• Drie Toyota Gazoo Racing SA-spanne in aksie

  • Wegspring Donderdag 4 Oktober 2018

Toyota Gazoo Racing SA het drie spanne vir die 2018-Tydren van Marokko, die voorlaaste ronde van die 2018-Wêreldbeker vir veldtydrenne, ingeskryf. Die opwindende vyfdaagse byeenkoms dien nie net as geleentheid vir die span om die nuutste weergawe van sy renbeproefde Toyota Hilux ter voorbereiding vir die 2019-Dakar-veldtydren behoorlik op die proef te stel nie, maar sal ook die twee nuwe navigators in die span die kans gee om hul renjaers beter te leer ken.

Hoewel Nasser Al Attiyah (Katar) saam met sy jare lange navigator, Mathieu Baumel (Frankryk), sal jaag, sal Giniel de Villiers (Suid-Afrika) en Bernhard ten Brinke (Nederland) twee nuwe navigators langs hulle in Marokko sowel as die Dakar-veldtydren hê.

De Villiers sal in Marokko saam met die Franse navigator Alex Winocq jaag, terwyl Tien Brinke ook ’n Fransman, Xavier Panseri, langs hom in die navigatorsitplek sal hê. Al twee nuwe navigators het voorheen al aan verskeie Dakar-byeenkomste deelgeneem en bring ’n magdom ervaring na die span.

Al drie spanne sal bykans identiese weergawes van die Klas FIA-Toyota Hilux as dié van De Villiers en Lategan in die Suid-Afrikaanse veldtydrenreeks, waar die meeste toetswerk en ontwikkeling gedoen is, beman. Marokko dien ook as agtergrond vir die span se finale voorbereiding vir die 2019-Dakar-ren, met ’n omvattende toetssessie in die woestyn naby Erfoud. Hoewel die jongste weergawe van die Toyota Hilux reeds omvattende toetsafstande in die hande van Giniel de Villiers en Henk Lategan in die Suid-Afrikaanse veldtydrenreeks (SACCS) agter die blad het, was die Marokkaanse toets die eerste geleentheid vir Al Attiyah en Ten Brinke om die motor te beproef.

“Ons doel met die toets in Marokko was om ’n paar finale toetse op ’n aantal komponente uit te voer, veringverstellings vir die Dakar-veldtydren te toets en die finale besonderhede vir elke individuele bemanning in te stel,” het Glyn Hall, spanhoof van die Toyota Gazoo Racing SA-span, van die beginpunt van die Tydren van Marokko in die stad Fes verduidelik. “Die terrein hier in Marokko is baie soortgelyk aan wat ons vroeg aanstaande jaar in Peru kan verwag, dus is toetswerk hier van onskatbare waarde vir ons Dakar-veldtog.”

Glynn Hall, die spanbestuurder van die Toyota Gazoo Renspan.

Op daardie gebied is die span nie net in Marokko vir toetsdoeleindes nie – hulle het ook ’n moordende ren om in mee te ding, en vanjaar se tydren van Marokko is ’n heeltemal nuwe monster. Die tydren het ’n trotse geskiedenis, wat tot 1982 terugdateer toe die eerste Parys-Agadir-byeenkoms plaasgevind het.

Hier veldtydren het die naam “Atlas-tydren” in 1983 gekry en van die grootste name in “rally raid” (veldtydrenne soos dit in Suid-Afrika genoem word) vir langer as ’n dekade gelok voordat dit aan die einde van die negentigs opgedroog het.

Toe kom die “wedergeboorte” van die byeenkoms in 2000, met ’n nuwe naam – die “Tydren van Marokko”. Die elite van die veldtydrenwêreld het weer na Noord-Afrika teruggekeer en die maatskappy NPO, wat die ren aanbied, het die ren aan die gang gehou totdat dit in 2007 aan Emma en Stephane Clair verkoop is.

Die byeenkoms het in 2017 weer van eienaar verwissel toe NPO die wedren aan ’n nuwe maatskappy, ODC, met die veldtydrenlegende David Castera aan die stuur van sake, verkoop het. Hoewel die ren steeds in Marokko plaasvind, het Castera en sy span ’n nuwe tydvak ingelui met wêreldklas-aanbieding en talle vernuwings in die roete en uitleg van die wedloop.

“Die Tydren van Marokko is ’n streng toets vir ons, maar dit stel ons ook in staat om ons verrigting teen die nuutste ontwikkeling van die MINI-veldtydrenvoertuie, wat hierdie week in die hande van Carlos Sainz en Cyril Despres sal wees, te meet. Een van die opwindendste vernuwings is dat die verskillende renafdelings elke dag verskillende roetes ry of dieselfde roete op verskillende tye van die dag volg,” sê Hall.

“Dit beteken dat die motors in stowwerige toestande nie motorfietse verby hoef te steek of agter groot vragmotors vasgekeer sit nie – iets wat wat veldtydrenne soms baie moeilik maak.”

Die Tydren van Marokko begin Donderdag 4 Oktober in Fes in die sentrale gebied van Marokko, waar die geleentheid ook op 9 Oktober eindig. Tussenin lê 689 km se ooppadgedeeltes en 1 362 km se sneltrajekte, wat die algehele afstand van die byeenkoms op 2 051 km te staan bring.

 

Die drie spanne wat Toyota Gazoo Racing SA in die Tydren van Marokko verteenwoordig, is:

Giniel de Villiers

RENJAER:                Giniel de Villiers (SUID-AFRIKA)

NAVIGATOR:            Alex Winocq (FRANKRYK)

Nasser Al Attiyah

RENJAER:                Nasser Al Attiyah (KATAR)

NAVIGATOR:            Mathieu Baumel (FRANKRYK)

Bernhard ten Brinke

RENJAER:                Bernhard ten Brinke (NEDERLAND)

NAVIGATOR:            Xavier Panseri (FRANKRYK)

 

Die 2018-Tydren van Marokko het die volgende tydrenne:

04 Oktober – Voorren: 10 km (Fes – Fes)

05 Oktober – Sneltrajek 1: 103 km & 91 km (Fes – Erfoud)

06 Oktober – Sneltrajek 2:  329 km (Erfoud – Erfoud)

07 Oktober – Sneltrajek 3: 289 km (Erfoud – Erfoud)

08 Oktober – Sneltrajek 4: 342 km (Erfoud – Erfoud)

09 Oktober – Sneltrajek 5: 128 km (Erfoud – Fes)

 

Volg die Toyota Gazoo Racing SA-renspan op www.toyota.co.za

Twitter: www.twitter.com/toyotasa

Facebook: www.facebook.com/toyotasouthafrica

Toyota geniet ’n gesamentlike voordelige vennootskap met Total, Toyota Finansiële Dienste en die Innovation-groep sowel as Hallspeed, Imperial Toyota, SKF, Spanjaard, OMP, NGK, Donaldson, Mastercraft, Edgecam, 3M, Bandit Signs, Shatterprufe, Supreme Springs, Smith’s Manufacturing, TRD, Peritus Forex, 4×4 Mega World, First National Battery, Duxbury Netgear en Plan-C Productions.

 

 

%d bloggers like this: