertroue om ons spanne in hierdie 41ste weergawe van die ren op die wenverhoog te sien.”

 

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Toyota geniet ’n gesamentlike voordelige vennootskap met Eurol, Toyota Finansiële Dienste en die Innovation-groep sowel as Hallspeed, Imperial Toyota, SKF, Spanjaard, OMP, NGK, Donaldson, Mastercraft, Edgecam, 3M, Bandit Signs, Shatterprufe, Supreme Springs, Smith’s Manufacturing, TRD, Peritus Forex, First National Battery, Duxbury Netgear, Lumotech en
Plan-C Productions.

 

 

2019-DAKAR: SPANNE

 Toyota Gazoo Racing SA sal vir die 2019-Dakar-ren, die 41ste weergawe van hierdie ikoniese ren, in drie motors deelneem. Die ren begin Sondag 6 Januarie 2019 wanneer die staatmakers Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz in die navigatorsitplek en Nasser Al Attiyah van Katar en die Fransman Mathieu Baumel saam jaag. Die Nederlandse tydren- en veldrenjaer Bernhard ten Brinke sal Xavier Panseri (Frankryk) langs hom as navigator hê.

“Ons span vir die 2019-Dakar is grootliks onveranderd teenoor dié van 2018, met die uitsondering van Bernhard se nuwe navigator. Dit gee ons groot stabiliteit in die span en hul vertoning in die 2018-Dakar-ren het onteenseglik gewys waartoe al drie in staat is,” sê Glyn Hall, die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof. “Giniel sowel as Nasser het die byeenkoms al gewen, dus weet hulle presies wat dit vereis. En Bernard se spoed in die vorige ren was eenvoudig elektries, dus is ons vol vertroue vir die komende ren.”

 

JAER: GINIEL DE VILLIERS

De Villiers het in baie dele van die wêreld ’n huishoudelike naam geword, hoofsaaklik danksy sy oorwinning in die 2009-Dakar-ren. Die stil Stellenbosse jaer het egter ook talle kampioenskappe in ’n wye verskeidenheid renformules aangeteken, waaronder die 2017- en 2018-Suid-Afrikaanse veldtydrentitels.

De Villiers het tot dusver in 15 Dakar-renne gejaag en het slegs een keer nié onder die toptien geëindig nie (in 2007, as gevolg van ’n enjinbrand). Hy het agt podiumposisies in die Dakar-ren aangeteken – vyf daarvan agter die stuur van ’n Suid-Afrikaanse Toyota Hilux.

 

NAVIGATOR: DIRK VON ZITZEWITZ

Von Zitzewitz het in 2007 as navigator langs Giniel de Villiers ingeskuif, hoewel sy Dakar-rekord tot in 1997 strek toe hy op ’n motorfiets deelgeneem het. Hy was vyfde in sy debuutjaar en sewende in 1998. In die volgende ren het hy verskeie sneltrajekoorwinnings aangeteken, maar nie die ren voltooi nie. Hy het toe sy hand aan navigasie gewaag en by die Amerikaners Mark Miller en Robby Gordon aangesluit voordat hy en De Villiers saamgespan het. Hulle het die 2009-Dakar-ren gewen en is sedertdien steeds saam.

 

JAER: NASSER AL ATTIYAH

Die wêreld van veldtydrenne word die afgelope vier jaar deur Al Attiyah oorheers nadat dié sterjaer van Katar die FIA ​​se veldtydrenwêreldbeker in 2015, 2016 en 2017 gewen het – die laaste twee agter die stuur van ’n Suid-Afrikaanse Toyota Hilux. Hy het die Dakar-ren twee keer gewen met sy mees onlangse oorwinning in 2015 (MINI) en het ook aan die wêreldtydrenkampioenskap, ’n volledige wêreldtoermotorkampioenskap en ’n string ander renreekse reg oor die wêreld deelgeneem.

Dié vriendelike jaer is ook ’n gevestigde kleiduifskut en het ’n brons medalje in die Londense Olimpiese Spele in 2012 gewen. Hy het vanjaar ook die Tydren van Marokko vir ’n rekord vyfde agtereenvolgende keer gewen.

 

NAVIGATOR: MATHIEU BAUMEL

Die Franse navigator Mathieu Baumel het Al Attiyah al ’n paar keer vergesel en drie FIA-veldtydrenkampioenskapstitels saam met dié superster van Katar gewen. Baumel, wat uit Manosque in Frankryk se Luberonstreek kom, spesialiseer in veldtydrenne sowel as tydrenne, en het sy eerste titel in die Dakar-ren in 2005 aangeteken. Sedertdien het die vriendelike Fransman ses kampioenskappe in verskeie rendissiplines aangeteken, waaronder die 2015-Dakar-veldtydren, die WRC2-klas in die Wêreldtydrenkampioenskap en die FIA ​​Wêreldbeker.

JAER: BERNHARD TEN BRINKE

Bernhard ten Brinke

Die sportfanatikus Bernhard ten Brinke kom van Zeddam in Nederland, waar hy op 6 September 1977 gebore is. Die ervare sakeman besit ’n gevestigde kombuismaatskappy in Nederland, maar sy ware passie lê in sport – meer spesifiek motorsport. Ten Brinke jaag sedert 2004 in motorrenne en het sy tande in die Renault Clio Sportbeker-baanrenne gesny voordat hy in 2009 aan tydrenne deelgeneem het. Hy het sy Dakar-buiging in 2012 gemaak en met die navigator Mathieu Baumel langs hom in ’n hoogs geloofwaardige agtste plek geëindig.

Ten Brinke het hom in 2014 by Overdrive Racing aangesluit en sy veldtydrenervaring die volgende jaar aansienlik uitgebrei. Hy was sewende in die 2015-Dakar-ren, maar het nie die ren in 2016 voltooi nie en in 2017 op tydrenne gefokus toe hy die Dakar-ren misgeloop het. Hy het ook nie die 2018-Dakar-ren voltooi nie, maar het ’n epiese sneltrajekoorwinning in Fiambala aangeteken. Hy was tot in die voorlaaste sneltrajek van die tydren op pad na ’n podiumposisie.

 

NAVIGATOR: XAVIER PANSERI

Die 47-jarige Xavier Panseri is geen vreemdeling vir die warm sitplek van ’n renmotor nie, en het al baie spoednotas in sy renloopbaan gelees. Die Fransman het sedert 2007 saam met sy landgenoot Bryan Bouffier gejaag en die Poolse tydrenkampioenskap drie keer agtereenvolgens saam met hom gewen. Die twee het ook oorwinnings in Monte Carlo en Corsica aangeteken, en Panseri het die 2010-navigatorskampioenskap in Frankryk gewen. Hy het ook aan die 2015-Dakar-ren saam met die Poolse superster Krzystof Holowczyc deelgeneem en hulle het die uitmergelende ren in die 3de plek algeheel voltooi. Die 2019-Dakar-ren sal sy eerste Dakar saam met Ten Brinke wees, hoewel hulle in 2018 saam aan die Tydren van Marokko deelgeneem het.

 

 

2019-DAKAR: JONGSTE WEERGAWE VAN TOYOTA HILUX HOU BELOFTE VAN SPOED EN BETROUBAARHEID IN

Toyota Gazoo Racing SA sal met die nuutste weergawe van sy renbeproefde Toyota Hilux in die 2019-Dakar deelneem. Hierdie jongste evolusie verteenwoordig die hoogtepunt van ontwikkeling, wat in 2012 met die heel eerste Toyota Hilux-Dakar-motor begin het. Dié motor het ’n tweede plek in sy debuutren behaal en die afgelope ses jaar ongelooflike vordering getoon.

’n Splinternuwe weergawe van die Toyota Hilux is in die 2018-Dakar-ren bekend gestel. Glyn Hall, die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, het die nuwe motor destyds as ’n “tegnologiese sprong vorentoe” beskryf en die motor het hom gewis van meet af aan met ’n tweede en ’n derde plek in die 2018-Dakar-ren bewys.

Die 2018-weergawe was ’n radikaal veranderde motor, met ’n nuwe enjin-uitleg en nuwe vering. Tog het dit alles ingesluit wat die span die vyf jaar wat die bekendstelling voorafgegaan het, geleer het.

Die motor, wat intern as die IMA-model van die Toyota Hilux bekend staan, beskik oor onafhanklike (I vir independent) agtervering, ’n Middelgemonteede enjin en Aandrywing deur al vier wiele. Die enjin sit net agter die voorwiele, tussen en effens onder die bemanning. Die onafhanklike agtervering is behou, hoewel die voorvering weens die nuwe uitleg van die motor splinternuut was.

Nou is die nuutste weergawe gereed om die 2019-Dakar aan te durf, en Hall wys gou daarop dat hoewel die algehele uitleg soortgelyk is aan dié van die 2018-motor, die nuwe motor aansienlik verfyn is.

“Ons het die turbolose V8-enjin van die vorige motor oorgedra en ook die ratkas en die meeste van die dryfstelsel behou,” sê Hall voorts. “Maar ons het die Hilux reg deur 2018 ontwikkel. Ons het sodoende ’n beter veringopset, meer krag uit die enjin en talle kleiner verfynings wat ’n aansienlik verbeterde motor tot gevolg het.”

Die meeste van die toetswerk vir die 2019-Dakar het in die ses rondes van die Suid-Afrikaanse veldtydrenreeks, wat Toyota ook as vervaardiger gewen het, plaasgevind. Bykomende toetse is egter in die Katar-veldtydren gedoen, asook die tydren van Marokko, wat Nasser Al Attiyah en sy navigator, Mathieu Baumel, in hul Suid-Afrikaanse Toyota Hilux gewen het.

Wat die ander toerusting betref, het die Toyota Hilux IMA dieselfde dryfstelsel as die vorige weergawe, wat beteken dat die betroubaarheid van die vorige motor, wat met die skerper hantering en beter balans van die nuwe uitleg gepaard gaan, behou word.

“Die Dakar is ’n byeenkoms wat jy een dag op ’n keer aandurf, en jy moet nooit ’n maklike ren verwag nie,” sê Hall. 1“Ons motor is die afgelope twee jaar egter aansienlik geslyp, en ons het alle rede om selfversekerd vir Suid-Amerika te wees.”

 

2019-DAKAR: DIE ROETE – 100% PERU

Die 2019-Dakar keer terug na Peru in Suid-Amerika, waar die eerste helfte van die 2018-ren ook beslis is. Maar in ’n nuwe kinkel sal 100% van die 2019-Dakar in die woestynlandskappe in die suidelike en sentrale dele van Peru plaasvind.

Die ren sal weer, soos in 2018, op 6 Januarie in die Peruaanse hoofstad Lima begin. ’n Seremoniële wegspring sal die begin van die 41ste weergawe van die Dakar-tydren amptelik inlui, hoewel die aksie eers op 7 Januarie begin wanneer Sneltrajek 1 die deelnemers na die kusdorp Pisco sal neem.

Van daar af sal die roete kuslangs kronkel voordat hulle binneland toe swenk vir Sneltrajekte 4 en 5, wat tot die rusdag in die stad Arequipa lei. Ná die rusdag word die roete basies omgekeer, en die byeenkoms eindig 17 Januarie terug in Lima.

Die organiseerders van die Dakar-veldtydren, die Amaury-sportvereniging (ASO), het belowe dat die 2019-Dakar 70% sand oor al tien sneltrajekte sal behels. Die algehele afstand wat die spanne sal aflê, sal sowat 5 000 km minder as in vorige jare wees. Daarvan sal 3 000 km egter sneltrajekte wees. Die verwagting is dat temperature gereeld 40 Celsius sal bereik, en die sagte sand sal dit een die uitdagendste Dakar-renne in die byeenkoms se 41-jarige geskiedenis maak.

 

2019-Dakar – belangrike datums:

 

04 – 06/01      Administratiewe en tegniese ondersoeke, Lima (Peru)

06/01              Wegspringpodium in Lima

07/01              Sneltrajek 1: Lima tot Pisco

08/01              Sneltrajek 2: Pisco tot San Juan de Marcona

09/01              Sneltrajek 3: San Juan de Marcona tot Arequipa

10/01              Sneltrajek 4: Arequipa tot Tacna (Marathonsneltrajek – weg)

11/01              Sneltrajek 5: Tacna tot Arequipa (Marathonsneltrajek – terug)

12/01              Rusdag

13/01              Sneltrajek 6: Arequipa – San Juan de Marcona

14/01              Sneltrajek 7: San Juan de Marcona tot San Juan de Marcona

15/01              Sneltrajek 8: San Juan de Marcona tot Pisco

16/01              Sneltrajek 9: Pisco tot Pisco

17/01              Sneltrajek 10: Pisco tot Lima

 

 

DAKAR 2019: VOLG AL DIE AKSIE SÓ

 

Om die Dakar-veldtydren te volg, is ’n lonende ervaring en maklik aangesien aanhangers op ’n verskeidenheid opwindende maniere deel van die aksie kan wees.

SuperSport sal elke aand die amptelike TV-program uitsaai (presiese tyd sal later bevestig word), terwyl ’n Toyota Gazoo Racing SA-spesifieke program elke aand voor die uitsending uitgesaai sal word.

Aanhangers kan ook die volgende gebruik:

motorsport.toyota.co.za       – Toyota SA Motors se amptelike motorsportwebblad sal al die jongste nuus sowel as videos en foto’s hê.

www.twitter.com (@toyotasa)         – Onophoudelike opdatering van die span se vordering deur die ren (sien lys hutsmerke onder).

www.facebook.com/toyotasouthafrica     – Daaglikse opdatering oor die span se vodering deur die ren.

 

Benewens hierdie webwerwe het die Dakar-ren ook sy eie toepassing vir iOS- en Android-toestelle, wat gratis by iTunes of Google Play afgelaai kan word.

 

Hutsmerke wat aanhangers kan gebruik sluit in:

#TeamHilux

#ToyotaGazooSA

#Dakar2019SA

 

Twitter-name sluit in:

@therealginiel          – Giniel de Villiers

@rallyedakar             – Dirk von Zitzewitz

@AlAttiyahN             – Nasser Al Attiyah

@matthieubaumel   – Matthieu Baumel

@b_tenbrinke           – Bernard ten Brinke

 

 

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Toyota geniet ’n gesamentlike voordelige vennootskap met Eurol, Toyota Finansiële Dienste en die Innovation-groep sowel as Hallspeed, Imperial Toyota, SKF, Spanjaard, OMP, NGK, Donaldson, Mastercraft, Edgecam, 3M, Bandit Signs, Shatterprufe, Supreme Springs, Smith’s Manufacturing, TRD, Peritus Forex, First National Battery, Duxbury Netgear, Lumotech en
Plan-C Productions.

 

 

%d bloggers like this: