Toyota Gazoo Racing se 2020 Dakar-span bekend

0 Comments

Toyota Gazoo Racing het die span wat aan die 2020 Dakar-wedren gaan deelneem, bekendgemaak.

Dié wedren word in 2020 in Saoedi-Arabië gehou, en begin die 5de Januarie in die westelike stad Jeddah. Die Toyota Gazoo-span sal weer met die Hilux-bakkies wat in Suid-Afrika ontwikkel en vervaardig word, deelneem.

Die span het vir die eerste keer in 2012 aan die Dakar-wedren deelgeneem en in 2019 hul eerste oorwinning behaal. Die wenners van dié wedren, Nasser Al-Attiyah en Mathieu Baumel is een van vier spanne wat vir Toyota Gazoo Racing sal deelneem.  Benewens die Dakar het hulle veelvuldige oorwinnings in die FIA Wêreldbeker vir veldwerdenne behaal.

Die 2009 Dakar-wenner Giniel de Villiers se navigator sal Alex Bernhard wees. Hulle het vir die eerste keer saamgespan vir die Rally of Morocco wat hulle vroeër vandeesmaand gewen het. Giniel het hierdie wedren al drie keer tevore gewen. Bernhard ten Brinke het ook al die Rally of Morocco gewen, en word weer bygestaan deur Tom Colsoul, wat uit ‘n tydren-familie kom. Hy het al aan verskillende tydrenkategorieë deelgeneem en veral sukses met vragmotors behaal.

Fernando Alonso van Spanje.

Die vierde renjaer het geen bekendstelling nodig nie. Fernando Alonso was die Formule 1-wêreldkampioen in 2005 en 2006 en het tot twee jaar gelede nog vir die McLaren-span gejaag. Hy het ook al die Daytona- en Le Mans 24 uur-uithouwedrenne gewen. Sy deelname aan die Dakar-wedren is deel van sy strewe om ‘n meer veelsydige renjaer te word. Sy landgenoot, Marc Coma, het al ses FIM-veldrykampioenskappe gewen, en vyf keer die motorfietsafdeling van die Dakar-wedren gewen. Hulle het al meer as dubbeld soveel kilometers as wat hulle beplan het, in Europa, Afrika en die Midde-Ooste afgelê om vir die Dakar voor te berei; dit bewys dat hulle vasberade is om een van die moordendste wedrenne te bemeester.

Glyn Hall van Suid-Afrika is die spanbestuurder.

Die Hilux waarmee al vier hierdie spanne sal deelneem, is die jongste weergawe van die Hilux wat vir die eerste keer in 2018 vir die Dakar ontwikkel is. Glyn Hall, die spanbaas van Toyota Gazoo Racing, het die Hilux as ‘n groot tegnologiese stap vooruit beskou. Hierdie voertuig het homself daardie jaar al bewys deur tweede en derde te kom, terwyl hy in 2019 algeheel gewen het. Toyota Gazoo Racing glo in voortdurende verbetering, daarom is die nuwe model meer verfynd. Die nuwe Hilux is vir Dakar 2020 met onafhanklike vering, ‘n  vyfliterenjin sonder ‘n turboaanjaer wat agter die voorwiele gemonteer is en vierwielaandrywing toegerus.

Nadat die wedren in Jeddah begin het, gaan die jaers in ‘n noordelike rigting beweeg, voordat hulle in ‘n suid-oostelike rigting na die hoofstad Riaad vertrek. Dit is waar die tradisionele rusdag sal plaasvind. Die tweede helfte van die wedren sal deur Rub’ al Khali, die grootste aaneenlopende sandwoestyn ter wêreld, beweeg voordat dit op 17 Januarie in Al-Qiddya ten einde loop.

Categories:
%d bloggers like this: